Geweldsmisdade vier hoogty
Geweldsmisdade vier hoogty

Geweldsmisdade vier hoogty

Verskeie voorvalle van geweld is opnuut die afgelope naweek by die polisie aangemeld.
Denver Kisting
Denver Kisting – Te midde van landswye betogings teen geweld, is die afgelope naweek gekenmerk deur verskeie gewelddadige voorvalle.

’n 47-jarige verdagte is in polisieaanhouding op Rundu nadat hy glo verlede week ’n ander man met ’n houtstok doodgeslaan het.

Adj.komm. Kauna Shikwambi, die nasionale polisiewoordvoerder, sê die mans het glo oor ’n N$20 stry gekry.

Die verdagte het glo die onbekende oorledene verskeie kere met die stok geslaan waarná hy na bewering op die vlug geslaan het.

Die oorledene het ’n dag ná die aanranding in die intensiewesorgeenheid van die Rundu-hospitaal aan sy wonde beswyk.

Die voorval het in die Caima-nedersetting plaasgevind.

Volgens Shikwambi duur die polisieondersoek voort.

Intussen is ’n ander verdagte (32) agter tralies op Epembe nadat hy glo verlede week sy 62-jarige pa met ’n byl toegetakel het.

Die pa het ernstige beserings opgedoen.

In ’n ander voorval versoek die polisie op Ongwediva hulp met die uitkenning van ’n man wie se oorskot laat Vrydagaand by die Ohakwenyanga-nedersetting langs die pad gevind is.

Volgens Shikwambi het die man veelvoudige borswonde, “asof hy met ’n skerp voorwerp gesteek is”.

Geen identiteitsdokumente is by die man gevind nie, sê die woordvoerder.

Die polisie in die Kavango-Wesstreek is voorts op soek na die kêrel van ’n 24-jarige vrou wat haar na bewering verlede week verskeie kere aangerand het.

Volgens Shikwambi was sy vier maande swanger. Sy het weens die beweerde aanrandings die ongebore baba verloor, het die woordvoerder gesê.

Talle verkragtings het ook wéér die afgelope naweek oraloor die land plaasgevind.

Shikwambi sê ’n 40-jarige man is in die Evaristus Shikongo-gevangenis in die Oshikotostreek seksueel aangerand terwyl hy geslaap het – na bewering deur ’n medegevangene.

’n Meisie (17) is swanger nadat sy glo in Julie vanjaar op ’n plaas naby Gibeon deur ’n 52-jarige man verkrag is, sê Shikwambi. Die verdagte is in hegtenis geneem.

Vyf mans is nog op vrye voet ná hulle glo tussen Julie verlede jaar en Oktober vanjaar herhaaldelik ’n 15-jarige meisie op Ongwediva verkrag het.

Die woordvoerder sê voorts ’n verdagte (26) is aangekeer nadat hy na bewering verlede Woensdag ’n 17-jarige meisie naby Omatjete verkrag het.

’n Man (33) is die afgelope naweek by Outapi aangekeer nadat hy glo Vrydagaand sy 22-jarige meisie verkrag het.

Intussen sê Shikwambi ’n verdagte is voortvlugtend ná hy glo die afgelope naweek ’n 13-jarige meisie verkrag het. Die verdagte is na wat verneem word onlangs uit polisieaanhouding vrygelaat.

In nóg ’n voorval is drie mans van onderskeidelik 21, 22 en 30 jaar oud op Oshakati in hegtenis geneem nadat hulle na bewering Saterdag ’n 19-jarige meisie in haar kêrel se kamer verkrag het.

Twee van die mans is glo neefs van haar kêrel. Volgens Shikwambi was die kêrel nie tuis ten tye van die beweerde voorval nie.

Hiernaas is ’n 39-jarige man op Kalkrand aangekeer weens die beweerde verkragting van ’n 22-jarige vrou Saterdag.- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!