Gewilde oefenapp lap onwetend staatsgeheime uit
Dis nie aldag dat 'n oefenapp staatsgeheime uitlap nie, maar dis blykbaar presies wat nou gebeur het.
Soldate wat kranige drawwers is en die gewilde oefenapp Strava gebruik om hul vordering te meet, het onwetend die ligging van talle militêre basisse wêreldwyd verklap.
Strava het in November 'n interaktiewe kaart uitgereik wat die data van al sy gebruikers visualiseer. Die kaart bevat meer as 3 000 miljard GPS-datapunte wat wys waar 'n gebruiker van die app al gehardloop of geswem het. Hoe gewilder 'n roete, hoe helderder gloei dit op die kaart.
Hoewel dit op sigself nie na 'n probleem klink nie, het 'n oplettende sekuriteitsontleder van Australië ontdek dat sensitiewe inligting deur die kaart verklap word.
Nathan Ruser het hom tot Twitter gewend om militêre personeel te waarsku dat hul gunsteling-hardlooproetes die ligging en uitleg van die basis waar hulle gestasioneer is, verklap.
“As soldate die app soos gewone burgers gebruik deur die sporingsfunksie aan te skakel terwyl hulle oefen, kan dit uiters gevaarlik wees,” skryf hy op Twitter.
Ruser verduidelik dat vyande die inligting kan gebruik om gewilde drafroetes te bepaal en die soldate dan op daardie roetes kan aanval. Die kaart kan hulle ook help om die uitleg van die basis beter te verstaan.
Hoewel groot stede duidelik baie datapunte bevat, staan afgeleë militêre basisse in lande soos Afganistan, Somalië en Sirië uit weens die gebrek aan ander Strava-gebruikers in die gebied. Dis basies net die soldate wat dit daar gebruik.
Die situasie word vererger omdat die app gewilder is onder Westerlinge as diegene uit die Midde-Ooste en Oos-Afrika.
As 'n mens op die Strava-kaart inzoem, kan 'n presiese buitelyn van die militêre basis gesien word, soos soldate al met die grensdraad langs hardloop.
In Mogadisjoe kan gesien word hoe talle drawwers op 'n stuk strand naby die lughawe oefen. Gerugte doen al geruime tyd die ronde dat die Amerikaanse intelligensiediens, die CIA, 'n geheime basis daar het.
Volgens die BBC is die Amerikaanse weermag besig om die kaart te bestudeer. 'n Woordvoerder van die lugmag, kol. John Thomas, het aan The Washington Post gesê die moontlike gevolge word ook ondersoek.
Intussen sê Strava gebruikers wat kies om nie hul ligging bekend te maak tydens hul oefensessies nie, se data verskyn nie op die kaart nie. Die maatskappy het wel beloof hy gaan meer doen om gebruikers in te lig presies watter data hulle met die app deel.
Hoewel die presiese ligging van militêre basisse nie noodwendig 'n geheim is nie, is die uitleg daarvan dikwels wel.
Die Strava-kaart werp ook lig op soldate se daaglikse bewegings, byvoorbeeld watter roetes buite die basis hulle gereeld patrolleer.
“Jy kan basies 'n patroon van hul alledaagse lewe saamstel,” sê Ruser.
Strava se jongste kaart bevat data van 1 miljard individuele oefensessies en verteenwoordig 27 miljard kilometer se hardloop-, draf- en swemsessies.
– Netwerk24/Bronne: The Guardian, BBC, TechCrunch, The Washington Post

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie