Gewapende roofbendes bedrywig
Gewapende roofbendes bedrywig

Gewapende roofbendes bedrywig

Kommer laai op oor gewapende roofbendes wat in Windhoek en elders toeslaan.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Op die eerste naweek nadat die noodtoestand en aandklokreël opgehef is, is 'n kommerwekkende agt gewapende rooftogte en huisinbrake aangemeld.

Die verskeie rooftogte die afgelope naweek in en om die hoofstad word vermoedelik deur dieselfde bende gedoen.

“Vanweë 'n duidelike patroon in die afgelope rooftogte, vermoed ons dat dit een groep mans is wat hierdie gewelddadige rooftogte uitvoer,” het die Namibiese polisie se adjunkbevelvoerder in die Khomasstreek, komm. Willem Steenkamp, aan Republikein gesê.

Vier gewapende mans het Vrydag omstreeks 17:00 na bewering 'n man in Kingfisherstraat, Hochlandpark met vuurwapens gedreig en hom glo van sy beursie en selfoon beroof.

Omstreeks 21:00 Vrydag het ses gewapende mans na bewering die elektriese heining van 'n huis in Doradopark geknip en oor die muur geklim.

“Die verdagtes het 'n vuurwapen op die inwoners gerig terwyl hulle die huis beroof het. Die waarde van die gesteelde goedere is byna N$26 000,” lui die verslag.

Nog 'n huisbraak het enkele ure later, Saterdag omstreeks 01:30, in Ludwigsdorf gevolg.

Ses mans het na bewering 'n vrou en haar kêrel in haar slaapkamer vasgebind. Die verdagtes was glo met messe en pangas gewapen.

Hulle het na bewering die elektriese heining opgelig, oor die muur geklim en die huis se deur oopgebreek. Twee televisiestelle, twee skootrekenaars en N$1 000 is glo gesteel.

Volgens die verslag het die verdagtes in die vrou se motor gevlug. Die motor is glo later verlate naby Havana gevind.

'n Huisbraak en verkragting het Saterdagaand in die Havana informele nedersetting tot 'n beweerde moord gelei nadat 'n buurman glo 'n vrou se gille gehoor en te hulp gesnel het. Hy is glo deur die verdagte doodgeskiet.



ROOFTOGTE LANDSWYD

Drie mans met 'n pistool het glo 'n plaas sowat 20 km van Tsumeb aangeval. Op die plaas Uitspan was die plaaseienaar en sy vrou glo Vrydag omstreeks 17:35 met kabels vasgebind en beroof.

Volgens die verslag is sowat N$10 000 kontant, 'n jaggeweer, juwele en die plaaseienaar se motor gesteel.

Die motor is glo later verlate naby Hoërskool Otjikoto gevind.

By 'n Ongwediva-inwoner se huis is na bewering ingebreek toe hy nie tuis was nie. Hy het glo sy huis Vrydag om 15:00 verlaat en die volgende oggend omstreeks 03:00 teruggekeer. Met sy aankoms het hy glo die gebreekte agterdeur gesien.

Die waarde van die gesteelde goedere is volgens die verslag sowat N$29 000.

'n Man is na bewering Saterdagmiddag tydens 'n rooftog in sy arm geskiet.

Die beweerde rooftog het in die veld agter Ramatex op Otjomuise plaasgevind. Twee gewapende verdagtes het die man van sy selfoon en N$200 kontant beroof.

Vrydag omstreeks 07:00 is glo by 'n 40-jarige vrou se huis op Ondangwa is ingebreek. Die diefwering en eetkamerdeur is na bewering oopgebreek. Goedere ter waarde van sowat N$57 000 is gesteel.

“Die Covid-19-inperkings het die landsburgers se bewegings beperk en dit het die afname in misdaad tot gevolg gehad, maar ons is nou besig om na normaal terug te keer,” het Steenkamp gesê.



TRANSITO-ROOFTOGTE

Sowat sewe mans gewapen met pistole het na bewering Sondag omstreeks 11:49 'n kontanttransito-voertuig by die Black Chain sentrum in Katutura beroof.

Die verdagtes het vuurwapens op die twee sekuriteitswagte gerig terwyl hulle bokse met geld in 'n motor gelaai en gevlug het.

Die geldbedrag wat gesteel is, is glo nog onbekend.

Volgens die polisiewoordvoerder, hoofinsp. Kauna Shikwambi, is verdagtes vir ondervraging ingebring.

Southern Cross Security Services was glo vir die vervoer van die geld verantwoordelik. Dié maatskappy se uitvoerende hoof, mnr. Johan Janeke, het aan Republikein gesê hulle laat die ondersoek in die polisie se bekwame hande.

Twee maande gelede op Okahandja is ook 'n transito-voertuig beroof van geld wat vanaf 'n Bank Windhoek outomatiese tellermasjien vervoer moes word.

Die verdagtes het op Vrydagmiddag, 31 Julie, twee sekuriteitswagte van 'n transito-voertuig met vuurwapens gedreig en het met N$930 000 in geldbokse weggekom.

“Hoewel ons nie kan bevestig dat die voorval in Okahandja en die van die afgelope naweek in Katutura deur dieselfde verdagtes uitgevoer is nie, is die twee voorvalle baie soortgelyk,” het Steenkamp gesê.

Op 8 Julie is 'n Southern Cross Security Service-voertuig in Pioniers­park Uitbreiding 1 aangeval. Die wagte het hulself in die voertuig toegesluit terwyl sowat ses gewapende mans die voertuig probeer oopbreek het, maar nie kon slaag nie.

“Die polisie beoog om die topbestuur van sekuriteitsmaatskappye attent te maak op die feit dat hul werknemers opgelei moet word sodat hulle gevaarlike situasies kan hanteer of verhoed,” het Steenkamp gesê.

“Die vervoer van kontant is 'n taak wat meestal deur private sekuriteitsmaatskappye uitgevoer word. 'n Versoek kan egter aan die Namibiese polisie gerig word om sulke situasies te fasiliteer,” het Shikwambi gesê.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!