G’n blerrie kiem gaan pret briek
“Ouma, is jy my maatjie?”
Die groot babablou-oë vol vrae laat skiet trane in my eie.
Dis nie die eerste keer dat die outjie ‘n pleister vir die eina van isolasie kom bedel nie. Dieselfde troos word dikwels gesoek by net die handjievol familielede wat hy sedert lockdown mag sien.
Emosioneel behoorlik agter slot en grendel, sy hartjie ‘n tronk sonder maatjies. Letterlik sonder kind of kraai.
Hoe verduidelik jy vir ‘n laaitie van twee en ‘n half hoekom hy oornag net skielik nie meer mag kleuterskool toe gaan nie? Nie maatjies mag sien nie. Nie speelparkie toe mag gaan nie. Nie by Ouma- en Oupa-groot mag gaan kuier nie. Nie saam met Ouma njammies by die winkel mag gaan koop nie.
Stap hy om by my te kom kuier, verstaan hy nie hoekom hy net vir die maatjies oorkant die straat mag waai nie. Net hallo-sê, nie nader gaan om ‘n drukkie te gee nie.
My hart bloei vir sy koppie wat als moet probeer kleinkry. Wat op sy manier moet verwerk dat daar ‘n “siekie” daar buite is en dat mense meteens gevaarlik kan wees.
Die mooi sinnetjies wat hy al plek-plek maak, is veronderstel om te borrel van kindwees. Op hierdie ouderdom behoort hy nie na woorde hoef te soek wat van sy frustrasie, bangwees en magteloosheid oor ‘n onsigbare vyand vertel nie.
Hy – soos alle ander kleintjies wêreldwyd – moes sorgeloos en sorgvry gewees het. Nie besorg nie.
“Natuurlik is ek jou maatjie!” paai ek.
En doen dadelik wat alle oumas nie behoort nie – of juis móét – doen: Gee die mannetjie carte blanche.
Maak ‘n tamaai modderpoel in die tuin waarin hy kan baljaar. Plantjies uitgooi want die potjies speel dan so lekker in die minimoeras. Sy modderhandjies teen die muur kan druk. (Ek gaan dit raam.) Hopeloos té veel voëltjiekos die wêreld vol strooi.
Is net daai paar blou oë nog al wat sigbaar is, word ‘n skuimbad met ‘n bietjie té veel water (jammer!) getap. Basta met droë vloere! Daar word gespring en geskop tot die water later by die badkamer uitloop. Als okei, niks wat Ouma se skoon handdoeke nie kan opslurp nie.
Groente vir middagete? Watwou! As my mensie té diep in sy bottel melk saligheid wil soek terwyl Spiderman op die kassie hom tot in droomland sus, dan is die saak piekfyn. Daai bekkie wat wortels en ertjies moet afwurg, is sy ma se probleem.
Laatmiddag as die karnallie – anders as sy ouma – opnuut propvol lewe is, stroom Gods water opnuut oor Gods akker.
Wel, die honde se water. Tuin toe en vuil word met sy ma wat op pad is, is taboe. Maar die honde se reusewaterbak in die kombuis is nie. Handevol woefkorrelkos word ingedompel saam met al wat ‘n speelding is.
G’n probleem. Pap hondekos maak die vierpote se aandete smaakliker. Het die advertensie van toeka dan nie gesê: “Dis die lékkerrrr sous?”
Die gewraakte “siekie” het meer as genoeg reëls en regulasies. Reg of verkeerd, in hierdie ouma se huis is daar nou nie moets en moenies nie. Daar’s net hope en hope liefde en soektogte na nuwe avontuur tussen vier mure.
“Ja, Ouma se groot liefde, natuurlik is ek jou maatjie!”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie