Gevangenes met lewenslange tronkstraf soek hul vryheid
Gevangenes met lewenslange tronkstraf soek hul vryheid

Gevangenes met lewenslange tronkstraf soek hul vryheid

Immanuel Shikunga het vandeesmaand ’n aansoek teen tronkowerhede ingedien vir hul versuim om hom op borgtog vry te laat.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith

Drie mans wat lang gevangenisstraf – waaronder lewenslange – opgelê is, voer ’n stryd om op borgtog vrygelaat te word nadat hulle meer as die helfte van hul tronkstraf uitgedien het.

Immanuel Shikunga, wat 26 jaar agter tralies deurgebring het vir ’n lewenslange tronkstraf wat in Mei 1995 opgelê is, het vandeesmaand ’n aansoek teen tronkowerhede ingedien vir hul versuim om hom op borgtog vry te laat nadat hy aan al die nodige vereistes voldoen het.

Shikunga sê ná meer as 20 jaar in die tronk kwalifiseer hy om vir borgtog oorweeg te word, maar sy voortdurende gevangenisstraf het hom “met geen hoop gelaat om ooit vrygelaat te word nie, aangesien diegene wat verantwoordelik is vir my borgtog nou die saak uitrek”.

“Ek is nou van mening die respondente, ongeag my goeie gedrag binne die korrektiewe fasiliteit, wil my nou onderwerp aan permanente gevangenisstraf met geen hoop om ooit uit die tronk te kom nie,” lui Shikunga se hofstukke.

Hy het ook gesê dit is “hoog tyd” dat hy vrygelaat word en bygevoeg hy moet as deel van sy rehabilitasieproses in ’n “positiewe posisie geplaas word waar ek oop sal wees. Waar ek blootgestel sal word aan die geleenthede wat daartoe kan lei dat ek weer ’n beter lewe vir myself kan bou ná 26 jaar in die tronk. Ek het gegee wat ek aan die staat verskuldig was en is.”

Shikunga is in 1993 skuldig bevind aan die moord op die veearts en oudburgemeester van Omaruru, dr. Ian Scheepers. Scheepers is dood nadat Shikunga, wat voorheen vir hom gewerk het, hom 23 keer met ’n mes gesteek het terwyl ’n medepligtige vir Scheepers vasgedruk het.

‘GEREGTIG OP VRYHEID’

Nog ’n gevangene wat lewenslank moet sit en nou om borgtog aansoek doen, is Laurentius Koopman, wat 21 jaar gelede lewenslange gevangenisstraf opgelê is vir moord en roof in 1998.

Dié is nie sy eerste poging om vroeg op borgtog vrygelaat te word nie. In 2012 het hy by verskeie van sy eweknieë ’n aansoek by die hoërhof ingedien om duidelikheid te kry oor watter beleide die tydperk bepaal waarna gevangenes met lewenslange tronkstraf vir parool oorweeg moet word. Die aansoek is later teruggetrek.

Hy het in 2013 weer om borgtog aansoek gedoen, maar sy aansoek is van die hand gewys. Dié gevangenes het aangevoer hulle moet volgens gevangenisregulasies en -beleide vir borgtog oorweeg word nadat hulle tien jaar uitgedien het.

In sy jongste aansoek beweer Koopman hy was in Oktober 2020 gemagtig om op borgtog vrygelaat te word, maar is in Februarie vanjaar weer in hegtenis geneem weens ’n besluit dat hy verkeerdelik vrygelaat is.

Hy voer aan dié inhegtenisneming was ongeregmatig en nie in pas met beleide wat borgtog reguleer vir persone wat tot lewenslange tronkstraf gevonnis is gedurende die tyd toe die Gevangeniswet van 1959 van toepassing was nie.

Laasgenoemde het bepaal gevangenes wat lewenslange tronkstraf opgelê is vir vrylating oorweeg kan word nadat hulle tien jaar uitgedien het. Verskeie ander aansoeke wat vandeesmaand ingedien is, voer dieselfde argument as rede aan.

KWESSIE GEïGNOREER

Die broers Mckenzie en Wynand Adams, wat 23 jaar in die tronk deurgebring het nadat hulle in 1998 skuldig bevind is aan moord en roof, het ook vandeesmaand ’n aansoek ingedien waarin hulle gevangenisowerhede en die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit beskuldig van die “onredelike vertraging en/of nalatige en/of opsetlike uitrek van applikante se vrylating uit die tronk nadat hulle 23 jaar tronkstraf uitgedien het”.

Hulle voer aan hulle moes ná tien jaar van hul vonnis in aanmerking kom vir borgtog, en dat dit ná meer as 20 jaar agter tralies duidelik is die Namibiese Korrektiewe Dienste “hou hulle blind vir die kwessie”.

’n Vierde aansoek is vandeesmaand deur Wilfried Hijambura Siririka ingedien, wat die betrokke owerhede daarvan beskuldig dat hulle versuim het om hom vir borgtog te oorweeg nadat hy 13 jaar van ’n 20 jaar-vonnis uitgedien het, en dat hy “onverdiende strawwe” moes verduur terwyl hy agter tralies was.

Siririka is een van drie mans wat aangekla is van die gewapende roof op ’n 84-jarige man van Gobabis in 2005 – waar hulle verskeie vuurwapens, ’n Rolex-horlosie en verskeie geldeenhede ter waarde van meer as ’n halfmiljoen Namibiese dollar gesteel het.

In 2018 het die hooggeregshof ’n uitspraak gelewer wat ultralang tronkstraf ongrondwetlik verklaar het, en opgemerk gevangenes met lewenslange tronkstraf kan ná 25 jaar agter tralies in aanmerking kom vir vrylating op borgtog. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!