Gesteelde Otjiwarongo-bakkie gevind

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die bakkie wat verlede week van Toyota Pupkewitz op Otjiwarongo gesteel is toe ‘n vermeende dief dit glo wou toetsbestuur, is teruggevind.

Een persoon is intussen in hegtenis geneem, terwyl die ondersoek voortduur.

Die Windhoekse stadspolisie het bevestig hulle het gister beslag gelê op die voertuig wat by Palm Hotel in die hoofstad geparkeer was. Dit het vervalste MTC-plakkers opgehad, ‘n nuwe voorruit en die voertuig identifikasie identifikasienommer (Vin) in die motor se panele is toegeverf.

Nuwe identifikasienommers is aangebring, wat egter vasgestel is om dié van 'n ander 2012-model Toyota-bakkie te wees.

Dit volg nadat MTC-werknemers die voertuig vroegoggend opgemerk het en agterdogtig geraak het oor die manier hoe die plakkers aangebring is. Buiten vir ander afwykings, wat verskil van MTC se gewone vloot, was dit vreemd om die motor dié tyd van die dag in die kelder geparkeer te sien, het MTC se John Ekongo aan Republikein gesê.

Die polisie is ontbied en daar is vasgestel dat die voertuig inderdaad Toyota Pupkewitz se vermiste bakkie is, wat 'n 2020-model is.

Volgens mnr. Hendrik Esterhuisen van Toyota Pupkewitz is die bakkie verlede week Maandag gesteel toe een van hul verkoopspersone, wat saam met die vermeende dief die toetsrit meegemaak het, oorrompel is. “Hy is buite die dorp met pepersproei in die gesig gespuit en met ‘n geweer oor die kop geslaan,” het Esterhuisen gesê.

Die verdagte is toe weg met die voertuig. Esterhuisen sê die waarde van die bakkie is N$590 000.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer