Gesin skuil ure in berge
Gesin skuil ure in berge

Gesin skuil ure in berge

’n Zimbabwiese gesin moes ure lank wegkruip ná die gewelddadige besetting van hul plaas wat al 70 jaar in familiebesit is.
“Ons het alles verloor, maar ons gaan aanhou veg en gaan nie nou opgee nie,” het Daz Smart (39) Woensdagaand in Harare gesê.
Die Smart-familie, wat die plaas Lesbury in die Makoni-distrik (naby Mutare in die ooste van die land) besit, is die laaste paar maande in ’n hofstryd met biskop Trevor Manhanga om eienaarskap van die plaas gewikkel.
Die Zimbabwiese hooggeregshof gaan na verwagting vandag uitspraak lewer.
“Ons het Manhanga se bewerings dat die plaas onteien is, ondersoek en ons daarna na die hooggeregshof gewend,” het Smart gesê.
Manhanga is ’n sterk Zanu-PF-ondersteuner.
Volgens Smart het polisielede verlede Donderdag en Vrydag met skokgranate en traangas by die plaas opgedaag.
Hulle het toe glo die Smart-familie en sowat 300 werkers met geweld verjaag.
“Donderdag was nie so erg nie, maar swaargewapende polisielede het Vrydag weer toegeslaan. Ek het persoonlik gesien hou hulle ’n vrou erg aanrand.”
Smart, sy vrou, hul kinders van onderskeidelik vyf en ses jaar oud en sy 76-jarige ouers is genoodsaak om in die berge te gaan wegkruip totdat die situasie bedaar het.
“Ons het teruggekom en net verwoesting aangetref. Hulle het selfs my kinders se speelgoed gesteel en ek weet nou nie watter kant toe nie,” het Smart gesê.
Die gesin woon tans by vriende en is besig om in Harare by simpatieke ministers en politici om hulp aan te klop.
“Die plaas is 70 hektaar groot en ons was besig om mielies te plant wat vir voedingsprogramme geoormerk was.
“Die regering wil dus hê ons moet daar aanhou boer,” het Smart gesê.
Volgens hom is die plaas ook ’n erfenisterrein en is die plaaslike stam baie ongelukkig omdat vreemdelinge nou blykbaar hul stamgrond wil probeer oorvat.
“Ons is almal baie geskok en alles is heeltemal holderstebolder, maar ek is intussen besig om traumaberading vir my kinders te probeer reël,” het Smart gesê.
“Ons weet nie wat oor is nie. Daar is gelukkig sekere dinge wat ’n mens kan vervang, maar van my ouers se erfstukke wat al generasies in die familie is, is ook gesteel.
“Ons is ook baie bekommerd oor die sowat 300 werkers wat deur die polisie verwilder is. Sowat 40 van hulle skuil glo sedert verlede week in die koue in die bosse.”
Smart sê die mense wat op die plaas aangekom het, is gewapen met onder meer haelgewere en .303-gewere.
Hulle patrolleer nou die plaas. Volgens Smart het die “wagte” die plaas, insluitend die werkers se huise, onder slot en grendel. Hulle kon nie eens daar inkom om hul vermiste katte te soek nie.
Die besetters wou ook nie die dierebeskermingsvereniging toelaat om na die welstand van die sowat 300 hoenders op die plaas om te sien nie.
Volgens Smart steur die plaaslike polisie hulle nie aan die situasie nie en hoop hy die polisie in Harare sal bereid wees om in te gryp. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!