Geslagsgeweld: Parlement se rol
Verskeie belanghebbende sprekers bespreek die kwessie van geslagsgeweld en geslagsgelykheid. Hulle fokus op die belang van beleid, begroting en dataversameling.
Kristien Kruger – Die Friedrich-Ebert-Stiftung het in samewerking met REGAIN TRUST onlangs ’n werkskool by die Avani Hotel in die hoofstad aangebied met fokus op die rol van beleidmakers vir vrouebemagtiging en pogings om geslagsgeweld te verminder.
Verskeie rolspelers was genooi om oor die uitdagings aangaande geslagsgelykheid, bemagtiging en geslagsgeweld in Namibië te praat.
Die sprekers sluit in die adjunkverteenwoordiger van Friedrich-Ebert-Stiftung, mnr. Patrick Schneider; die uitvoerende direkteur van REGAIN TRUST, mnr. James Itana; die verteenwoordiger van die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds (UNFPA), me. Dennia Gayle, ’n navorsingsassistent van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing, me. Rakkel Andreas, en die spesialis in geslagskwessies, mnr. Michall Conteh.
Schneider het die gesprek afgeskop deur te sê mense is geneig om te dink bemagtiging dui op ekonomiese bemagtiging, wat fokus op gelyke salarisse en besigheidsgeleenthede. Daar is egter ook die begrippe maatskaplike en politieke bemagtiging.
“Namibië en Suid-Afrika is die Afrika-lande met die meeste vroue in die parlement, maar is dit op sigself genoeg?” het Schneider gesê.
Gayle het verduidelik studies bewys dat vordering in geslagsgelykheid meestal gemeet word aan die persentasie vroue in die parlement en die getalle meisies wat in skole en universiteite geregistreer is. In terme hiervan is Namibië op ’n goeie koers, maar volgens Gayle verteenwoordig dit nie die werklikheid nie.
“Daar is steeds vroue wat uit universiteite kom en sukkel om werk te kry, of wat onregverdig hanteer word. Daar is steeds meisies wat skool moet verlaat as gevolg van swangerskap. Hierdie getalle verteenwoordig nie die volle prentjie nie,” het Gayle gesê.
BEGROTING
Gayle en Itana beklemtoon die belang van navorsing en dataversameling. Volgens Gayle kan data begrip kweek en gebruik word as motivering vir beleidvorming en begroting.
“As jy wil weet waar lê prioriteite, kyk na die land se begroting,” meen Conteh.
Itana het verduidelik: “Dit is soos enige ander nasionale krisis. Neem byvoorbeeld die droogte. Die parlement het besef daar is ’n probleem en hulpbronne is beskikbaar gemaak. Die besluitnemers moet verstaan dat geslagsgeweld en geslagsgelykheid ook ernstige probleme is.”
Conteh het in sy toespraak verduidelik wat onder “Gender Responsive Budgeting”verstaan kan word.
“Dit is nie regverdig om vir almal dieselfde bedrag geld te gee nie. Responsiewe begroting verwys na geslagsbillike verdeling van hulpbronne en die kweek van gelyke geleenthede vir vroue én mans,” het Conteh gesê.
Gayle het uitgewys dat dit politieke dapperheid van parlementslede sal verg om beleid te rekonstrueer. Andreas meen dit is die vroue in die parlement se plig om tydens alle gesprekke en besluitneming die kwessies van geslagsgelykheid uit te wys.
Conteh sê Covid-19 is ’n wêreldwye pandemie, maar daar moet ook gekyk word na hoe dit geslagsgeweld en geslagsgelykheid beïnvloed.
Volgens Andreas het ’n studie in die Namibiese parlement bewys dat vroulike lede minder spreekbeurte kry en nie geslagskwessies opper nie, maar mense moet verstaan hoe dit in die parlement werk.
“Nie net enige iemand word aan die woord gestel nie. Lede word geleentheid gegee om iets te sê. Die vraag is dus, waarom kry die vroue nie geleentheid nie? Dít is wat moet verander,” het Andreas gesê.
Me. Margaret Mensah-Williams, wat al 23 jaar as parlementslid dien, reken meer mans moet in geslagsake betrokke raak sodat alle ministeries kan saamwerk. Volgens haar is dit nie net die werk van die vroue in die parlement nie, maar iets waarby almal behoort betrokke te wees.
“Die ministeries kan nie in afsondering funksioneer nie. Elke ministerie moet saamwerk om geslagsgelykheid in die land te bevorder,” het Mensah-Williams gesê.
KULTURELE OORTUIGINGS
Volgens Itana is daar vele skadelike kulture en geloofsoortuigings wat ook tot geslagsgeweld bydra.
“In talle gemeenskappe is dit reeds genormaliseer dat mans meer mag as vroue het. Dit is die norm dat mans die besluitnemers is en vroue moet onderdanig wees. In sulke gemeenskappe word vroue gewoonlik onregverdig hanteer en wanneer hulle hulself en ander begin bemagtig, word geweld gebruik om mans se mag te versterk,” het Itana gesê.
Mensah-Williams meen die probleem kan opgelos word deur landswette aan te pas om tot ’n mate voorsiening te maak vir kulturele wette en sodoende nie die wet op hulle af te dwing nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie