Gevangene sterf, 117 sover positief

Die hoof van die Korrektiewe Diens is ondanks die vrese van gevangenes “trots” op hoe Covid-19 in tronke bestuur word.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - ’n Staking dreig onder gevangenes in die Windhoek Sentrale Gevangenis nadat ’n medegevangene “wat al erger gehoes het”, Maandagnag dood is.

Die tronkowerheid in Namibië het gister gewag op die uitslag van sy Covid-19-toets. Die man is Maandag na die Windhoek Sentrale Hospitaal oorgeplaas toe sy toestand versleg het.

Altesaam 117 gevangenes het die afgelope paar weke positief in dié tronk getoets met sy elf verskillende eenhede en afdelings.

Die hoof van die Namibiese Korrektiewe Diens, komm.genl. Raphael Tuhafeni Hamunyela, het die sterfte gisteroggend bevestig, maar benadruk dit is nog nie seker of die oorledene wel Covid-19 gehad het nie.

Republikein was die afgelope week in verbinding met gevangenes sowel as besorgde familielede wat bekommerd is oor die toestande waaronder hulle aangehou word.

Inligting laat gister uit dié tronk was dat gevangenes in een van die eenhede dreig om vandag te staak deur te weier om terug te keer na hul selle. Hulle dring daarop aan dat Hamunyela hulle besoek.

“Ons, die gevangenes van Windhoek Sentrale Gevangenis, wil weet wat gaan die regering doen omtrent die toename in Covid-19-gevalle en die oorvolheid van die tronk. Daar is nie sosiale afstand nie,” lui ’n noodkreet wat reeds verlede week aan ’n familielid gestuur is. Dit blyk kommer heers omdat gevangenes wat in eenhede 3 en 5 was, ontruim en na ander eenhede oorgeplaas is sodat dié eenhede die positiewe gevalle en diegene in kwarantyn kan huisves.

Die hospitaal in die tronk is ook Maandag ontruim sodat dit ontsmet kon word en die gevangenes wat daar aangehou word omdat hulle chroniese siektetoestande het, is tydelik na ander eenhede oorgeplaas.

Twee ander gevangenes met wie Republikein gepraat het, sê twee korrektiewe beamptes het kort na mekaar positief getoets, waarna die gevangenes in Windhoek getoets is.

“Ons het 682 gevangenes by die 14 tronke in die land getoets en net 124 het positief getoets. Onder hulle was 117 in Windhoek, drie op Walvisbaai, twee in Hardap (tronk naby Mariental) en een elk in die korrektiewe geriewe op Lüderitz en Tsumeb,” het Hamunyela gesê.

Volgens hom het 98 reeds herstel en is daar tans net 26 aktiewe gevalle in tronke.

Een van die gevangenes sê higiëne is naas die gebrek aan sosiale afstand een van die ander groot bekommernisse,

“Weens Covid-19 kan ons tans geen besoeke kry nie, want beteken ons families kan nie vir ons toiletware soos handreiniger en ontsmettingsmiddels bring nie.

“Al wat die tronkowerheid ons gee, is toiletpapier. Hier is ’n winkel waar ons basiese produkte kan koop, maar die voorrade is min en dikwels nie beskikbaar nie,” vertel die gevangene.

“Die toestande is nie higiënies nie. Maskers is ook eers aan ons uitgedeel nadat die eerste gevangenes positief getoets het.”

Nog ’n kwelpunt is die veiligheid van gevangenes in die hospitaaleenheid, aangesien medegevangenes van al die ander eenhede en afdelings die kliniek by die hospitaal besoek.

“Daar was altyd ses verpleegsters by die kliniek, maar vier het blykbaar positief getoets,” het een van die gevangenes vertel.

Hulle kla ook oor die gehalte van die kos en sê hulle kry net twee keer per week ’n porsie vleis “so groot soos ’n duimnael”. “Ons kry ook nie groente, vrugte en melk wat ons nodig het om ons immuniteit te bou nie.”

Hamunyela ontken dat die tronke oorvol is. “Vir die rekord: Ons tronke is nie oorvol nie as dit met toestande in ander lande vergelyk word. Ja, daar is nie sosiale afstand nie, maar ons korrektiewe geriewe is nie ontwerp met die Covid-19-gesondheidsprotokolle in gedagte nie. Dit is die probleem tans in elke ander land in die wêreld.”

Hy ontken ook dat toestande nie higiënies is nie en sê daar is oral punte waar water en seep beskikbaar is en sê gevangenes word aangemoedig om gereeld hande te was.

Verder sê Hamunyela die Korrektiewe Diens is trots op wat gedoen word om die uitbreking in tronke te bestuur en te keer dat mense siek word.

Oor die gehalte van die kos sê Hamunyela die Namibiese Korrektiewe Diens het verskillende plase in die streke waar gewasse verbou en met varke en beeste geboer word. Hy sê die plase lewer produkte soos vleis, grane, groente en vrugte aan tronke.

Volgens hom word spyskaarte deur ’n dieetkundige uitgewerk. “Daar was ’n hofbevel daaroor. Ons moet dit doen.”

Hamunyela sê gevangenes kla omdat suiker en geurmiddels vir gesondheidsredes verminder is. Verder sê hy, word gevangenes se diëte ook aangepas na gelang van die gesondheidstoestand waarin hulle verkeer. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!