Geweldsprobleem is diep gewortel
Geweldsprobleem is diep gewortel

Geweldsprobleem is diep gewortel

Mandy Rittmann
JOHN DOE SKRYF:

Die skokkende berigte oor geweldpleging en bendevorming in ons skole is seker van die mees onderberigte verskynsels in ons gemeenskap.

Baie skole in ons land gaan gebuk onder die euwel, maar steeds staan ons volstruiskop in die sand oor die werklikheid van die probleem.

Menige hoogs intelligente, maar sensitiewe kinders se skoolloopbane was, is en sal in die toekoms kortgeknip word deur hierdie verskynsel, sou dit nie met mening vasgevat word nie.

Behalwe vir die geweld in ons gemeenskappe, die gewelddadige TV-speletjies, die "get-rich-quick"-rolmodelle wat aanbid word en 'n gebrek aan waardige, opregte en eerlike leierskap en ouerskap, het skoolkinders baie min alternatiewe anders as om op afbrekende maniere op te tree. Jy geniet mos erkenning as jy jouself as 'n "outie" kan bewys.

'n Gebrek aan leierskap in ons klaskamers en skole het daartoe gelei dat onderwysers gesag in hul klasse verloor het, met die gepaardgaande gebrek aan respek wat onderwysers moet verduur. Vir skoolbesture, onderwysers en ouers om eienaarskap van skole te neem, is 'n pypdroom, omdat partye nie meer weet wat hul rolle behels nie.

Ouers kla oor die rol van ouers; onderwysers kla oor die bestuur van skole, en die ministerie kla oor beide, terwyl die kind in die klaskamer soekend is na leiding, maar net lyding vind. Baie van ons kinders is so ver van die werklikheid geskei dat hul selfgevormde onwerklikheid die wêreld geword het waarin hul leef. Die soeke na erkenning, aanvaarding en bewuswording van die self, gekoppel met 'n gevoel van “shame”, maak die wêreld van die kind in die verwaarloosde, leierlose skool 'n resepteboek vir geweld en afdwaling.

Die skool as 'n instelling - nie 'n inrigting nie - in sy normale opset is veronderstel om 'n holistiese vorming en uitbouing van die kind te bewerkstellig, maar ongelukkig kan die normale nie in abnormale omstandighede bewerkstellig word nie.

Kom ons fokus vlugtig op sommige van die abnormaliteite in ons ministerie van onderwys, wat weerspieël word in ons skole en dus direk en indirek aanleiding gee tot geweldpleging, vandalisme en 'n gebrek aan dissipline, om net 'n paar gevolge te noem.

In die ministerie heers 'n leierskaps­krisis en aanstellings in strategiese poste geskied soos bestellings.

Kennis oor onderwyswette ontbreek en word vervang met 'n arrogansie om onkunde te verdoesel.

Die vul van bestuurposte bly ook 'n tameletjie by skole. 'n Kwansuise tekort aan geld word as rede aangevoer hoekom vernuf en kundigheid in die slag moet bly.

Kinders gaan vir kwartale lank skool sonder vak- of klasonderwysers. Nie dat daar 'n tekort aan onderwysers is nie, maar 'n gebrek aan beplanning wel.

Die afwesigheid van onderwysers, en kinders wat sonder toesig gelaat word, is die teelaarde vir afwykende gedrag. Later word dit die norm, omdat skoolbesture meer op hul posisies as op hul funksies en verantwoordelikhede konsentreer en as sulks 'n houding van godswater oor godsakker inneem.

'n Bose kringloop van wanbestuur ontwikkel in 'n skoolkultuur. Om die rede het sekere skole 'n goeie reputasie en andere ontwikkel reputasies van 'n ander aard. 'n Herbesoek van die rol van die onderwyser by 'n skool, laat die bloed stol.

Geen ondersoek is nodig om die rol van die onderwyser te vertolk nie, maar net 'n besoek aan skole sal voldoende wees om te sien wat rêrig in skole aangaan. Die afwesigheidsregister vir onderwysers moet net nagegaan word (sou so 'n register bestaan) om die omvang van die probleem te besef. By een van die skole wat in die koerantberig oor skoolgeweld genoem is, is afwesigheid die norm.

'n Gebrek aan, en die afwesigheid van beplanning by skole, geraak deur die nie-aanstelling of tydelike aanstelling van bestuurslede en onderwysers, is 'n verdere euwel. In die omstandighede kan jy nie 'n normale skool in 'n abnormale situasie verwag nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!