Gewonde renoster dood
Gewonde renoster dood

Gewonde renoster dood

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Een van die twee renosters wat voor Kersfees naby Gobabis gekwes is, is dood.

Volgens die eienaar van Walmaine Boerdery, mnr. Walter Kinnear, het die renostervers wat op 22 Desember 'n aanval oorleef het waartydens 'n bul en 'n koei wreed gestroop is, “'n pynlike dood” sowat 'n maand later beleef.

Volgens Kinnear is nog twee patrone uit die agtjarige vers se liggaam verwyder en was daar infeksie in haar ingewande weens die ander wonde. Dit is veral 'n wond aan haar nek wat ernstige beserings veroorsaak het.

“Die ander patrone het haar ingewande heeltemal stukkend geskeur en sy het van binne gevrot,” het Kinnear gesê.

“Haar karkas is deur 'n plaasbestuurder gevind toe dit nog warm was. Sy was in 'n vroeë stadium dragtig.”

Volgens Kinnear is die jong bul wat ook tydens die voorval gekwes is en baie vleiswonde opgedoen het, se toestand stabiel.



VYFDE VERDAGTE VAS

Voorts is 'n vyfde verdagte, mnr. Zee Shekumba (39), op 25 Januarie op die plaas Khainas, waar hy 'n werker is, in hegtenis geneem. Hy het op 27 Januarie in die landdroshof op dié ­Oostedorp verskyn en is borgtog geweier.

Hy verskyn weer saam met sy mede­beskuldigdes, die voormalige spandokter van die Brave Warriors, dr. Gerson Kandjii, en mnre.Domingo Justice Moma, Erwin Tjiteere, en David Stephanus, op 31 Maart in die hof.

Die saak spruit uit die skiet van vier renosters op 22 Desember verlede jaar op Kinnear se plaas.

'n Stoetbul en 'n dragtige koei wat besig was om te kalf, is na bewering deur die mans geskiet. Die diere is dood gevind, met hul horings afgekap en gesteel. Die vers en jong bul is gekwes.

Kandjii was uit op borgtog van N$20 000 en moes reeds in September in hegtenis geneem gewees het toe hy versuim het om op te daag vir sy hofsaak in die landdroshof op Okahao, óók op klagte wat verband hou met renosterstropery.

Die staatsaanklaer staan borgtog sterk teë. Die rede hiervoor is dat die drie mans deur die Kalkrand-landdroshof op borgtog vrygelaat is in 'n moord- en roofsaak waarin 'n plaaseienaar, mnr. Reinhard Schmidt, in Febuarie 2015 vermoor is.

Kandjii was na bewering by die Kalk­rand-moordsaak betrokke nadat hy op borgtog van N$20 000 vrygelaat is in 'n saak van stropery van swartrenosters in die Etosha Nasionale Park. 'n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is in Augustus 2015 uitgereik toe hy nie vir 'n hofverskyning opgedaag het nie.



SKANDEERDERSERSANT IN HOF

Voorts het die polisiesersant wat na bewering 'n Chinese smokkelaar se 18 renosterhorings by die skandeerders op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako laat deurglip het, Vrydag vlugtig in die rondgaande hof by die lughawe verskyn.

Sers. Pendapala Iitula (42) het op klagte van regsverydeling en dwarsboming van die gereg verskyn en die verhoor is tot 8 April vir verdere ondersoek uitgestel.

Iitula is sedert sy eerste verskyning in November op borgtog van N$2 000 vrygelaat.

Hy het glo tydens die voorval op 23 November by die skandeerders op die lughawe gewerk toe die Chinese smokkelaar, Ye Zhiwei (28), met 18 horings in twee tasse deurgeglip het.

Ye het op 17 Januarie in die landdroshof in Kempton Park skuldig gepleit op die oortreding van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur wat bedreigde spesies reguleer. Hy word op Vrydag 10 Februarie gevonnis.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!