Ghaddafi se geld 'koop SA wapens'
Ghaddafi se geld 'koop SA wapens'

Ghaddafi se geld 'koop SA wapens'

Erika Gibson - Die Suid-Afrikaanse regering, die ANC en Denel het die Ver­enigde Nasies (VN) se paneel van kundiges oor Libië geïgnoreer toe hulle navraag gedoen het oor die sogenaamde “Ghaddafi-miljoene” en 'n vreemde multimiljardrandwapen­transaksie.
So sê die paneel in 'n verslag wat nou by die VN se veiligheidsraad ingedien is. Die verslag gaan oor vloei van wapens en geld in die konflik­geteisterde Libië – en Suid-Afrika ­figureer prominent daarin.
Die opstellers van die verslag sê hulle het vergeefs probeer om dokumente­ te verifieer van 'n oorplasing van $800 miljoen wat klaarblyklik vanaf 'n Standard Bank-tak in Suid-Afrika oorgeplaas is na 'n Stanbic-­bankrekening in Kenia.
“Die paneel het dokumentasie bekom wat toon dat twee groot oorplasings moontlik in die tweede helfte van 2011 gemaak is namens die Libya Africa Investment Portfolio (LAIP).
“Die dokumente wat die paneel bekom het, wys die betalings is uitgevoer deur Bashir Saleh al-Shrkawi vanaf 'n tak van Standard Bank Suid-Afrika.
“Die bestuur van LAIP het aan die paneel verduidelik dat hulle geen ­kennis dra van die begunstigde rekening nie.
“As die inligting in die dokumente akkuraat is, sal die oorplasings toon dat weggesteekte Libiese geld inderdaad beskikbaar is vir lede van die voormalige (Libiese) regime wat in Suid-Afrika is,” lui die verslag.
Standard Bank het nie op Rapport se navrae oor dié transaksie ge­reageer nie.
Die bewering is dat 'n klomp bates ná die dood van Moeammar Ghaddafi in 2011 deur Al-Shrkawi, Ghaddafi se voormalige stafhoof wat sedertdien in Suid-Afrika “onder beskerming” woon, na Suid-Afrika gebring is.
Volgens die paneel wou 'n Libiese afvaardiging wat hulself as die “Libyan Air Force” en “Air Territory Defense Forces” voorhou, 'n massiewe hoeveelheid wapens by Denel bestel. Dit het onder meer die verskaffing van 84 Rooivalk-aanvalshelikopters, 40 Oryx-helikopters, 500 missiellanseerders en duisende mortiere ingesluit.
“Die volumes en soorte materiaal wat aangevra is deur die Libiese party suggereer dat 'n groot bedrag geld inderdaad beskikbaar was en die onderhandelinge was klaarblyklik ver gevorderd.
“Die paneel het twee mense wat regstreeks by die onderhandelinge betrokke was, afsonderlik ondervra. Albei het beweer die materiaal sou gekoop word met die 'weggesteekte' bates van die Ghaddafi-regime wat reeds in Suid-Afrika was.”
Luidens die verslag het Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, in 2013 per brief haar ondersteuning vir die Denel-onderhandelings gegee ondanks wapensanksies wat teen Libië geld. Die brief is by die verslag ingesluit en maak melding van 'n vergadering wat op 5 Maart 2013 in Johannesburg gehou is.
Sover bekend het die beoogde transaksie met Denel nie plaasgevind nie.
Nie die departement van internasio­nale betrekkinge en samewerking, die departement van verdediging of die nasionale konvensionele wapen­beheerkomitee het op Rapport se navrae gereageer nie.
Die DA het in 2013 'n aansoek by die finansiële intelligensiesentrum in­gedien om meer inligting oor Al-Shrkawi­ en die beweerde Ghaddafi-miljoene in Suid-Afrika te bekom.
Pravin Gordhan, die voormalige minister van finansies, het dié aansoek afgekeur. Al-Shrkawi is op Interpol se lys van gesoektes en het ná Ghaddafi se dood na Suid-Afrika gevlug. Tim Harris, destyds die DA se woordvoerder oor finansies, het in 'n vroeëre verklaring gesê Al-Shrkawi reis oën­skynlik met die Suid-Afrikaanse regering se beskerming vryelik na en van Suid-Afrika.
Luidens die VN-verslag het Al-­Shrkawi in 'n onderhoud erken hy was tot in 2009 by die LAIP betrokke, maar dat hy sedert 2011 niks meer met die fonds te doen gehad het nie.
Die VN-paneel het vyf jaar lank pogings aangewend om die bates van die Ghaddafi-regime op te spoor aangesien groot hoeveelhede geld toenemend strydende groeperings in Libië van wapens voorsien. Dié wapens ondermyn pogings om stabiliteit in die land te bewerkstellig.
Hoewel Al-Shrkawi ontken dat hy in 2011 nog by die fonds betrokke was, is die oordrag van die $800 miljoen van Standard Bank in Suid-Afrika na Kenia glo deur hom gemagtig. Die bestuur van LAIP het geen kennis gedra van die begunstigde bank­rekening in Kenia waarheen die geld oorgeplaas is nie.
Luidens die verslag het Al-S­hrkawi bewerings oor die sogenaamde Ghaddafi-­miljoene as “lugspieëling” afgemaak.
“Die Libiese presidentsraad (wat deur die VN gemagtig is om vrede in die land te bewerkstellig) se werk word deur die volgehoue geheimsinnigheid oor die bates ondermyn. Die geheimhouding skep verder 'n risiko vir wanaanwending.
“Die tussengangers rapporteer duidelik aan verskeie owerstes wat nie noodwendig die raad goedgesind is nie,” sê die paneel. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!