Gesmokkelde riviervis gekonfiskeer
Die stropery van riviervisse in die Zambezi-, Kwando- en Kavangorivier is 'n voortslepende probleem.
Elvira Hattingh
Ondersoeke deur die Namibiese polisie se spesiale veldmagte het opnuut die plundering van vis deur Zambiërs en Kongolese in die Zambezistreek ontbloot.
Dit volg nadat droë vis onderskep is wat onlangs glo onwettig in die Zambezistreek gevang is en toe na Zambië gesmokkel moes word, waarna dit ten duurste in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) verkoop word.
Lt.genl. Sebastian Ndeitunga, die inspekteur-generaal, het dié voorval onlangs aan Namibian Sun, Republikein se susterkoerant bevestig.
Die stropery van visse in dié gebied is 'n voortslepende probleem, met navorsing wat reeds getoon het dat visgetalle in die Zambezi-, Kwando- en Kavangorivier erg geraak word en Namibië se visbronne in riviere gevolglik in 'n krisis verkeer.
Volgens die navorsing is die oorsake hiervan die vang van vis met monofilament- en sleepnette, 'n gebrek aan kapasiteit om die 4 000 km² van die riviere te polisieer en die ontwikkeling van 'n winsgewende uitvoermark in die DRK.
Die gebiede ervaar glo 'n sterk toevloei van migrerende vissermanne, van wie sommige deur sakemanne in die DRK betaal word om namens hulle vis te vang en uit te voer. Hierdie vissermanne is nie net buitelanders nie, maar ook Namibiërs.
Plaaslike polisiëringsinisiatiewe probeer om 'n verskil te maak.
Sikunga-hengelwagte het byvoorbeeld tussen 20 Junie en 20 Augustus vanjaar 283 onwettige visnette uit die Zambezirivier verwyder. Die nette is altesaam sowat 56,6 km lank.
Vyf persone is ook in verband hiermee in hegtenis geneem en sewe bote (makoro's) is gekonfiskeer.
Dié wagte patrolleer die Sikunga-bewaringsgebied van sowat 12 km lank, wat op die Zambezirivier gestig is om 'n beskermde gebied vir plaaslike toerisme te skep.
Gebiede soos die Sikunga en Kasaya is vlak waterkanale van die Zambezirivier waar visse op sekere tye van die jaar broei. Dit is dus belangrike ekologiese gebiede om visbevolkings in die hoofrivier aan te vul.
Die Sikunga-bewaringsprojek geniet die steun van die Sikunga Bewaringsgebied, die Masubia Tradisionele Owerheid en verskeie toerismeondernemings.
Die gratis verspreiding van muskietnette teen malaria word as een van die grootste uitdagings in die stryd teen visstropery beskou.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie