Gly-gly die nuwe jaar in
Almal wat my ken, weet al teen hierdie tyd ons boerboel Bella regeer ons huishouding met ’n ysterhand.
Ons probeer vir onsself lieg en sê ons is in beheer, maar almal weet sy is die baas van die plaas.
Die ding van Bella is dat sy verskriklik intelligent is. Sy is ook baie lief vir roetine. Sy weet al teen hierdie tyd sy gaan stap twee keer ’n dag. Voor werk is my ma aan die beurt vir rondte een en ná werk is dit my beurt vir rondte twee.
Bella het ook geleer hoe om horlosies te lees, want sy weet hoe laat elke stappie moet wees. Die dae wat ons nie werk toe gaan nie, keer dit haar beslis nie. Sodra die gewone staptyd naby is, begin Bella met haar tirades.
Sy hardloop op en af in die gang tot jy aan haar aandag gee. Dan begin sy huil en tjank en blaf tot hoor en sien vergaan. Jy gee later in, want jy wil darem nog oor vyf jaar jou gehoor hê.
Met die reën het ons nogal ’n groot uitdaging, want Bella ken nie van wag nie. Al reën dit katte, honde, seekoeie en kamele, wil sy gaan stap.
Ek besluit toe een middag ek sal maar met sambreel die reën aandurf, want die gekerm was besig om my onder te kry.
Die verskoning van tekkies wat ek dra, se sole is gladder as ’n baba se boudjies, maar met Januarie en sy 531 dae is daar eenvoudig nie nou geld om dit te vervang nie.
Die oomblik toe ek my voete op die teer sit, weet ek hier kom groot moeilikheid, want ek gly-gly so deur die straat.
Die een tekkie het ook reeds ’n lekker gaatjie in, so binne drie treë is my sokkie papnat.
Bella het geen genade nie en sleep my in die pad af. Ek probeer regop bly, maar dit is soos om teen donderweer te poep. Die sambreel help ook nie meer nie, want tussen die val en die reën is alles papnat.
Ek hoor ’n motor aankom en besef ek sal seker uit die pad moet beweeg, en besluit om op die middelman tussen die twee bane te klim.
Grootste. Fout. Ooit.
Met gladde tekkies en die reën het ek vergeet die middelman is nog gladder as die pad. Mariselle spring soos ’n wafferse springbokkie op die kant van die middelman, want in my kop is ek mos Candice Swanepoel wat een of ander Victoria’s Secret fotosessie in die reën het. (Moenie maak asof jy nog nie in die reën geloop het en jou dit verbeel het nie.)
Met die trap besef ek hier is dit nou. Ek kan voel hoe gly my voete onder my uit en ek sien hoe die aarde nader kom.
Ek probeer my beste om die sambreel, Bella se leiband en my waardigheid vas te hou, maar dit is tevergeefs. Ek val dat ek hik met my boude in ’n plas water. Bella se band is om my enkels gedraai, wat dit onmoontlik maak om op te staan.
Toe ek sit, besef Bella hier is fout, en dié besluit sy moet my beskerm, maar dit kan sy net doen as sy op my skoot sit. Met haar nat lyfie val sy met haar volle gewig op my skoot.
Jy sal hoop daar is geen motors nie, en gewoonlik is daar nie, maar vandag is die ark oop. Al wat ’n motor is, ry aan albei kante verby. Hulle probeer stop en vra of ek oukei is, maar Bella wil niks weet nie. Sy voel sy is meer as opgewasse genoeg om na my te kyk en blaf dat hoor en sien vergaan, terwyl sy soos koningin Elizabeth op haar troontjie (my skoot) sit.
En die sambreel? My waardigheid lê teen die teer, maar sambreeltjie is nog stewig in die handjie. Ek is klaar papnat, maar soos Mary Poppins klou ek vir alles wat ek werd is aan die blerrie sambreel.
Ná 15 minute kry ek Bella gekalmeer en van my skoot af, en kry ek dit reg om op te staan. My elmboog se velle is af, my boude is seer en eintlik is ek so effens oor dit.
Die slotsom: Die middelman is glad.
Dit is al.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie