Getuie kniehalter staat se saak
Getuie kniehalter staat se saak

Getuie kniehalter staat se saak

In die verhoor van ’n vermeende verkragter wat ook op ’n klag van ontvoering van sy eksmeisie teregstaan, het ’n ooggetuie gesê die slagoffer is volgens sy mening nie ontvoer is nie.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Die verhoor van 'n man wat na bewering sy eksmeisie in die Swakopmund-omgewing verkrag en ontvoer het, het die week in die hoërhof in Windhoek afgeskop.

Mnr. Herman de Klerk het Maandag onskuldig gepleit en die staat het daarna getuies geroep.

Mnr. Ludwig Kasanab het Woensdag oor die vermeende ontvoering getuig wat glo by sy huis plaasgevind het. Hy het aanvanklik getuig De Klerk het die slagoffer aan haar arm beetgehad en sy het onwillig gelyk om saam met hom te gaan.

Hy het wel tydens kruisondervraging deur die verdeding erken sy is nie volgens hom “ontvoer” nie.

Die staat het daarna vir Kanasab gevra of hy weet wat die definisie van ontvoering is, waarop hy “nee” geantwoord het.

Nog 'n staatsgetuie, 'n vriendin van die slagoffer, het Woensdag getuig die slagoffer het vir haar gesê De Klerk het haar verkrag, maar sy het hulle ná die beweerde voorval weer saam gesien.

Die verhoor duur voort met nog staatsgetuies wat geroep sal word.



'KINDERVERKRAGTER' TEKEN APPèL AAN

In nog 'n verhoor word 'n man daarvan beskuldig dat hy 'n 12-jarige meisie verkrag het. Hy appelleer teen die hof se besluit om sy formele aansoek om borgtog van die hand te wys.

Landdros Unchen Konjore het op 7 Julie borgtog aan die 38-jarige van Keetmanshoop, mnr. Joans Haman, geweier aangesien dit nie in publieke belang of in die belang van geregtigheid is nie.

Konjore was ook van mening as Haman vrygelaat word, sal hy met die slagoffer inmeng, omdat sy minderjarig is en hy weet waar sy woon.

Haman het aangevoer borgtog moet aan hom toegestaan word aangesien hy die enigste broodwinner is; ook omdat hy drie biologiese kinders en een stiefseun het, drie van die kinders is in die preprimêre skool, hy het sy eie huis en sy eie besigheid.

In sy kennisgewing van appèl stel hy dat hy nie tydens sy formele aansoek die nodige bewyse van die bogenoemde kon lewer nie, omdat hy in aanhouding was.

Hy het drie getuies tydens sy aansoek geroep ter ondersteuning van dié bewyse.

“Tydens kruisondervraging was hulle nie oor die bewyse gevra nie, maar eerder oor die oortreding waarvan hulle geen kennis dra nie,” luidens sy kennisgewing van appèl.

Die staat beweer Haman het 'n bekentenis tydens sy formele aansoek om borgtog gelewer, maar hy sê dit was 'n misverstand.

“Die staatsaanklaer het my gevra wie het ek verkrag? Ek het geantwoord, Victoria. Ek het daardie antwoord gegee omdat dit is waarvan ek verdink is, nie omdat ek dit gedoen het nie.”

Hy ontken hy het ooit die jong meisie verkrag.

Haman se aansoek om appèl het Maandag in die hoërhof in Windhoek voor regter Claudia Claasen begin en duur die week voort.

[email protected]

FOTO
Mnr. Herman de Klerk het Maandag onskuldig gepleit op die aanklagte van verkragting en ontvoering. Foto Kristien Kruger

Kommentaar

Republikein 2025-04-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer