Geweld in Harare kan skadu oor uitslae werp
Geweld in Harare kan skadu oor uitslae werp

Geweld in Harare kan skadu oor uitslae werp

EU betwyfel ook uitslae
Llewellyn Prince



Die beelde van ge­welddadige betogings in die Zimbabwiese hoofstad Harare is sleg vir die regerende Zanu-PF en kan die ge­loofwaardigheid van dié land se verkiesingsuitslae ook skaad.

Daarom moet Zanu-PF die situasie baie gou in bedwang kry as hy nie sy hernude internasionale aansien skade wil berokken nie, sê Liesl Louw-Vaudran, 'n senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies.

Só het sy gereageer nadat die nuusdiens AFP berig het een mens is Woensdag in Harare doodgeskiet toe die weermag op betogende burgerlikes losgebrand het. Volgens sommige nuusberigte is tot drie mense dood in die gewelddadige oproer.

Lede van die MDC, die hoofopposisieparty, het die strate ingevaar en beweer verkiesingsbedrog is gepleeg. Die parlementêre uitslae is reeds bekend, met die presidensiële uitslae wat gister bekend gemaak sou word.

Volgens News24 het pres. Emmerson Mnan­gag­wa mense in 'n twiet gevra om “geduldig en volwasse” op te tree terwyl hulle wag op die finale uitslag van Maandag se verkiesing.

Mnangagwa het later gesê die geweld Woensdag in Harare het ten doel om die presidensiële verkiesing te ontwrig, en hy blameer die leierskap van die MDC vir enige mense wat dood of beseer is.

“Ons hou die MDC-­alliansie en hul ondersteuners verantwoordelik vir die ontwrigting van nasionale vrede,” het Mnangagwa gesê.

Hy het gesê die MDC behoort hul ondersteuners uit die strate te verwyder, berig Reuters.

Die Britse koerant The Guardian het berig hoe die Zimbabwiese polisie waterkanonne en traangas gebruik het om betogers buite die hoofkantoor van die Zimbabwiese Verkiesingskommissie (ZEC) uiteen te dryf.

Militêre helikopters het ook oor Harare gevlieg nadat ondersteuners van die opposisie ­motorbande aan die brand gesteek, strate geblokkeer en met die polisie slaags geraak het.

Reuters berig waarnemers van die ­Europese Unie (EU) betwyfel ook die uitslae van die buurland se eerste verkiesings sedert oudpres. Robert Mugabe verlede jaar gedwing is om ná 40 jaar die tuig neer lê.



VERTRAGING

Die waarnemers is bekommerd omdat die presidensiële uitslae vertraag word.

Nelson Chamisa, Mnan­gagwa se belangrikste teenstander in die stryd om presidentskap en leier van die MDC-koalisie, het Woensdag ook getwiet hoe hy die “gewilde stem” gewen het.

Norest Kemvo, 'n be­toger wat in die gesig en hand gewond is, het aan Reuters gesê hy is deur soldate aangerand.

“Dit is ons regering. Dit is waarom ons verandering wou gehad het. Hulle steel ons verkiesing.”

Die onluste het luidens Bloomberg uitgebreek nadat die ZEC Woensdag aangekondig het Zanu-PF het 143 uit die 210 setels in die verkiesing verower. Die MDC-alliansie het 60 setels gekry.

'n Bykomende 60 setels sal aan vroue toegeken word ingevolge die proporsie van steun wat hul partye verower het.

Zanu-PF is luidens Bloomberg egter verseker van 'n tweederdemeerderheid in die Zimbabwiese parlement. Daardeur is dit vir hom moontlik om die grondwet van dié buurland eensydig te verander.

Die parlementêre verkiesingsuitslae beteken Mnangagwa sal heel waarskynlik as die nuwe president aangewys word.

Die Crisis in ­Zimbabwe Coalition, die land se groot groep nieregerings­organisasies, het gesê daar was 'n gebrek aan geloofwaardige prosesse in die verkiesing, veral omdat die kiesersrol nie voor die verkiesings beskikbaar gestel is nie en sommige kiesers doelbewus verplaas is.

Louw-Vaudran sê die verkiesingsgeweld was onverwags, veral omdat Zanu-PF herhaaldelik vrye en regverdige verkiesings belowe het.

“Baie hang vir dié land af van vreedsame verkiesings wat betref die beloftes van die internasionale gemeenskap. Die geweld trek ook nou die uitslae in twyfel.”

Sy meen die vertraging in die presidensiële uitslae speel 'n groot faktor in die geweld. “Ons het reeds in baie ander Afrikalande gesien dat geweld uitbreek as verkiesingsuitslae vertraag word.”

Hoewel dit nog te vroeg om te sê wie die skuld vir die geweld moet kry, is die vertraging van uitslae sonder twyfel een van die belangrikste faktore, sê sy.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!