GIPF-sage verdiep

Die aanklaer-generaal sê sy kan haar besluit heroorweeg om niemand weens 18 omstrede GIPF-lenings te vervolg nie.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die deur om mense weens die verdwene miljoene van die staat se pensioenfonds (GIPF) te vervolg, is opnuut oop.

Me. Martha Imalwa, die aanklaer-generaal, het die afgelope week by navraag gesê sy het eers Dinsdag bewus geword van GIPF se uitvoerende hoof, mnr. David Nuyoma, se weergawe van die sage van die verlore dokumente.

Sy het via e-pos gesê: “Geliewe ingelig te word sodanige inligting is eers op 10 September 2019 onder die aanklaer-generaal se aandag gevestig en die aanklaer-generaal het die kantoor van die uitvoerende hoof van die GIPF genader en die dokumente in hul besit versoek wat verband hou met die mislukte instellings wat lenings van GIPF ontvang het,” lui haar skrywe aan Republikein.

Imalwa onderneem voorts op skrif om haar onlangse aankondiging te hersien dat net een mens in dié stadium weens een van die 21 omstrede lenings ten bedrae van N$661 miljoen aanstaande maand voor die hof gedaag sal word.

“Indien sodanige dokumente aan ons kantoor verskaf word, dan sal hierdie kantoor sy besluit wat vantevore geneem is, heroorweeg wat met sulke instellings verband hou,” sê sy.

Die jongste wending kom nadat die GIPF Maandag by monde van Nuyoma gesê het niks van sy dokumentasie is weg nie.

Imalwa het laat in Augustus ’n storm ontketen met ’n aankondiging dat net een mens weens die verdwene GIPF-miljoene vervolg sal word.

Nuyoma het dié week gesê hulle het ook nie van inligting ontslae geraak wat met die Development Capital Portfolio (DCP) verband hou nie, omdat hulle geweet het hoe belangrik dié inligting was ondanks ’n gebruik van sekere instellings om dokumentasie net vir vyf jaar te berg.

Oor Imalwa se jongste standpunt het Nuyoma gister via WhatsApp gesê: “Dit gaan dol. Ek sal daarna kyk.”

Die polisie het in geen stadium aangedui hulle beskik nie oor alle inligting nie, het Nuyoma benadruk.

“Toe die aangeleentheid ’n polisiesaak word, het die polisie hier aangekom en alles ingesamel waarop hulle hul hande kon lê; álles,” het hy gesê.

“Ons was oop met hulle om hulle al die dokumente te gee wat hulle benodig.”

Adj.komm. Edwin Kanguatjivi, die nasionale polisiewoordvoerder, het gister gesê die polisie het alles aan die aanklaer-generaal verskaf wat van hulle verlang is. Hy sê hy kan geen kopmmentaar op haar beslissing lewer nie.

Hy het Maandag gesê hy kan hom nie uitlaat oor Imalwa se geheue nie. Al wat hy weet, is hulle het húl deel gedoen, het hy gesê.

Die aanklaer-generaal het onlangs verduidelik die polisieondersoek was ’n aanklaer-gedrewe proses wat beteken aanklaers in haar kantoor was deurlopend by die proses betrokke om leiding te bied.

Imalwa het gesê sy het besluit om niemand in verband met 18 van die lenings te vervolg nie weens gebrekkige of afwesige inligting, omdat sommige inligting net vyf jaar gestoor word, en omdat party mense nie meer die besonderheed kan onthou nie of intussen dood is of elders werk.

Volgens Nuyoma het net drie van die 21 instellings wat destyds lenings met ’n totale waarde van N$661 miljoen ontvang het geen sent terugbetaal nie.

Dié drie het gesamentlik N$27 miljoen by die fonds geleen.

In totaal is N$386,6 miljoen van die N$661 miljoen skoonveld en die GIPF het meer as N$1 miljard – kapitaal en rente – terugontvang.

Hy het toegegee GIPF het geen interne stappe gedoen teen enige van sy werknemers of raadslede nie.

Op ’n vraag of hy geskok was deur Imalma se aankondiging dat net een mens weens die skandaal vervolg sal word, het hy Maandag gesê: “Ek is nie in die besigheid van om geskok te word nie.”

Imalwa het onlangs gesê sy bestudeer nog een dossier.

Nuyoma het ook Maandag gesê dit is moeilik om te sê presies hoeveel die GIPF sou geïn het sou die leningstransaksies nie skeefgeloop het nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!