Geslagsgeweld: Staat kap vonnis
Geslagsgeweld: Staat kap vonnis

Geslagsgeweld: Staat kap vonnis

Meer as die helfte van vermoorde vroue sterf aan die hand van dié wat die naaste aan hulle is.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith



Die aanklaer-generaal se kantoor het die landdroshof se besluit hewig gekritiseer om 'n man wat aan poging tot moord op sy vrou skuldig bevind is, geen tronkstraf op te lê nie.

Die skuldige het erken hy het sy vrou uit jaloesie verskeie kere met 'n mes gesteek.

“Ek het my vrou met 'n mes gesteek. Ek het haar byna doodgesteek,” het mnr. Xavier Dentlinger verlede jaar aan landdros Vanessa Stanley in Windhoek gesê.

Hy het verwys na 'n stryery met sy vrou in Januarie 2018 wat gewelddadig geraak het.

Dentlinger het gesê hy het haar aangeval en drie keer in die rug gesteek “omdat sy my kwaad gemaak het”.

“Sy was ontrou,” het hy gesê.

In Maart 2019 het hy skuldig gepleit op 'n klag van poging tot moord, met die bepalings van die wet op die bekamping van gesinsgeweld gelees.

Stanley het 'n opgeskorte vonnis van ses maande opgelê op voorwaarde dat Dentlinger hom nie binne die volgende vyf maande aan 'n soortgelyke misdaad skuldig maak nie.

Dié vonnis het beteken hy kon ná net meer as 'n jaar dadelik uit die tronk vrygelaat word.

Dít nadat hy tydens die verhoor borgtog geweier is.



'Bespotting van die gereg'

Vandeesweek het waarnemende ­hoërhofregter Kobus Miller toestemming aan staatsadvokaat Antonia Verhoef, adjunk-aanklaer-generaal, verleen om appèl teen die vonnis aan te teken.

In dokumente wat Verhoef by die hoërhof ingedien het, het sy Stanley se vonnis beskryf as “só uiters ontoepaslik onder die omstandighede dat dit lyk of die misdaad 'n beusel­agtigheid is”.

Die advokaat beskryf die vonnis as “so toegeeflik dat dit skokwekkend is”, en het gesê dit kom op 'n “totale bespotting van geregtigheid” neer.

Sy het die wreedheid van die misdaad en die voortdurende voorkoms van huishoudelike geweld in Namibië beklemtoon.

Volgens Verhoef moet 'n gepaste tronkstraf die belange van die samelewing weerspieël, en sy het gewaarsku Stanley se vonnis kan “die gemeenskap so 'n vonnis en die toepassing van geregtigheid laat aflag en bespot”.

In sy beslissing dié week het Miller gesê hy gun die staat die geleentheid om die kwessie appèlhof toe te neem, omdat hy dink “daar is 'n redelike kans dat die appèlhof by die vonnis kan inmeng”.

Volgens hofrekords het Stanley tydens vonnisoplegging gesê hoewel die misdaad baie ernstig is en in 'n huishoudelike omgewing gepleeg is waar 'n man veronderstel is om sy vrou te beskerm, het Dentlinger opregte berou getoon.

Sy het bygevoeg die jaar wat hy agter tralies deurgebring het, is ingereken by haar besluit om die vonnis op te skort.

Dentlinger het homself tydens die hofsaak verteenwoordig en het die hof om genade en vergifnis gevra.

“Wat ek aan my vrou gedoen het, was verkeerd. Ek het in daardie stadium dwelms gebruik,” het hy gesê.

Hy het verder gesê sy jaar in aanhouding was voordelig omdat dit sy geloof versterk het.

Hy het gesê hy is steeds volgens wet getroud, maar is besig om te skei.

Die staat het vir twee jaar se gevangenisstraf gevra en bygevoeg die slagoffer het hom gelyk gegee tronkstraf is geregverdig.



Onveilig tuis

Volgens navorsing van die Verenigde Nasies se Kantoor vir Dwelms en Misdaad (Undoc) in 2018 is die huis steeds die gevaarlikste plek vir vroue oraloor die wêreld.

Dié navorsing het bevind 58% van die 87 000 vroue wat in 2017 vermoor is, het aan die hand van intieme lewensmaats of familielede gesterf.

Afrika en die Amerikas is as omgewings uitgelig waar vroue die grootste risiko loop om tuis deur intieme maats of familielede vermoor te word.

Die gevolgtrekking was daar is 'n dringende behoefte aan “doeltreffende misdaadvoorkoming en strafregtelike reaksie op geweld teen vroue, wat die slagoffer se veiligheid en bemagtiging bevorder en die oortreder se aanspreeklikheid verseker”.

Polisie en die regstelsel, sowel as gesondheids- en maatskaplike dienste, is versoek om kragte saam te span en mans ook by oplossings te betrek.

Die 2013 Namibiese Demografiese en Gesondheidsopname het aan die lig gebring 'n derde van die totale aantal getroude vroue in die land is al deur hul mans of lewensmaats mishandel, verkrag of emosioneel mishandel.

Van dié vroue het 15% nog nooit hulp gesoek of iemand van hul ervarings vertel nie.

Verdere bevindings toon 28% van vroue en 22% van mans tussen 15 en 49 jaar oud vind dit aanvaarbaar dat 'n man sy vrou slaan om haar te “dissiplineer”. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!