Gestrandes kom uit Europa aan

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die eerste repatriasievlug uit Europa met 127 passasiers aan boord ’n Airbus A330-200 van Air Namibia, het gisteroggend omstreeks seweuur by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako aangekom.

Dit volg nadat 229 buitelanders Maandag met Air Namibia vanaf Windhoek na Europa geneem is. Onder hulle was Europeërs, Kanadese en selfs Australiërs.

Die vlug het later as verwag na Namibië teruggekeer, aangesien die vliegtuig in Frankfurt tegniese probleme ondervind het. Dit moes eers aandag kry voordat die bemanning na Heathrow by Londen kon vlieg op die tweede been van die repatriasieroete.

Mnr. Ebson Ngondo, verkoopsbestuurder by Air Namibië, sê onder die mense wat na Namibië teruggekeer het, was drie burgers van Botswana en die oorskot van ’n Namibiër wat drie maande gelede in Engeland gesterf het.

Die 43-jarige mnr. Brian Hembapu (foto) van Ovitoto wat die afgelope jare in Wigan in Engeland gewoon het, is op 2 Maart dood toe hy verstik het terwyl hy geëet het.

Ngondo sê Air Namibia as nasionale redery het Hembapu se oorskot sonder enige koste gerepatrieer. Dit kos normaalweg N$150 000.

Die uitvoerende bestuurder van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, mnr. Ben Nangombe, het vroeër skiftelike toestemming vir dié repatriasie verleen.

Aangesien hy nie ’n slagoffer van die coronavirussiekte was nie, kon dit geskied.

Daar was ook 90 bokse met Covid-19-gesondheidsmateriaal aan boord wat deur skenkers in Duitsland en Pole na Namibië gestuur is. Dit sluit in toetsstelle wat gebruik word om neusdeppers by mense te neem.

Die passasiers is nadat die nodige skanderings by die lughawe gedoen is, met busse na die plekke geneem waar hulle 14 dae in kwarantyn moet deurbring.

Volgens inligting sal Air Namibia se bemanning by Am Weinberg Hotel gekwarantyn word en die oorgrote meerderheid van die passasiers by die Safari Hotel.

FlyWestair, Namibië se private redery, het tot nou 499 mense gerepatrieer. Altesaam 194 Namibiërs en 154 Suid-Afrikaners was onder die passasiers wat op 14 vlugte gerepatrieer is.

Benewens Suid-Afrika, is vlugte ook na Angola, Zambië en Botswana onderneem om dit vir Britte, Europeërs en Amerikaners moontlik te maak om met aansluitingsvlugte na hul lande van herkoms terug te keer.

Mnr. Fred Ribeiro, bestuurder van sakeontwikkeling by Westair, sê daar is steeds ’n vraag na vlugte.

“Die behoefte nou is aan vlugte vir studente wat wil terugkeer na Suid-Afrika om hul studies vir die jaar te voltooi. Daar is ook mense wat hul werk verloor het, hier of in Suid-Afrika, en wat gerepatrieer moet word,” sê Ribeiro.

Hy sê die verwagting is dat FlyWestair ses vlugte in die volgende weke sal onderneem om 160 mense tussen Namibië en Suid-Afrika te vervoer.

Air Namibia is ook vir inligting gevra oor die getal mense wat tot dusver deur dié redery gerepatrieer is. Dit is teen druktyd gister nog nie verskaf nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!