Gesondheid op jou selfoon
Gesondheid op jou selfoon

Gesondheid op jou selfoon

Die benutting van digitale tegnologie is noodsaaklik om universele gesondheidsdekking ’n werklikheid te maak.
Henriette Lamprecht
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) het ’n gids van 10 nuwe maniere uitgereik waarop lande digitale gesondheidstegnologie op selfone, tablette en rekenaars kan gebruik om mense se gesondheid, asook noodsaaklike dienste kan verbeter.

“Die krag van tegnologie moet benut word om universele gesondheidsdekking ’n werklikheid te maak,” sê die WHO se direkteur-generaal, dr. Tedros Ghebreyesus.

“Uiteindelik is digitale tegnologie nie die einddoel nie, maar ‘n instrument om gesondheid te bevorder, die wêreld veilig te hou en die weerloses te dien,” sê Ghebreyesus.

Die afgelope twee jaar het die WHO inligting oor digitale tegnologie ontleed en by kenners wêreldwyd aangeklop vir voorstelle om dit aan te wend om die grootste impak op gesondheidstelsels en mense se gesondheid te maak.

Een digitale instrument wat reeds positiewe uitslae in sekere gebiede gelewer het, is die stuur van aanmanings aan swanger vroue om voorgeboortelike afsprake na te kom en hul kinders vir inentings te neem.

Ander digitale toepassings sluit instrumente in wat gesondheidswerkers in hul taak lei.

Dit stel hulle in staat om gesondheidskwessies van verskillende plekke af te kan bespreek.

“Die gebruik van digitale tegnologie bied nuwe geleenthede om mense se gesondheid te verbeter,” sê dr. Soumya Swaminathan, die WHO se hoofwetenskaplike.

“Daar is egter ook uitdagings met sommige van die instrumente,” sê Swaminathan.

“As digitale tegnologieë volhoubaar gebruik word en in die gesondheidstelsel geïntegreer word, moet dit verbeterings op die lange duur toon.”

As voorbeeld word verwys na die moontlikheid om voorraadbestuur te verbeter.

Digitale tegnologie kan gesondheidswerkers in staat stel om meer doeltreffend oor die status van voorraad, asook tekorte in voorraad te kommunikeer.

Tog is ‘n blote boodskap nie genoeg om die bestuur van voorraad te verbeter nie en moet gesondheidstelsels ook reageer en betyds optree om voorraad te herstel.

“Digitale ingryping steun swaar op konteks en toepaslike ontwerp,” sê dr. Garrett Mehl, ‘n wetenskaplike wat op digitale vernuwing en navorsing fokus.

“Dit sluit in kwessies oor waar dit gebruik word, watter gesondheidsbehoeftes dit probeer aanspreek en hoe maklik die gebruik van die tegnologie self is,” sê hy.

Die WHO sê digitale ingrypings alleen is nie voldoende nie.

Volgens riglyne wat die organisasie uitgereik het moet gesondheidstelsels by die toenemende sigbaarheid en beskikbaarheid van inligting aanpas.

Mense moet ook verseker word hul persoonlike data is veilig en dat daar nie risiko’s aan toegang tot sensitiewe gesondheidsonderwerpe soos seksuele en reproduktiewe gesondheidskwessies is nie.

Gesondheidswerkers het ook voldoende opleiding nodig om aangemoedig te word om tegnologie te gebruik.

“Die WHO wil verseker dit word so doeltreffend moontlik gebruik. Dit beteken waarde word toegevoeg tot gesondheidswerkers en individue wat die betrokke tegnologieë gebruik. Dit neem ook beperkings op infrastruktuur in ag,” sê mnr. Bernardo Mariano, die WHO se hoofinligtingsbeampte.

Regerings het in 2018 eenparig ‘n resolusie van die Wêreldgesondheidsvergadering aanvaar wat ‘n beroep op die WHO gedoen het om ‘n wêreldwye strategie vir digitale gesondheid te ontwikkel om universele gesondheidsdekking ’n werklikheid te maak.

Die afgelope paar jaar het die WHO ‘n aantal hulpbronne beskikbaar gestel om digitale gesondheidsnavorsing en –implementering te bevorder.

Dit sluit die mHealth Assessment and Planning for Scale (MAPS)-gids, ‘n handboek vir die monitering en evaluering van digitale gesondheid, in.

Kommentaar

Republikein 2025-04-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer