Gertze skiet glo vrou
Henriette Lamprecht – Die uitvoerende hoof van die Namibiese Kwalifikasieowerheid (NQA) het die naweek agter tralies deurgebring nadat hy na bewering sy vrou Saterdag in die vroeë oggendure met ’n geweer geskiet het.
Die 55-jarige mnr. Franz Gertze, ’n oudonderwyser en pastoor, het glo verskeie skote op sy vrou, Annitha (29), in hul slaapkamer by hul huis in Scheppmannstraat, Pionierspark uitbreiding 1, afgevuur. Teen druktyd was haar toestand stabiel.
Volgens 'n Namibiese polisiewoordvoerder, hoofinspekteur Kauna Shikwambi, het die voorval omstreeks 00:30 Saterdag gebeur. Annitha is glo verskeie kere getref en in ’n ernstige toestand deur Gertze self na die Rooms-Katolieke Hospitaal in Windhoek geneem.
Volgens Shikwambi het Gertze gesê hy het inbrekers in die huis gehoor en gevolglik die skote met die 7.7 mm-geweer in die slaapkamer afgevuur. By nadere ondersoek kon die polisie egter geen teken van enige inbraak in die huis vind nie. Die geweer is wel in die huis gevind.
Volgens Shikwambi is ook ’n pistool in Gertze se motor gevind, terwyl die polisie op ’n selfdoodnota wat glo deur Gertze geskryf is, in die huis afgekom het.
Sy het voorts gesê sy weet nie hoeveel skote Gertze glo afgevuur en hoeveel daarvan Annitha getref het nie.
“Ek is nie seker of dit ses is nie, net ’n doktersverslag sal dit kan bevestig,” het sy gesê.
Volgens Shikwambi was Annitha teen druktyd gister “uit die teater en in ’n stabiele toestand”.
Gertze verskyn vandag in die hof op ’n klag van poging tot moord saamgelees met die wet op huishoudelike geweld, asook die nalatige afvuur van ’n vuurwapen.
Annitha is die eienaar van Bliss Escape Spa en die egpaar het twee jong kinders.
Gertze het op verskeie rade van die Namibiese Opleidingsowerheid (NTA), die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF), die Namibiese Instituut vir Openbare Administrasie en Bestuur (Nipam), asook die Nasionale Raad vir Hoër Onderrig (NCHE) gedien. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie