Gesondheidsgeriewe sonder water
Baie gesondheidsdiensverskaffers het nie geriewe vir die veilige afsondering en verwydering van mediese afval nie.
Henriette Lamprecht - Een uit elke vier gesondheidsgeriewe oraloor die wêreld het nie voldoende basiese waterdienste nie.
Dít raak meer as twee miljard mense wêreldwyd.
Volgens ‘n verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) en die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) se gesamentlike moniteringsprogram vir watervoorsiening, sanitasie en higiëne (WASH), het een uit elke vyf gesondheidsgeriewe ook nie voldoende sanitasiedienste nie.
Dié gebrek raak 1,5 miljard mense.
Volgens die verslag het baie gesondheidsinstellings nie eers basiese geriewe om hande te was of om mediese afval veilig af te sonder en te verwyder nie.
Dié dienste is noodsaaklik om infeksies te voorkom, die verspreiding van antimikrobiese weerstand te verminder en om gehalte versorging veral vir veilige geboortes te voorsien.
“Water, sanitasie en dienste om higiëne in gesondheidsgeriewe te bevorder, is die mees basiese vereistes om infeksie te voorkom en te beheer en ook vir gehalte versorging. Dit is die grondslag vir die waardigheid en regte van almal wat gesondheidsorg benodig, en van die gesondheidswerkers wat dienste verskaf,” sê mnr. António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN).
Slegs die helfte (sowat 55%) van gesondheidsgeriewe in onderontwikkelde lande het toegang tot basiese waterdienste.
Na raming vind een uit vyf geboortes wêreldwyd jaarliks in dié lande plaas en jaarliks skenk 17 miljoen vroue hier geboorte in sentrums met onvoldoende water, sanitasie en higiëne.
Unicef se uitvoerende direkteur, me. Henrietta Fore, waarsku in die verslag oor die risiko van infeksie en sterfte vir dié ma’s en babas.
“Elke geboorte moet deur ‘n veilige paar hande, gewas met seep en water en die gebruik van steriele toerusting in ‘n skoon omgewing ondersteun word,” het Fore gesê.
Die verslag sê meer as ‘n miljoen sterftes jaarliks hou verband met onhigiëniese geboortes en infeksies, wat vir 26% van neonatale sterftes en 11% van dié van swanger vroue verantwoordelik is.
“Stel jou voor jy skenk geboorte of vat jou siek kind na ‘n gesondheidsentrum met geen skoon water, toilette of geriewe waar jy jou hande kan was nie. Dit is die daaglikse werklikheid van miljoene mense. Geen gesondheidswerker moet in sulke omstandighede versorging bied nie,” het die WHO se direkteur-generaal, dr. Tedros Ghebreyesus, gesê.
Volgens Unicef het 7 000 pasgebore babas daagliks in 2017 gesterf weens voorkombare en behandelbare toestande, wat infeksies soos sepsis insluit.
Sepsis by swanger vroue is volgens die verslag twee keer so hoog in lae- en middelinkomstelande as wat dit in hoë-inkomstelande is. Ook het dubbel soveel gesondheidsgeriewe in lae- en middelinkomstelande geen toegang tot water nie.
In Afrika suid van die Sahara het een uit elke vier gesondheidsgeriewe geen water nie, terwyl in die grootste deel van Asië dié koers een uit tien geriewe is.
In Afrika suid van die Sahara het een uit drie geriewe ook geen sanitasiegeriewe nie.
Oraloor die wêreld is dienste vir water, sanitasie en higiëne ook ver onder die WHO- en nasionale standaarde.
Sanitasiedienste met voorsiening vir vroue en jong meisies wat menstrueer, sowel as vir mense wat met gestremdhede leef, kom weinig voor.
Handewasgeriewe en die bestuur van afval is nog skaarser.
Van die WHO en Unicef se doelwitte is nou volgens die verslag om te verseker dat 60% van alle gesondheidsgeriewe in die wêreld teen 2022 ten minste basiese geriewe vir sanitasie, water en higiëne het.
Voorkeur moet aan geriewe verleen word waar geboortes plaasvind.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie