Girovlieënier vlieg ‘sonder lisensie’
Mnr. Pierre Blaauw se mediese sertifikaat was volgens die voorlopige ongeluksverslag nie hernu nie, wat sy vlieglisensie ongeldig maak.
Francoise Steynberg
Die vlieënier wat op 17 Desember met sy girokopter en een passasier op die pad na die Internasionale Lughawe Hosea Kutako neergestort het, het nie ’n geldige vlieglisensie gehad nie, omdat sy mediese sertifikaat nie hernu was nie.
Volgens die voorlopige ondersoekverslag van die direktoraat van vliegtuigongelukondersoeke (DAAII) in die ministerie van werke en vervoer, het mnr. Pierre Blaauw (40) nie ’n geldige mediese sertifikaat gehad nie, wat sy vlieglisensie ongeldig maak.
Sy laaste mediese ondersoek op 23 Junie 2020 het volgens die verslag vir Blaauw medies ongeskik verklaar.
Ander bevindinge in die ondersoek, wat steeds voortduur, is dat die girokopter met registrasiemerk V5-ULT se lugvaardigheidsertifikaat volgens burgerlugvaartregulasies tot 23 Junie vanjaar geldig sou wees.
“Die laaste jaarlikse inspeksie wat op die girokopter voor die ongeluk uitgevoer is, was op 6 Augustus 2020,” lui die verslag.
“Die girokopter het ’n verdere twee ure sedert die inspeksie gevlieg.”
Die enjin van die girokopter is op 18 Desember – ’n dag ná die ongeluk – uitmekaar gehaal en volgens die verslag is geen meganiese foute bevind nie.
Blaauw en sy passasier, mnr. Donbaldt Noa (26), het volgens die verslag omstreeks 14:02 by Eros-lughawe in die hoofstad opgestyg vir ’n private vlug oor Heja Lodge en terug na Eros.
“Lugverkeerbeheer by Eros-lughawe het toestemming vir die vlug op ’n hoogte van 7 000 voet gegee,” lui die verslag.
“Lugverkeerbeheer was in kontak met die girokopter, maar het geen noodoproep ontvang” toe dit om 14:12 kraglyne getref, op die lughawepad geval en in vlamme uitgebars het nie.
“Die girokopter het die kraglyn teen 20 tot 30 voet getref wat veel laer as die toegelate hoogte van 7 000 voet is,” lui die verslag.
Volgens die verslag het ’n lid van die publiek wat op die pad gery het, die direktoraat van die ongeluk ingelig.
“Die girokopter was uitgebrand toe brandweerpersoneel 30 minute later op die ongelukstoneel sowat 15 km oos van Widhoek opgedaag het,” lui die verslag.
Noa, die seun van die direkteur-generaal van die Teenkorrupsiekommisie (ACC), mnr. Paulus Noa, het in die ongeluk gesterf. Blaauw is in ’n kritieke toestand met ernstige brandwonde in die Lady Pohamba Private Hospitaal in die hoofstad opgeneem waar hy die volgende oggend gesterf het.
Mnr. Johannes Kambonde, wat by die ongelukstoneel aangekom het, het aan Republikein gesê hy het Blaauw uit die girokopter getrek en tot langs die pad gesleep, waarna die gras vlamgevat het.
Terwyl hy gespook het om die vlamme te blus, het ’n egpaar, mnr. Danie en me. Mella Opperman wat tussen Aranos en Leonardville boer, by Blaauw gesit, vir hom water gegee en gebid. Hy en die familie waardeer hul hulp, “terwyl ander net video’s en foto’s geneem het”.
Die wrak is deur DAAII na ’n veilige plek in Eros vir ’n indiepte-ondersoek vervoer.
Die volledige ondersoek duur voort en die finale ongeluksverslag sal ná deeglike ontleding uitgereik word.
Blaauw se gedenkdiens vind Saterdag om 09:30 op die plaas Freiheit Ost in die Witvlei-omgewing plaas.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie