G’n einde aan motorbedryf se ellende
Nuwe voertuigverkope koers reeds sedert die middel van 2015 afwaarts en ontleders verwag dié neiging sal vanjaar voortduur.
Jo-Maré Duddy – Die altesaam 3 463 nuwe voertuie wat in die eerste kwartaal vanjaar in Namibië verkoop is, is die laagste in vyf jaar, sê IJG Securities.
Vergeleke met die eerste drie maande van 2016 is 801 of 18,8% minder nuwe voertuie van die hand gesit. Teenoor die 5 813 van die ooreenstemmende tydperk in 2015, het verkope in die eerste kwartaal vanjaar met 2 350 eenhede of 40,4% getuimel, toon IJG se databasis.
Altesaam 1 635 nuwe passasiersmotors is die afgelope kwartaal verkoop. Dit is 245 (13%) laer as dieselfde drie maande verlede jaar en 839 (34%) minder as in 2015. Die 1 683 nuwe ligte kommersiële voertuie wat van Januarie tot Maart uit vertoonlokale vertrek het, is 504 (23%) minder as ‘n jaar gelede en ook 1 313 (44%) minder as in 2015.
Teenoor die eerste kwartale van 2016 en 2015 het die 56 nuwe middelslag kommersiële voertuie wat verkoop is, met 32,5% en 49,6% onderskeidelik geval. Die 89 nuwe swaarvoertuie wat die afgelope kwartaal eienaars gekry het, is onderskeidelik 21,9% en 61,6% minder.
IJG is veral bekommerd oor dié syfers. Die verkope van swaar- en ekstra-swaarvoertuie in die eerste kwartaal in 2017 is van die laagste in bykans tien jaar, sê dié ontleders. “Dit is ‘n aanduiding dat besighede nie in nuwe toerusting belê nie.”
Nuwe voertuigverkope koers reeds sedert die middel van 2015 afwaarts en IJG verwag dié neiging sal vanjaar voortduur.
Die trae ekonomie rem verbruikers se vermoë om op kapitale bates te bestee. Voorts is almal katvoet vir hoër rentekoerse, veral ná Suid-Afrika se afgradering tot rommelstatus. Verandering aan kredietwetgewing – wat nou ‘n deposito van 10% op motorlenings vereis en die afbetalingstermyn na 54 maande verminder het – gaan verkope ook briek, sê IJG.
Boonop besnoei die regering besteding drasties. Die sowat N$220 miljoen vir voertuigaankope wat Calle Schlettwein, die minister van finansies, in totaal vir die volgende drie begrotingsjare tot 2019-’20 opsy gesit het, is bykans N$150 miljoen minder as wat belastingbetalers net in 2015-’16 daarvoor moes opdok.
*Altesaam 1 402 nuwe voertuie is verlede maand in Namibië verkoop. Dit lyk só: Passasiersmotors 688 (Februarie: 728); ligte kommersiële voertuie 642 (730); middelslag kommersiële voertuie 23 (27) en swaarvoertuie 49 (40).

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie