G'n fondse om oproepe in selle te stuit

Mathias Haufiku
Mathias Haufiku – Tronkbase sê hul planne om seinblokkeerders (jammers) by korrektiewe fasiliteite te laat installeer, het oor die jare weens 'n gebrek aan fondse doodgeloop.

Ten spyte van herhaalde versoeke om strenger maatreëls in te stel om te keer dat gevangenes selfoontoestelle gebruik, is dit vir die Namibiese Korrektiewe Dienste (NCS) 'n opdraande stryd om tred te hou met gevangenes se immerveranderende smokkeltaktieke.

Die hoof van NCS, komm.genl. Raphael Hamunyela, het Maandag gesê wat die smokkel van selfone in tronke betref, is die grootste oortreders korrektiewe beamptes wat met gevangenes konkel.

“Ons het baie gevalle van beamptes wat 'n hand het in die smokkelary en ons hanteer dit. Baie van die skuldiges is reeds afgedank. Ons probeer alle middele inspan om te verseker dat selfoontoestelle nie by ons fasiliteite inkom nie,” het hy gesê.

Volgens Hamunyela sal dit meer effektief wees om seinblokkeerders te gebruik as om oproepe te onderskep.

“Ons wou seinblokkeerders hê, maar ons begroting laat dit nie toe nie. Ons het reeds telefoongeriewe, so daar is geen behoefte aan selfone nie.

“Ons kan ook nie die beslaglegging van selfone prys nie, want dit behoort in die eerste plek nie daar te wees nie. Ons moet daaraan werk om die toestelle op te spoor voor dit binne is,” het hy gesê.



'MAGSMISBRUIK'

Hamunyela se opmerkings volg op die Popular Democratic Movement (PDM) se versoek dat personeel by gevangenisse die mag moet hê om telefoongesprekke tussen gevangenes en buitestanders te onderskep. Dit ten spyte van vrese dat tronkbeamptes hul magte kan misbruik en die reg op prokureur-kliënt-vertroulikheid kan skend.

“Gevangenes sal slegs toegelaat word om die mense op hul spesifieke lys van vriende en familie te bel. Elke keer as die gevangene iemand as 'n moontlike kontak lys, sal die sekuriteitsdienste eers agtergrondondersoeke doen en die aard van die verhouding bevestig om te verseker dat die kommunikasie om 'n veilige en gesonde rede plaasvind,” het die party Maandag in 'n brief aan Hamunyela gesê.

Volgens die party se wetgewer, mnr. Timotheus Shihumbu, sal hierdie toestelle “die personeel van die korrektiewe fasiliteit ook in staat stel om die meeste soorte oproepe binne en buite die tronk af te luister en op te neem en daar sal uit­sonderings op hierdie reël wees. Sekere oproepe word beskerm as dit wettige of mediese inligting bevat.”

Hy het gesê hy sal 'n mosie indien om 'n “regulasie in te stel wat die suksesvolle installering van behoorlike sekuriteitstoestelle in alle tronkselle so gou moontlik sal verseker, wat kommunikasie tussen gevangenes en hul geliefdes in die buitewêreld sal verbeter”.



BINNEMISDAAD

Shihumba het ook misnoë uitgespreek oor die feit dat een van die Fishrot-beskuldigdes, mnr. James Hatuikulipi, na bewering by meer as een geleentheid met selfone in sy besit betrap is.

“Gegewe die wyse waarop julle jul pligte uitgevoer het, kan 'n mens net aflei dat iemand binne u institusionele groep met hierdie beskuldigdes saamwerk in hul pogings om met regspleging in te meng.

“Ek doen dus 'n beroep op u om vinnig op te tree voordat u die goeie naam van korrektiewe fasiliteite en howe in twyfel trek,” het hy geskryf.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!