Geskei? Verander daai testament gou!
Geskei? Verander daai testament gou!

Geskei? Verander daai testament gou!

Hanlie Stadler – Jy het ’n testament en dit voldoen aan al die wetlike vereistes om geldig te wees. Jy het dus die eerste twee groot foute wat mense met testamente maak, vermy. Maar toe vergeet jy om jou testament by te werk ná ’n lewensveranderende gebeurtenis.
Jou testament is ‘oud’

Tegnies gesproke verval ’n testament nooit nie, maar hy kan wel herroep word.

Dis nie ’n wetlike vereiste dat ’n testament ’n datum boaan het nie, maar dit kan verwarring uitskakel wanneer meer as een testament ná jou dood opduik. Die laaste een sal meer slaankrag hê as daar ’n twis ontstaan.

Wanneer jy dus reeds ’n testament het, maar dinge in jou lewe heelwat verander het, moet jy ’n nuwe testament opstel en uitdruklik begin met die stelling dat dit jou nuutste testament is wat alle vorige testamente herroep.

Lees minstens elke drie jaar deur jou testament en besluit of dit nog jou wense en lewensomstandighede weerspieël. As iets groots in jou lewe verander, moet jy dadelik werk maak daarvan om jou testament te verander. Dit sluit in:

· Jy trou of betree ’n langtermynverhouding;

· Jy skei of beëindig ’n langtermynverhouding;

· Jy kry (nog) ’n kind of jy neem ’n kind aan;

· Een van jou erfgename word gestremd;

· Jou lewensmaat sterf;

· Enige van die erfgename in jou testament sterf;

· Jou eksekuteur sterf, word siek of emigreer;

· Jy erf geld of eiendom of wen die Lotto, wat beïnvloed wat jy self sal nalaat; of

· Jy koop eiendom of beleggings wat jy in jou testament wil spesifiseer, of jy verkoop eiendom of beleggings wat gespesifiseer is en dus nie meer nagelaat kan word nie.

Soos voorheen genoem, onthou dat jou lewensmaat in ’n saamblyverhouding nié outomaties van jou gaan erf nie. Maak dus seker jy verander jou testament selfs as jy nié trou nie.

Skakel verwarring só uit

Daar is baie maniere om te verseker geen twis ná jou dood ontstaan oor wat jou laaste testament is nie.

Eerstens moet jy met jou familie praat wanneer jy jou testament verander.

Dis iets wat jy dalk wil vermy juis om ’n twis vóór jou dood te voorkom, maar onthou: Jy het die reg om self te kies aan wie jy jou goed bemaak. Niemand het die reg om te erf nie en niemand mag jou dwing om hulle te laat erf nie.

Maak seker almal weet wie jou eksekuteur is en waar afskrifte van jou testament gebêre word. Jy kan soveel afskrifte maak en uitdeel as wat jy wil.

Bêre jou testament saam met belangrike dokumente soos inligting oor jou bankrekeninge, beleggings, aktes op eiendomme, polisse en so meer. Dis alles deel van ’n baie nuttige “lewenslêer” wat dinge vir jou naasbestaandes sal vergemaklik wanneer jy te sterwe kom.

Nog ’n manier om enige verwarring te voorkom oor of ’n testament wel jou laaste testament is, is om dit by dieselfde instansie te laat verander. Of dit nou jou bank of ’n prokureursfirma is, as jy elke testament op dieselfde plek laat opstel, skep jy sekerheid dat dit wel geloofwaardig is.

As jy nié jou testament verander nie

As een van jou erfgename sterf, maar jy verander nie jou testament nie, sal daardie erfgenaam se erfgename sy/haar erfporsie erf. Die erfporsie sal nie bloot wegval en onder jou en die res van jou eie erfgename verdeel word nie, tensy jou testament wel ’n alternatiewe erfgenaam vir elke erfgenaam aangewys het.

Dus, as jy iets aan jou kind nalaat, maar dié voor jou sterf, sal sy/haar erfgename ingevolge sy/haar testament erf. As sy/hy nie ’n testament gehad het nie, sal die erfporsie verdeel word ingevolge intestate opvolging.

As bates verkoop is wat jy in jou testament gespesifiseer het, en jy pas nie jou testament aan nie, kan dit eindelose probleme oplewer. Jy kan selfs iemand onterf sonder dat jy dit bedoel het.

Grasietydperk met egskeiding

As jy skei, moet jy binne drie maande jou testament verander. As jy in daardie drie maande sterf, sal die hof aanvaar jy het bloot nie kans gekry om jou testament te verander nie en jou eks sal nié erf nie, al is sy/hy in jou testament as erfgenaam aangewys.

As jy egter drie maande ná die egskeiding steeds nie jou testament verander het nie, sal die hof aanvaar jy wou nie. Jou eks sal dus erf soos in jou testament aangedui.

Soos voorheen genoem, onthou dat daar ’n verskil is tussen erf en die reg op onderhoud. As jou eks geregtig is op onderhoud, het sy/hy ’n eis teen jou boedel selfs indien sy/hy nie ’n erfgenaam is nie.

· Dié artikel is in leketaal geskryf en probeer nie al die wetlike fasette van testamente uitlig nie. Maak seker jy nader sowel ’n regskenner as ’n finansiële beplanner wanneer jy ’n testament opstel – en moenie uitstel nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!