Gevangene dagvaar tronkowerhede
Gevangene dagvaar tronkowerhede

Gevangene dagvaar tronkowerhede

'n Gevangene vra die hof om sy eis toe te staan vir die skending van sy grondwetlike regte op beskerming en die verlies van sy sig ná 'n steekvoorval in die tronk.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith – 'n Gevangene en vermeende tronkbendelid dagvaar die tronkowerhede, insluitend sewe gevangenisbeamptes, vir N$35 miljoen.

Mnr. Eben Cloete beweer hy is in een oog verblind nadat tronkbewaarders geweier het om tussenbeide te tree in 'n geveg tussen gevangenes.

In sy handgeskrewe eisbesonderhede voer hy aan dat hy op 24 Maart verlede jaar die bewaarders gesmeek het om 'n geveg tussen twee gevangenes te beëindig.

Hy het gesê ten minste vier bewaarders het net daar gestaan terwyl die geveg plaasgevind het, en hy het uiteindelik besluit om die geveg self te probeer stop terwyl hulle toegekyk het.

In daardie stadium, het hy gesê, is hy “met 'n skerp metaalvoorwerp in sy linkeroog gesteek”, wat hom verblind het.

Hy vra die hof om sy eis om skadevergoeding toe te staan vir die skending van sy grondwetlike regte op beskerming en die verlies van sy sig.

Hy eis N$30 miljoen, plus 'n bykomende N$5 miljoen vir die pyn en lyding wat hy moes deurmaak sedert die voorval en tot sy beserings genees was.



BENDEVERWANT

In hul verdediging ontken die nege verweerders, insluitend die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, die hoof van die korrektiewe dienste en verskeie gevangenisbeamptes, aanspreeklikheid vir sy verlies aan sig en ernstige nalatigheid.

In 'n pleitverduideliking wat by die hof ingedien is, beweer die verweerders die geveg was “vermoedelik 'n bendeverwante onderonsie” en het in 'n tronksel plaasgevind, terwyl die beamptes wat daarvan beskuldig word dat hulle hul blind gehou het vir die voorval, in die eetsaal gestasioneer was.

“Die eiser (Cloete) is, in 'n poging om 'n aanval op sy medebendelid en/of gevangene te stop, deur die mededingende bendelid en/of gevangene gesteek,” beweer gevangenisowerhede.

Volgens hulle het die voorval plaasgevind in die afwesigheid van tronkbewaarders wat “ten tyde van die voorval besig was om kos aan die gevangenes te bedien”.

Die tronkowerhede ontken ook dat Cloete of enige ander gevangene hulle om hulp genader het.

“Eers ná die eiser beseer is, het hy die beamptes in die eetsaal van die voorval ingelig,” het hulle gesê.



'SAL BEWYS'

Cloete het op sy beurt gesê die bewaarders was naby die tronksel waar die geveg ontstaan het, en nie die eetsaal nie. Hy het gesê hy sal dié bewerings voor die hof bewys.

Die saak is Maandag tot 13 September uitgestel vir 'n statusverhoor voor hoërhofregter Herman Oosthuizen.

Cloete het om regshulp aansoek gedoen, terwyl die verweerders deur die staatsprokureur mnr. Mkhululi Khupe verteenwoordig word.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!