Giftige Desert Storm kry hoofrol

Boks
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Sakaria (Desert Storm) Lukas klim op 8 Oktober by die Windhoek Buiteklub in die hoofgeveg teen Mohamed (Chico) Kamburuta van Tanzanië deur die kryttoue.
Lukas, wat deur vegknoper Nestor Tobias as die MTC Nestor Sunshine Boksakademie se bes bewaarde geheim bestempel word, sal sy tussentydse Afrika veergewigtitel van die Wêreldboksorganisasie (WBO) op die spel plaas.
Lukas spog met 17 gevegte en 17 oorwinnings, waarvan hy 12 (71%) met uitklophoue gewen het.
Sy 21-jarige opponent van Dar es Salaam is ook steeds onoorwonne en het self drie (21%) van sy elf teenstanders met uitklophoue verslaan.
Lukas is tans op die WBO-ranglys die negende aanspraakmaker op hul wêreldtitel. ’n Oorwinning is dus van kardinale belang, veral so kort voordat dié organisasie se jaarlikse kongres in Oktober in Puerto Rico gehou word.
In die hoofvoorgeveg trek Japhet (The Namibian Lion) Uutoni die handskoene teen Twalib Tuwa van Tanzanië aan.
Die 37-jarige Uutoni is die heersende internasionale junior vlieggewigkampioen van die WBO. Hy het dié vakante titel op 29 April in die Limpopo-provinsie teen Bongani Silila gebuit toe hy die geveg met ’n tegniese uitklophou kortgeknip het. Die Leeu is tans die WBO se sewende beste bokser op sy ranglys.
Die 26-jarige Tuwa van Bagamoyo, Tanzanië, het 18 gevegte, 15 oorwinnings (tien uitklophoue) en drie verloorgevegte op sy getuigskrif. Tuwa is self al by twee geleenthede uitgeslaan.
Boksentoesiaste kan hulle ook voorberei om die man met die ystervuiste in aksie te sien. Die 31-jarige Walter (The Executioner) Kautondokwa sal teen Chimwemwe Chiotcha van Lilongwe, Malawi, kragte meet.
Die Laksman se indrukwekkende uitkloprekord wat reeds elf slagoffers ná mekaar opgelewer het, is in net 12 gevegte behaal waarvan hy almal gewen het.
Die 32-jarige Malawiër het 16 gevegte agter die rug waarvan hy dertien gewen en tien (59%) met uitklophoue beklink het. Hy is nog nooit uitgeslaan nie, maar is drie keer met punte geklop.
Kautondokwa word as een van die hardste slaners in die wêreld beskou. ’n Oorwinning kan sy huidige 15de posisie op die WBO-ranglys verder verbeter.
“Walter is die heersende WBO Afrika middelgewigkampioen met ’n blink toekoms voor hom. Hy is ’n harde slaner en ’n uitklopspesialis wat reg bestuur moet word, want ons probeer vir hom geleenthede skep om sy posisie op die WBO-ranglys te verbeter. Dit is waarom hierdie geveg so belangrik vir hom is,” het Tobias verduidelik.
Kaartjies vir die gevegte is reeds by Computicket en die MTC Sunshine kantoor beskikbaar. Belangrike persone kan ’n tafel vir tien mense teen N$10 000 aanskaf, terwyl gewone kaartjies net N$200 kos.
Die aand se ander voorgevegte:
Junior kapokgewig, 4 rondes:
Andreas Amupolo (1 geveg, een verloor) tn Immanuel (No Fear) Shapaka (1F, 1L).
Kapokgewig, 4 rondes: Washe Andreas (1F, 1L) tn Shitilitha Johannes (2F, 2 w).
Weltergewig, 4 rondes: Mendu Kaangundwe (4F, 3W, 1L) tn Andreas Nghinananye (4F, 3W, 1L).
Middelgewig, 4 rondes: Paulinus Paulus (4F, 4 w) tn Felix Mwamaso (Malawi) (8F, 5W, 3L).
Junior liggewig, 4 rondes:
Manfred Haimbanga (5F, 1 gelykop, 4L) tn Lazarus Namalambo (7F, 4W, 3L).
Vlieggewig, 4 rondes: Jacob Jacob (2F, 1W, 1 gelykop) tn Japhet (Masterio) Amukwa (2F, 1W, 1L).
Junior liggewig, 4 rondes:
Onesmus Nekundi (11F, 7W, 2 gelykop, 2L) tn Immanuel (Angel) Andeleki (10F, 7W, 3L).
Weltergewig, 6 rondes: Jatoorora Tjingaveta (23F, 19W, 4L) tn Limbani Masamba (Malawi) (12F, 7W, 5L).

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer