Gerugte van reu00ebn
Gerugte van reu00ebn

Gerugte van reën

[email protected]
Andrew Poolman
Die krieke sing dat die biesies bewe van opgewondenheid in die Namib.

Dit is nou maar so dat wanneer dit reën, raak alles en is alles mos nat.

’n Paar druppels onverwagte reën neerslae op Walvisbaai het vir die woestynbewoners soos oudergewoonte in ’n nagmerrie ontaard.

Ek verstaan dit nie so mooi nie, want volgens my kennis is reën ’n natuurlike verskynsel. Kom sal hy kom!

Maar nou ja, hier by ons verander alles in ’n modderige gemors wanneer dié verskynsel die dag sy opwagting kom maak.

Vir die tentbewoners van Otweya was dit ’n dubbele dosis hartseer. Eers brand hul wonings af en toe verspoel hul tente.

Met die langstaande afwesigheid, of sal ons sê, die ontbreking van ’n dreineringstelsel op ons hawedorp “Water World”, het die paaie eensklaps in damme verander en is agterplase in swembaddens omskep.

By ’n woning in Narraville het een dame glo op ’n drywende matras in die huis wakker geskrik.

Sandsakke was in aanvraag, die waterpomplorries moes bontstaan en nou maak ons reg vir onderbrekings in watertoevoer te midde van al die reënwater rondom ons.

Wanneer sal ons dan ooit leer?

Met die aanvang van die tweede maand is die nuwe jaar ook nie meer so nuut nie.

Hulle sê jy moet die ou dinge in die verlede los, want dis glo waar dit hoort.

Ja nee, ons mik nou al klaar weer na die volgende Kersfees.

Ná maande is die skole weer oop. Vir hoe lank, weet net die hemelse vader of laat ek liewer sê die president en die dokter minister alleen.

Die nuwe normaal grens met mening aan die abnormale. Niks is verseker nie.

Op ’n vlakte in die wye woestyn so ’n paar honderd meter van my woning in Narraville, staan die verlate graf van Namibië se eerste coronavirusslagoffer.

Ek wonder wat gaan daarvan word? Daar was glo sprake dat hulle dalk ’n monument daar gaan orig. Iets wat ons almal sal herinner om maskers te dra en ten alle tye so ver as moontlik sosiaal te distansieer.

Vir my lyk dit buitendien ons land is van dié wat laaste in die lyn staan vir die corona-teenmiddel.

Bowenal is daar soveel “conspiracies” oor die kiemdoder wat die rondte doen dat dit my, en ek glo vele ander, net verder “confuse” en meer koorsagtig maak.

’n Ander ding wat uit 2020 oorgewaai het, is die “Visvrot” stank.

Die storm woed voort en die “Big Boss” ding wat nou sy kop uitgesteek het laat dink my aan die movie “Scarface” waarin Tony Montana (Al Pacino) se gierigheid uiteindelik die val van sy empire en sy eie ondergang teweeg gebring het.

Pas op! Die goed gebeur nie meer net in die movies nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer