Gesprekke oor bewaring

Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - ’n Nuwe projek skyn die soeklig op hoe die mensdom moet aanpas om die kosbare planeet te koester en te beskerm.
Dit alles deur die skep van landkuns - intens visuele prikkels, letterlik kuns wat in die landskap aangebring word.
Die projek is die inisiatief van die John Muafangejo-kunssentrum, rolprentmaker Linda de Jager van Endgame Media Namibia, in samewerking met die internasionaal bekroonde landkunstenaar, Strijdom van der Merwe.
Die John Muafangejo-kunssentrum (JMAC) bou hiermee voort op die tradisie van die groot kunstenaar Muafangejo se nalatenskap. En kuns word letterlik vir aktivisme aangewend.
“As kreatiewe dinkskrum is JMAC geïnteresseerd om met ontluikende kuns­tenaars te werk en om nuwe tydgenote te aktiveer. Ons voorsien dat hierdie besondere projek ’n langtermyninisiatief sal wees met die potensiaal om dialoog oor landkuns moontlik te maak,” sê mnr. Jacques Mushaanda, projekbestuurder by JMAC.
Die Goethe-instituut in Windhoek was op 18 Junie die tuiste van die eerste gesprekke in die Conversations about Conservation-projek se reeks aanbiedinge.

’n RELEVANTE GESPREK
Tydens dié geleentheid het die bekroonde wetenskapskrywer, Leonie Joubert, wat reeds vier boeke oor aardverwarming die lig laat sien het, ’n oorsig gegee oor hoe klimaatverandering in Namibië mense se daaglikse werklikhede sal beïnvloed.
Joubert se voorlegging het ’n onbetwiste boodskap tuisgebring, naamlik: “Namibiërs moet beplan vir ’n toekoms wat warmer, droër en meer geneigd tot omgewingskokke sal wees.”
Van der Merwe se Namibiese landkunsprojek sluit by hierdie tema aan. Sy voorlegging Saterdag het ’n oorsig oor die oorsprong en geskiedenis van landkuns gebied.
De Jager, ’n boorling van Walvisbaai wat nou in Johannesburg woon, het Van der Merwe genooi om in samewerking met die Theile-familie van die Namtib Bio­sphere-reservaat in die Tirasberge, landkuns met water as tema te kom skep.
Sy het ook vanjaar die eerste Namibiese animasiefliek vir bewaring,/Gasa, die lig laat sien om bewusmaking van stroping en die onwettige handel in wildleweprodukte te skep.
“Toe Linda my nooi om Namibië toe te kom, was dit vir my ’n gulde geleentheid. Hoewel ek reeds oral in die wêreld in asemrowende landskappe landkuns aangebring het, bly die Namibiese land­skappe een van die betowerendste omgewings om in te werk,” was Van der Merwe se kommentaar.
Hy het vandeesmaand in die natuur begin werk en die eerste tydelike kunswerke met water as tema die lig laat sien.
Hy sê die gebruik van landskap in die kunste om ’n boodskap oor te dra of bewusmaking te kweek, is niks nuuts nie. “Natuurlik bevat my werk estetiese elemente soos met die huidige projek in Namibië. ‘Wat probeer jy nou eintlik sê met jou werk,’ is egter dikwels die vraag wat mense vra?”
In baie van Van der Merwe se werke gebruik hy die natuurlike elemente soos mens dit in die landskap aantref om sy kuns te skep. Hierdie elemente rangskik hy dan in geometriese patrone, of wat ook al die behoefte van die doel of skeppingsproses in daardie stadium is.

VAN WASHINGTON TOT NAMIBIË
In 2013-’14 is hy deur die Smithsonian Instituut in Washington genooi om ’n kunswerk van ongeveer 100 m x 10 m voor die Museum van Afrikakuns te maak. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die Smithsonian is ’n kunstenaar toegelaat om die landskap te hervorm met ’n kunswerk met die tema:Land as Material and Metaphor in the Arts of Africa. Dit was ook die titel vir die jaarlange uitstalling wat by dié museun aangebied is.
Namtib het verlede week reeds as skilderdoek gedien vir ’n paar werke toe hy as kunstenaar die sand gebruik het om ’n rivier van skaduwees te teken. “Soos skaduwees wat juis nie permanent is nie, is die uitgebeelde rivier of waterdruppels ’n refleksie op die werklikheid, ’n behoefte dat dit manifesteer,” sê hy (sien foto’s).
Conversations about Conservationprobeer om deur middel van die bewusmakingsproses ’n groot, permanente kunswerk in die landskap te vestig wat terselfdertyd ’n toeristebesienswaardigheid kan word.
JMAC beplan om kunstenaars van alle kulture by die projek te betrek en vaardighede te ruil met van die Suid-Afrikaanse kunstenaars betrokke.
Saterdag se afskop het reeds ’n praktiese sessie met Namibiese kunstenaars ingesluit. Van der Merwe meen dat landkuns nie net gaan oor die skep van ’n kunswerk in die natuur nie, maar ook oor jou eie reaksies en waardering vir die natuur soos jy werk.
Joubert glo op haar beurt dat die uitdagings van omgewingskwessies só groot is dat mense van alle dissiplines moet begin saamwerk, hetsy die wetenskap of kuns om inligting oor te dra en oorlewingstrategieë uit te werk.

BEPLANDE GEOGLIEF IN DIE ­AUS-LANDSKAP
Dr. Telani Greyling, wat bekend is vir haar passievolle werk met die Aus-omgewing se wilde perde, is die omgewingsraadgewer van die projek om seker te maak dat die kunswerke nie ’n negatiewe merk op die landskap laat nie.
Dis juis in dié omgewing waar ’n ander been van die Conversations about Conservation-projek sal manifesteer.
Hier sal die broer en suster, Anni Snyman en PC Janse van Rensburg, ’n formidabele landkunsspan, hul merk laat met ’n geoglief wat in die Aus-landskap beoog word. Dit sal aansluit by twee ander geogliewe, die oewerkonyn-geo­glief en die slangarend-geoglief wat hulle pas in Suid-Afrika voltooi het.
Snyman sê ’n geoglief is ’n tekening op die oppervlak van die aarde (geo = aarde, glief = teken). “Die idee vir ’n geoglief het gegroei uit die wonderlike ervaring wat Google Earth bied aan gewone aardgebondenes soos ons. Die oppervlak van ons tuiste is oneindig fassinerend, maar bo en behalwe die natuurskoon, kan mens ook die verwoesting van menslike nywerhede oral bespeur, selfs al kan jy nie ’n mens sien nie,” sê sy.
“Die omvang van skaal en die moontlikheid van perspektief is die kruks van werk soos hierdie. Wanneer ’n mens op die grond die tekening stap, kan jy nie die geheelbeeld sien nie. En wanneer jy dit op ’n prentjie uit die lug beskou, kan jy nie die landskap ervaar nie. Die geheelbeeld moet elke keer deur die toeskouer se eie verbeelding geskep word – om die kolletjies te verbind.”
Die Slangarend-mymerpad se vlerkspan is 170 m en die afstand van snawel tot stert is 58 m. Die aaneenlopende lyn is 1 563 m lank en neem ongeveer 40 minute om te stap, vertel sy.
Snyman, Janse van Rensburg en die Site Specific Landkunsversameling wil deur middel van dié werke ’n bydrae tot die beskerming van natuurlike habitatte lewer.
Dieselfde span het pas die Oewerkonyn-mymerpad by Loxton in die Karoo geskep. “Om die Oewerkonyn-mymerpadte stap, is om te besin oor die hele bioom van lewe in die Nama-Karoo wat deur hidrobreking en uraanmyne bedreig word. Die oewerkonyn is reeds een van die mees bedreigde soogdiere op aarde omdat gepaste habitat grootliks deur landboupraktyke verwoes is,” sê Snyman.
Dié geoglief is geskep in Mei 2016 deur vrywilligers van die Site Specific Landkunsversameling om ekotoerisme en natuurbewaring in die Karoo te ondersteun. Van oortjie tot pootjie tot stertjie, strek die tekening oor 90 m x 104 m. Die aaneenlopende voetpad is 1 097 m lank en kan in ongeveer 30 minute gestap word.
Snyman en Janse van Rensburg gaan volgende jaar saam met die Swiegers-familie van Klein-Aus Vista in dié omgewing aan die werk spring met Namibië se eie soortgelyke geoglief.
Hier sal wilde perde as tema dien. “Ek het die berge in die Aus-wêreld platgeloop tydens ’n drie maande verblyf by hul kampterrein. Toe reeds het ek begin dink dat ek Anni (Snyman) eendag moet nooi om hier te kom werk, omdat die berge perfekte uitkykposte bied om ’n geoglief te skep en te waardeer,” vertel De Jager.
“Die vertrekpunt is dat ons baie by die wilde perde kan leer oor hoe om in die natuur aan te pas - net soos ons dringend sal moet leer aanpas by watertekorte en die eise wat aardverwarming toenemend aan ons gaan stel.”
De Jager sê die medium waarmee sy die gemaklikste is, is om unieke visuele projekte wat pragtig is, maar andersyds werklike “ystervuiskrag” het, te help skep in die hoop dat dit ’n positiewe impak sal hê.
“Dit is ons hoop om met Conversations about Conservation ’n inklusiewe gesprek te begin, wat mense dalk genoeg prikkel om eerlik die feite oor ons vernielde planeet in die gesig te staar en opnuut oor ons impak op die aarde te mymer.”
• Belangstellendes kan ’n e-pos stuur aan JMACby [email protected] of [email protected]. Leonie Joubert waarsku oor aardverwarming

Leonie Joubert is ’n bekroonde omgewingsjoernalis en wetenskapskrywer wat reeds vier boeke oor aardverwarming die lig laat sien het. Sy het die laaste 10 jaar veral op klimaatverandering, energiebeleid, omgewingsdruk en voedsel gefokus.
Haar boodskap is duidelik:
“Namibië is reeds ’n watergestresde land met ’n geneigdheid tot hittegolwe, droogtes en watertekorte in sekere dele, asook vloede in ander. Die woestyn is besig om groter te word en bos-, weidingsgebiede en savanna-landskappe in hierdie land binne te dring. Die algemene feite dat temperature slegs hoër sal styg en reënvalpatrone meer onvoorspelbaar sal word, sal waterbestuur ’n kritieke kwessie maak. Van nasionale vlak tot by huishoudings sal Namibiërs moet leer om hierdie kosbare en skaars bron versigtiger te gebruik. Almal sal moet beplan vir ’n toekoms wat warmer, droër en meer geneig tot omgewingskokke sal wees."
’n Paar interessante feite wat aan die lig gekom het tydens Joubert se voorlegging is:
• Namibië is reeds besig om warmer te word (0,5 °C die afgelope 50 jaar) en die seetemperature is ook effens warmer.
• Na verwagting sal die temperatuur met soveel as 5°C teen 2100 styg.
• Veranderinge in reënval is moeiliker om by wyse van modellering te projekteer, maar die streek sal waarskynlik droër word met langer droogtetye tussen reëntydperke. Veral reënval sal meer onvoorspelbaar word.
• ’n Vermeerdering in die intensiteit van reën kan tot vloede lei en selfs as meer reën op tye val, sal die langer, droë tydperke tussen hierdie tye tot ’n algehele droër omgewing lei.
• Namibië is reeds geneig tot uiterstes van vloede en droogtes, en dit sal meer dikwels en met groter intensiteit voorkom.
Die uiteinde:
Die woestyn is besig om groter te word.
Die ander biome in die land (bv. woude en savanna) sal krimp soos die woestyn uitbrei.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!