Gerugte van Chinese wapens bog
Die sosialemediaberigte oor Chinese militêre toerusting en troepe wat in die land aangekom het, is fopnuus.
Ronelle Rademeyer
Die foto’s en video's wat die afgelope dae op WhatsApp sirkuleer van vermeende Chinese pantsertuig wat by Walvisbaai aankom en stemnota’s waarin die verteller aanvoer groot getalle Chinese troepe word by Luiperdsvallei en Ramatex gehuisves, is bog.
Dié WhatsApp-boodskappe met bangmaakpraatjies is Maandagmiddag deur die ministerie van verdediging en veteranesake as fopnuus verwerp, terwyl die bekende Suid-Afrikaanse militêre ontleder, mnr. Helmoed Römer Heitman, uit Pretoria in Suid-Afrika lig gewerp het op die oorsprong van die militêre voertuie wat op vragmotors vanuit Walvisbaai vervoer is.
Uit 'n verslag deur 'n kubermisdaadondersoeker blyk dit regse groepe is agter die verspreiding daarvan omdat hulle agterdog teen die regering wil saai.
Volgens lt.kol. Petrus Shilumbu, hoof van openbare skakeling by dié ministerie, het dieselfde foto’s in Mei vanjaar op Twitter verskyn onder die opskrif “So the Chinese Army just rolled into Cape Town”.
Hy sê daar is nie “’n tikkie waarheid” in die bewering dat Chinese troepe met vier skepe by die Namibiese kus aangekom en na die binneland vervoer is nie.
Volgens hom het die Namibiese vloot geen Chinese vaartuie die afgelope dae langs die Namibiese kus opgemerk nie. Shilumbu verseker Namibiërs daar is geen Chinese troepe “in Erongo, Khomas, of enige ander streek in die land nie”.
Heitman, wat verskeie militêre boeke gepubliseer het en ’n korrespondent vir Jane’s Defense Weekly is, sê die pantsertuig en ander militêre voertuie op die foto’s en video's is toerusting wat die regering in Botswana vir die modernisering van dié buurland se weermag bestel het. Dit is van Westerse oorsprong en is nie in China vervaardig nie.
Volgens hom is die pantsertuig op die foto’s onder meer troepedraers, militêre vragmotors en lugafweertoerusting.
Die troepedraers, sê hy, staan bekend as Piranhas en word in Switserland vervaardig. Heitman sê Botswana het 45 daarvan bestel, terwyl dié tipe lugafweertoerusting op die foto’s in Frankryk vervaardig word.
Mnr. Andrew Fordred, ’n kubermisdaadondersoeker by Cynetio Cyber Security Solutions, sê in ’n verslag die insameling van inligting uit oopbron-intelligensie (OSINT) toon die oorsprong van dié fopnuus “is groepe met regsgesinde sentimente in Namibië".
Hy sê in sy verslag “hulle buit gebeure uit en verdraai feite só dat hulle die openbare mening manupileer en agterdog teen die regering en Swapo opbou”.
Hy sê hulle het die beweging van militêre wapentuig deur Namibië na Botswana, wat nie sy eie hawe het nie, só verdraai dat vreemdelinge haat teenoor Chinese burgers aangeblaas het.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie