GM: Einde van u2019n era
GM: Einde van u2019n era

GM: Einde van ’n era

GM Internasionaal het besluit om uit Suid-Afrika te onttrek omdat sy belegging in vervaardiging in die land nie die verwagte opbrengs sou bied nie.
Ferdi de Vos - “Braaivleis, rugby, sonskyn en . . . ”
Dié ikoniese klingel waarmee Chevrolet-motors in die jare sewentig plaaslik bemark is, kan nou in die vergetelheid verdwyn nadat die Amerikaanse motorreus, General Motors (GM), weer sy onttrekking aan die land aangekondig het. GM het ook in 1985, om politieke redes, uit die land gewyk, waarna dit vir ’n dekade as die Suid-Afrikaans beheerde Delta-motorkorporasie hier sake gedoen het. Die Generaal het in 1994 gedeeltelik en in 2004 weer volsterkte teruggekeer.
Luidens ’n verklaring uitgereik in Port Elizabeth deur Stefan Jacoby, uitvoerende visepresident van GM en president van GM Internasionaal, het Afrika se naasoudste motorvervaardiger besluit om te onttrek omdat sy “voortgesette of verhoogde belegging in vervaardiging in Suid-Afrika nie die verwagte opbrengs, gemeet aan ander globale beleggingsgeleenthede, sou bied nie”.
Volgens hom is ná ’n deurtastende ondersoek van GM se werksaamhede in Suid-Afrika bevind die beste oplossing sou wees om die vervaardiging en verkope van Chevrolet-voertuie in die land te beëindig, en terselfdertyd Isuzu se ligte handelsvoertuig-bedrywighede hier uit te brei.
In wese beteken dit dat Isuzu die Struandale-aanleg en GM se minderheidsbelang in Isuzu Truck Suid-Afrika sal koop, beheer van GM se onderdele-verspreidingsentrum en voertuig-ombou- en verspreidingsentrum in Port Elizabeth sal oorneem en sy eie handelaarsnetwerk in die land verder sal ontwikkel.
Dié aankondiging val saam met ’n verklaring wat deur Dan Ammann, president van GM, in Detroit uitgereik is waarin die motorreus aandui hy gaan – as deel van ’n nuwe strategiese plan om op winsgewende markte soos China en die VSA te fokus – ook sy werksaamhede in Indië teen einde vanjaar beëindig.
Dit vorm deel van ’n omkeerplan wat Mary Barra, GM se uitvoerende hoof, in werking stel in ’n poging om die gewonde Generaal se winsgewendheid te herstel.
Die reusegroep het verlede jaar maar net sowat 49 000 voertuie gesamentlik in Suid-Afrika en Indië van die hand gesit.
Volgens Jacoby sal die vervaardiging en verspreiding van Chevrolet-voertuie einde vanjaar gestaak word (hoewel nog onderhewig aan samesprekinge met werknemers en die vakbonde, soos die wet vereis), wyl nou saam met die Franse PSA-Groep – wat onlangs die GM-filiaal Opel/Vauxhall gekoop het – gewerk sal word om toekomstige geleenthede vir die Opel-handelsmerk plaaslik te ondersoek.
Volgens Ian Nicholls, president en besturende direkteur van GMSA, is die besluite nie ligtelik geneem nie, en onderneem die maatskappy om alle belanghebbendes wat deur die skok-stap geraak word, insluitende Opel en Chev-eienaars, in die oorgangstydperk te ondersteun.
Behalwe dat die onttrekking tot 1 500 werksgeleenthede regstreeks kan raak, kan dit ook tot heelwat werkverliese in die verskaffingsketting lei, aldus Irvin Jim, hoofsekretaris van die vakbond Numsa.
Dit kan ook sakevertroue in die bedryf verder laat taan, synde GM, wat in 1926 ’n monteringsaanleg hier gevestig het, vir langer as 90 jaar ’n leidende vervaardiger in die land was. Net Ford is al langer in Suid-Afrika.
Chevrolet-modelle was vir dekades voorverkopers in die land, en vele GM-handelsmerke, waaronder Cadillac, La Salle, Oldsmobile, Buick, GMC, Bedford, Opel en Vauxhall, is oor die jare heen in die Straundale-aanleg gebou.
Chev-produksie en -verkope het in die jare sewentig ’n hoogtepunt bereik (wie onthou nie die Chev Kommando en Constantia, die 2500, 3800 en 4100 nie?), maar ironies genoeg was dié modelle op Opel- en Vauxhall-produkte gegrond.
Dié bloeitydperk het selfs die Ranger, Suid-Afrika se sogenaamde "eie motor”, die lig laat sien, maar dit was ook op Opel gebaseer.
Ook tydens GM se afwesigheid ná 1985 was dit Opel (en Isuzu) se produkte wat GM hier verteenwoordig het. Met die Generaal se terugkeer het Daewoo-gegronde produkte en die geleidelike uitfasering van Opel egter die Chev-handelsmerk baie skade berokken, en verkope het getaan.
Dit kan egter juis Opel wees wat ’n sprankel van hoop vir Struandale bring.
Met gerugte dat Peugeot (PSA) dalk binnekort nie meer amptelik nie, maar deur ’n plaaslike invoer- en verspreidingsmaatskappy hier verteenwoordig sal word, kan PSA dalk besluit om Opel se rol hier verder te versterk.
Dit sal sin maak, veral gegewe die steeds stewige verkope van die plaaslik geboude Chev Utility (oftewel die Opel Corsa-bakkie, soos dit vroeër bekend gestaan het).
’n Aankondiging deur Opel oor sy toekomsplanne in Suid-Afrika word op 8 Junie verwag. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!