Geskenke van oral in die wêreld

Tanja Bause
Tanja Bause



Die diereweeshuis Zuri wat buite Tsumeb geleë is, was twee jaar gelede in die nuus toe Gertie, 'n weesaardvark, daarheen geneem is.

Zuri is 'n paar jaar gelede deur die plaaslike veearts, dr. Erika de Jager, begin. Sy het gesien daar is baie beseerde diere wat hulp nodig het totdat hulle weer sterk genoeg is om na die natuur terug te keer.

Gertie is in November 2016 alleen in die veld gewaar en na Zuri geneem. Sy het blase aan haar pote gehad en haar vel was verbrand, sy was gedehidreer en in 'n slegte toestand. Sy het maar 4 kg geweeg en De Jager vermoed sy was baie lank sonder 'n ma in die veld.

De Jager het nuus oor Gertie op Zuri se Facebook-blad gelaai.

Dit was nie lank nie, of Zuri het 'n boks van Blankets for Baby Rhinos ontvang waarin 5 kg melk vir Gertie, asook gehekelde komberse en poppe was.

“Blankets for Baby Rhinos is 'n Suid-Afrikaanse organisasie wat renosters help. Mense van oral in die wêreld brei en hekel komberse en stuur dit daarheen. Dié ­komberse word dan weer na organisasies gestuur wat onder meer met babadiere werk,” het De Jager gesê.

De Jager het die poppe vir werkers se kinders gegee en 'n foto saam met 'n bedanking op Facebook gelaai. Een foto was van Sara en haar pop, Laurentia. Kort na die plasing van dié foto, kom daar 'n boodskap van me. Anne Larkin van Nieu-Seeland. “Ek het die pop gehekel wat jy vashou, en dit ses maande gelede in 'n boks gesit en nie geweet watter kind waar in die wêreld die pop sou kry nie. Tot ek jou foto met die pop gesien het. 'n Klein meisie in Afrika met die mooiste en grootste glimlag,” het die boodskap gelui.



ENGELSE POLISIEMAN

Vir Kersfees het Zuri nog 'n boks van Blankets for Baby Rhinos ontvang. “Dié keer was daar weer poppe en komberse wat as Kersgeskenke vir kinders bestem was. Ingesluit was 'n pop van 'n Engelse polisieman met 'n briefie aangeheg: 'Vir die seuntjie wat op Zuri bly'.”

Elke werker het 'n kombers ontvang en een het 'n ­gehekelde kombers na sy ouma in die ­Kavangostreek gestuur.

“Zuri is begin om na weesdiere en diere in nood om te sien, maar kinders en volwassenes het nou ook daarby gebaat,” het De Jager gesê.

Intussen hou Zuri aan sorg vir weesdiere, soos die twee gebande muishonde, Strepies en Gogga.

“Strepies is mak en wil net in 'n mens se arms lê. Gogga was mishandel en aan haar stert rondgeswaai. Sy was aanvanklik baie bang, maar sy is nou beter. Die twee is beste maatjies en slaap die hele dag en speel die hele nag,” het De Jager gesê.

Dan is daar die drie kleinkolmuskeljaatkatte en 'n babakat wat op sy eie op 'n skrootwerf gevind is. “Ek het gesê nie nog 'n kat nie, ek het genoeg. Toe maak ek die fout en maak die boks oop en kyk in groot blou ogies vas. Leo het nou 'n goeie huis en hy is een van die kleinkolmuskeljaatkatte, Zebbie, se beste maats.”

Me. Hannah Lötter is tans 'n vrywilliger by Zuri en is van plan om volgende jaar veeartsenykunde te gaan studeer.

“Dit is ongelooflik interessant om die diere te sien en te beleef,” het sy gesê.

Mense wat die gebeure op Zuri wil dophou, kan hulle op Facebook by “Zuri Orphanage” volg.

Dit was ook op Facebook wat De Jager verlede jaar die hartseer nuus moes deel dat Gertie dood is.

“Ongelukkig het Gertie nooit heeltemal herstel nie. Sy het nie in die veld rondgeloop nie en haar toestand het in Julie erg verswak. Haar situasie is vererger omdat ons nie die regte melk vir haar in die hande kon kry nie.

“Maar, ten spyte van hoe klein ons is, probeer ons elke dier help. Daar is baie wat ons nie kan help nie. Ek probeer ook om elke dag 'n foto op Facebook te laai omdat so baie mense oral in die wêreld ons volg, en Zuri en die diere hulle plesier gee.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!