Glip weg vir 'n uur se gholf

Gholf
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die Windhoek Gholf- en Buiteklub (WGCC) open môre amptelik sy splinternuwe driesyfer Mashie-gholfbaan waar spelers vanaf 12:00 die nege putjies met mening kan takel.

Die oorspronklike Mashie was 'n gholfyster met 'n 33 grade hoek voor die 20ste eeu waarmee spelers toentertyd hul naderhoue na die putjies gespeel het. Die naaste hieraan vandag is 'n vyf- of ses-yster, maar dit is ook waar die ooreenkomste stop.

Steve Basson, direkteur van gholf by die WGCC, sê die baan is in 'n rekordtyd van 56 dae gebou.

“Nadat die beplanning van die baan met Aqua Splash-water as borg afgehandel is, is die eerste sooi op 1 Februarie gespit. Die baan met 'n totale lengte van 584 meter was op 28 Maart gereed en ons kon die eerste proeflopie doen met 60 spelers wat deelgeneem het.

“Die baan met net nege putjies is van so 'n aard dat 'n speler dit binne 'n uur met net drie stokke kan voltooi!

“Behalwe 'n setyster, kan die spelers hul eie oordeel gebruik wanneer hulle die ander twee gholfstokke kies. Maar gewoonlik is 'n wigyster en sandwigyster voldoende om die baan baas te raak. Die kortste putjie is 48 meter, terwyl die langste uitdaging 95 m is.

“Almal het nie die tyd om om drie ure aan hul geliefde spel gholf af te staan nie. Daarom is die Mashie-baan ideaal vir mense om ná werk vinnig nege putjies te speel en betyds vir ander verpligtinge te wees. Dit is ook ideaal vir meesterspelers wat nog nie die stokke wil wegpak nie.

“Die Mashie-baan is aangrensend tot die bestaande afslaan-oefenbof, dus sal die twee entiteite beurte maak om gholfentoesiaste te akkommodeer. Die Mashie-baan is ideaal vir enige speler wie se kort spel sy achilleshiel is en wat sy tegniek wil omtower.

“Ons sal binnekort ligte om en op die baan installeer, dus kan mense gerieflik met die nuwe gloeiende balletjies mekaar ná sononder die stryd aansê. Dit is 'n opwindende idee en 'n ongelooflike manier vir familie en vriende om mekaar uit te daag of vir maatskappye en private instansies wat dit vir spanbou wil gebruik.

“Ons sal nie meer as vier spelers per groep kan toelaat nie en net gewone gholfdrag sal aanvaar word.

“Skoliere speel vir net N$10, terwyl lede van die WGCC N$50 per nege putjies moet betaal en nie-lede N$100.

“Ons beplan om elke Donderdag 'n 'sundowner'-dag te hou wat om 16:00 afslaan. Tans is dit met die gewone gholfdissipline uiters gewild en sal selfs nog gewilder wees met die Mashie-baan. Dis 'n sosiale byeenkoms, waarna die spelers vure aansteek en elkeen sy vleisie op die kole gooi,” vertel Basson entoesiasties.

Verrigtinge begin môre om twaalfuur met 'n beterbal- en stableford-kompetisie. Die inskrywing is N$250 per span en die amptelike opening en prysuitdeling sal vanaf 19:00 plaasvind. Vir meer inligting kan Steve Basson by 081 141 5885 of [email protected] bereik word.



Tye vir die Mashie-baan en oefenbof

Maandae: Mashie 11:00–18:00, oefenbof gesluit.

Dinsdae: Mashie gesluit, oefenbof 07:00–18:00.

Woensdae: Mashie 13:30–18:00, oefenbof 07:00–13:30.

Donderdae: Mashie gesluit, oefenbof 07:00–18:00.

Vrydae, Saterdae en Sondae: Mashie 12:00–18:00, oefenbof 07:00–12:00.

Kommentaar

Republikein 2024-12-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 21° | 33° Oshakati: 21° | 32° Ruacana: 22° | 29° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 21° | 30° Gobabis: 19° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 23° Rehoboth: 24° | 33° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 26° | 38° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 21° | 30° Cape Town: 20° | 30° Durban: 19° | 27° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 30° Harare: 18° | 27° #REF! #REF!