Gim op Swakop slyp jong boksers
Gim op Swakop slyp jong boksers

Gim op Swakop slyp jong boksers

Boks
Die Swakopmundse bokser Albinius Felesianu, algemeen bekend op sy vegnaam Danny Boy, het ’n betekenisvolle hupstoot gekry in sy voorneme om ’n suksesvolle boksgimnasium op sy tuisdorp tot stand te bring.

’n Borgskap ter waarde van nagenoeg N$100 000 is aangewend vir die aankoop van verskillende toerusting en uitrusting, asook boumateriaal vir sy boksgimnasium wat as TBT (The Danny Team) bekend staan.

“Ek is baie geëerd om in hierdie moeilike finansiële tye sulke steun te kan ontvang. Ons werk tans met omtrent dertig kinders en jongmense, vanaf die ouderdom van sewe jaar, om hulle in boks as ’n sport te onderrig.

“Die boksgimnasium dra by om die jongmense van die verkeerde paaie af weg te hou en vir hulle geleenthede te help skep. ’n Mens weet ook nooit waar Namibië se volgende groot bokskampioen vandaan sal kom nie, maar ons weet dat Swakopmund en Walvisbaai reeds verskeie vorige kampioene op elke vlak van die sport opgelewer het,” sê Felesianu.

Die genoemde borgskap is afkomstig van Padez Distributors, verskaffers van skryfbehoeftes en elektroniese toebehore, waarvan mnr. Basil Pasquallie die eienaar is. Pasquallie het ander maatskappye aangemoedig om waar moontlik die TBT-boksklub te ondersteun, wat tussen die woonbuurte DRC en Mondesa geleë is.

Felesianu het reeds in 2007 ’n beroepsbokser geword en het sedertdien 21 gevegte agter die blad, waarvan die laaste in 2018 was. Ná sy enigste twee nederlae in 2008 het hy altesame 16 gevegte op ’n streep gewen om sy huidige beroepsrekord op 18 oorwinnings (sewe uitklophoue) en twee nederlae te staan te bring.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer