Gesondheid uit die grond uit
Humulus Horticulture oor vars produkte
Tuinbouers Dirk en Belinda Wolbing het vanjaar eie inisiatief aan die dag gelê om die droogtesituasie te oorleef en terselfdertyd hul grond se gehalte te verbeter. Dit behels dat minder groente en meer lusern geplant word, waarvan laasgenoemde met rioolwater natgemaak word.
Humulus Horticulture CC is net buite Okahandja oorkant die dorp se rioolwateraanleg geleë, waarvandaan die Wolbings water na hul eie gronddam kan oorpomp.
Die water staan ’n rukkie in die gronddam om van die meeste onsuiwerhede ontslae te raak en om enige risiko verbonde aan die semi-gesuiwerde water uit te sluit, waarna mnr. Dirk Wolbing dit gebruik om sy lusern nat te maak.
“Ek sou nie die droogte kon oorleef as dit nie vir hierdie alternatief was nie. Lusern is redelik waterintensief en jy moet ’n waterbron hê waarvoor jy nie met ander sal moet kompeteer nie. Dit is veral belangrik in tye soos nou wanneer water skaars is. Dit neem 20 m³ water om uiteindelik een baal lusern te kan lewer,” sê hy.
Die droogte het Wolbing genoop om sy groenteproduksie af te skaal en meer lusern te plant. Die voordeel van lusern is dat dit die organiese materiaal in die grond verbeter. Dit word vir tot vyf jaar lank op die land gelaat om voedingstowwe terug in die grond te plaas.
Wolbing het reeds die rioolwater getoets nadat dit ’n ruk lank in sy gronddam gestaan het en die gehalte daarvan is baie goed.
“Ek boer sedert 2006 volgens organiese beginsels. Ek is ook een van die stigterslede van die Namibiese Organiese Vereniging (NOA).”
Die gebruik van rioolwater op die lusern, het egter daartoe gelei dat hy tot dusver nie organiese status vir sy kleinhoewe kon kry nie.
Vir hom is organiese boerderypraktyke ’n manier om die Here te dien. “Hy het vir ons alles gegee en ons moet daarna kyk. Ons hoef nie duur en energieryke goed te koop om in die grond te plaas nie, maar moet eerder gebruik wat die Here ons gegee het. Die vrugbaarheid in jou grond moet uit die natuur kom en nie uit die kunsmissak nie,” sê Wolbing.
“Voorheen het die vereniging vereis dat die verbouing van organiese groenbemesting soos lusern, slegs met drinkwater kan geskied. Dit het intussen verander – ons werk tans aan dié regulasies en hopelik sal ek ook binnekort organiese status kan kry,” het Wolbing gesê.
Al sy vars produkte word met vars, skoon water uit sy boorgate natgemaak. Die boorgate word deur die Okahandjarivier gevoed en hoewel die rivier in 2010 laas geloop het, het die boorgate steeds water. “Ons behoort vanjaar met die beskikbare water deur te kom,” het Wolbing gesê.
Groente is tans op sowat 2 ha geplant. Wolbing produseer dikwels onder meer wortels, beet asook ander spesialiteite soos slaai, aspersies en aarbeie.
“Die idee is om meer verskillende produkte op markte te kan aanbied. Tans het ek slaaie, kruie, boontjies en spinasie in die grond,” sê hy.
Die Wolbings plant ’n verskeidenheid van groentes om met wisselbou te help. Dit is een van die kernbeginsels van organiese landbou.
“Ons plant aspersies wat vanaf begin September, as dit begin warmer word, beskikbaar is tot om en by Paasnaweek, wanneer die oestyd en die seisoen vir aspersies verby is. Dit is belangrik om jou aspersies vir ’n tydperk toe te laat om blare te vorm, sodat dit weer krag in die wortels kan plaas.”
Die Wolbings kweek ook aarbeie. “Ek weet nie eintlik of aarbeie altyd so betalend is nie, want dit vereis dat jy dit heeljaar moet natlei en net drie tot vier maande van die jaar kan oes. Jou opbrengs is hoog, alhoewel die klimaat dikwels problematies vir die aarbeie is.”
Wolbing sê nog ’n probleem met aarbeie is dat blomvorming net voorkom as dit koud genoeg is. “As die winter nie koud genoeg is nie, het jy dus baie minder aarbeie. “Verskeie mense ‘probeer’ om met aarbeie te boer, ek byt egter vas,” sê hy.
Humulus Horticulture lewer hoofsaaklik vars produkte aan plaaslike handelaars en restaurante en doen ook sy eie bemarking. Hulle is Saterdae tussen 08:30 tot 12:00 by die Biomark in Uhlandstraat in Windhoek te sien en verkoop elke Vrydagnamiddag produkte van hul kleinhoewe aan die gemeenskap. Van sy produkte word ook deur ander partye by die Boeremark in Windhoek verkoop.
Waar kom sy liefde vir boerdery vandaan?
“Dit kom uit my kinderdae, toe my ouers by Waterberg met beeste geboer het. Ek het landbou in Duitsland gestudeer, maar toe daar vir vier jaar lank op tuinbouplase gewerk en baie geleer.”
Wolbing het in 2006 die kleinhoewe naby Okahandja gekoop en in 2014 die aangrensende kleinhoewe ook aangeskaf.
“As jy ’n groenteboer wil wees, moet jy kan vasbyt, oop wees vir nuwe idees en nie na net een jaar handdoek ingooi nie. Die eerste vyf jaar moet jy daarop fokus om jou grond se biomassa te verbeter. As jy organies wil boer, sal dit moontlik nog meer jare vereis om jou grond in ’n goeie toestand te kry.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie