GIPF weerlê Imalwa se weergawe

Die uitvoerende hoof van die staat se pensioenfonds sê hulle het volledige inligting oor verdwene miljoene met die owerhede gedeel.
Denver Kisting
Denver Kisting - Die staat se pensioenfonds (GIPF) het gister by monde van sy uitvoerende hoof, mnr. David Nuyoma, gesê geen van sy dokumentasie is weg nie.

Dít kom nadat die aanklaer-generaal, me. Martha Imalwa, verlede maand 'n storm ­ontketen het met 'n aankondiging dat net een mens weens verdwene GIPF-miljoene vervolg sal word.

Eweneens sou hulle nie van inligting ontslae geraak het wat met die Development Capital Portfolio (DCP) verband hou nie, omdat hulle geweet het hoe belangrik dié inligting was ondanks die gebruik van sekere instellings om dokumentasie net vir vyf jaar te hou, het Nuyoma gister op 'n nuuskonferensie in Windhoek gesê.

Die polisie het in geen stadium aangedui hulle makeer enige ­inligting nie, het Nuyoma gesê.

“Toe die aangeleentheid 'n polisiesaak word, het die polisie hier aangekom en alles ingesamel waarop hulle hul hande kon lê; álles,” het hy gesê.

“Ons was oop met hulle om hulle al die dokumente te gee wat hulle benodig.”

Hy sê hy kan hom nie oor Imalwa se geheue uitlaat nie. Al wat hy weet, is húlle het hul deel gedoen, sê hy.

Die aanklaer-generaal het onlangs benadruk die polisieondersoek was 'n aanklaergedrewe een en aanklaers in haar kantoor is deurgaans by die proses betrek om leiding te bied.

Imalwa het vroeër gesê een man word volgende maand op ­Oshakati voor die hof gedaag. Sy het gesê sy identiteit kan eers onthul word sodra hy in die hof verskyn.

Imalwa het gesê sy het besluit om niemand vir 18 van die lenings te vervolg nie weens gebrekkige of afwesige inligting, mense wat nie meer die besonderhede kan onthou nie of intussen dood is of elders werk.

Net drie betaal geen sent

Volgens Nuyoma het net drie van die 21 instellings wat destyds lenings met 'n totale waarde van N$661 miljoen ontvang het, geen sent terugbetaal nie.

Dié drie het gesamentlik N$27 miljoen by die fonds geleen.

In totaal is N$386,6 miljoen van die N$661 miljoen skoonveld en het die GIPF meer as N$1 miljard – kapitaal en rente – ontvang.

Hy het toegegee die GIPF het geen interne stappe gedoen teen enige van sy werknemers of raadslede nie.

Op 'n vraag of hy geskok was deur Imalma se aankondiging dat net een mens weens die skandaal vervolg sal word, het hy gesê: “Ek is nie in die besigheid van om geskok te word nie.”

Imalwa het onlangs gesê sy bestudeer nog een dossier.

Die oudvakbondleier en hedendaagse politikus, mnr. Evilastus Kaaronda, het oor Imalwa se bevinding gesê daar is niks onvoldoende aan die be­skikbare getuienis teen diegene wat onregmatig baat gevind het by staatsamptenare se pensioengeld nie.

“Sy (Imalwa) moet net haar stories agtermekaar kry.”

Volgens Imalwa is die toedrag van sake jammer. “Dit is betreurenswaardig,” het sy toegegee.

“Ons is ook Namibiërs. Ons is ook mense wat tot die GIPF-pensioen bygedra het. Meer as N$660 miljoen is in die proses verloor.”

Dit het problematies geraak om die geld se spoor tydens die ondersoek te vind, het sy gesê.

Haar assistent, me. Karabo Sweni, het gister bevestig Imalwa het Republikein se vra ontvang en sal vandag daarop reageer.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer