G’n perke aan Brad Binder-vlerke
Sport
Marizanne Kok – As iemand met ’n kristalbal Brad Binder ’n maand gelede trompop geloop het met die nuus dat hy sy eerste seisoen as MotoGP-jaer later vanjaar in die top-10 van die kampioenskap sou afsluit, sou hy van dié vreemde ontmoeting weggestap het met ’n huppel in sy stap.
Maar dit was voordat hy ’n volle Grand Prix gewen het, in net die derde MotoGP-ren van sy lewe – en amper onmiddellik besef het: Glorie maak gulsig.
“Toe ek laas Sondag in Oostenryk agtste eindig, het dit gevoel soos die einde van die wêreld,” erken Binder die afgelope week met ’n skewe glimlag. “Ewe skielik is dit nie meer goed genoeg nie.”
Binder het drie weke gelede (twee dae voor sy 25ste verjaarsdag) die grootste hoogtepunt van sy jong lewe beleef toe hy in die Tsjeggiese Grand Prix in Brno eerste oor die eindstreep gejaag het. Hy was die eerste Suid-Afrikaner wat in MotoGP kon wen en het die Red Bull KTM-span ook hul eerste sukses op dié vlak besorg.
Suid-Afrikaners was in ekstase, die motorfietsgemeenskap in ongeloof. Hier was ’n propperse groentjie, met minder as ’n maand as MotoGP-jaer agter hom, en hy rol verby almal met die kalmte en beheer van ’n veteraan!
Selfs hy kon nie glo wat hy vermag het nie. En nou, sê hy, is alles anders.
“Die laaste paar weke was taamlik besig omdat ons nog twee renne gehad het (waarin hy onderskeidelik vierde en agtste was), so dis lekker dat ek nou twee weke af het om na te dink oor wat gebeur het,” sê Binder.
“Voor die seisoen begin het, sou ek tevrede gewees het met enigiets in die top-10. Om nou reeds te kon wen, is regtig ongelooflik, en dit voel amper asof alles van hier af ’n bonus sal wees.
“Maar natuurlik is my eie en ander mense se verwagtinge van my nou hoër, wat ’n mens seker uit verskillende hoeke kan beskou. Ek is beter af as wat ek sou wees as ek nie gewen het nie, sonder twyfel, maar jy voel tog jy het hierdie groot ding vermag en moet dit aanhou doen. Ek weet nou waartoe ek in staat is.
“Aan die ander kant is ek ’n groentjie in MotoGP, ek was in die eerste plek nie veronderstel om te wen nie. Dis iets wat ek glad nie verwag het nie, maar daardie eerste sege is nou uit die pad en dis lekker om te onthou.”
Dis nie net dat Binder homself nou ’n MotoGP-wenner kan noem wat die oë laat rek het nie, maar ook dat hy dit vermag het ná ’n werklike uitdagende hoofstuk in sy lewe.
Binder het sy Moto2-loopbaan verlede jaar afgesluit met oorwinnings in al drie die jaar se laaste renne en breëbors opgedaag vir sy eerste MotoGP-toetssessie. Maar sy nuwe motorfiets het hom met mening terug aarde toe geruk.
Die fiets was ’n monster en dit het Binder ’n lang ruk geneem om gemaklik daarop te raak. En net toe hy sy voete vind, tref die onvoorsiene: ’n Pandemie wat die hele wêreld tot stilstand sou ruk, en die jong Suid-Afrikaner se MotoGP-debuut met máánde sou uitstel.
Ná die uitstel van die seisoen se eerste renne het Binder huis toe gekom na sy ouers in Krugersdorp. Daar, het hy in Mei gespot, was sy hoogtepunt om een keer ’n week die gesin se vullis buite toe te dra.
Sy KTM-fiets het vanselfsprekend nie saamgekom nie, en die momentum wat hy daarop gehad het, het elke dag minder geraak.
Binder sou drie maande later eers teruggaan Europa toe – foltering vir ’n man wat vir so te sê die helfte van sy lewe al die wêreld plat reis om sy motorfiets-drome na te jaag.
“Jis, dit was moeilik,” sê hy. “Die inperking was goed in die opsig dat ek tyd gehad het om my brein anders te bedraad, om te vergeet van Moto2 (waarin hy tot verlede jaar gejaag het) en my sielkundig kon instel vir die nuwe avontuur van MotoGP.
“En natuurlik was dit lekker om tyd saam met my familie deur te bring.
“Maar ek het ook geleer ek is regtig nie goed daarmee om op een plek te bly nie. Ek is gewoond daaraan om altyd op die pad te wees, dis my lewe van ek seker omtrent 13 was. Natuurlik het ek al dae gehad waar ek gedink het dit sal lekker wees om ’n slag op een plek te bly en ’n rustige lewe te hê, maar ná ’n maand daarvan was ek verby keelvol daarvoor,” lag hy.
Binder se behoud was die tuis-gimnasium in sy ouers se huis, maar hy moes sy tweewiel-passie teen ’n aansienlik stadiger pas uitleef as waaraan hy gewoond is.
“Toe ons weer tussen ses en nege in die oggend kon gaan oefen, het ek in daai tyd gaan fietsry. Dit was darem iets,” sê hy.
Dit was nietemin nie iets wat hom kon voorberei op sy terugkeer na die blitsige realiteite van MotoGP nie.
Met sy terugkeer na Europa kon Binder uiteindelik by die Misano-renbaan in Italië weer klim op die KTM wat hy in Maart moes agterlaat.
Dit was skrikwekkend, sê hy.
“Onthou, ek het vir weke op die rusbank gesit. Die vinnigste wat ek in die tyd in Suid-Afrika beweeg het, was miskien teen so 130 km/h wanneer ek in die dorp rondgery het. Toe kom ek by Misano aan en ek klim op ’n motorfiets met 300 perdekrag. Ek moet jaag om die baan teen 340, 350 km/h. Dit was ’n wekroep, dit was waansinnig!
“Ek het die eerste twee dae verlore gevoel, my brein was net nie reg om te hanteer hoe vinnig dinge op die fiets gebeur het nie.
“Jy mis jou merk (waar jy moet remme gooi) met een meter en dan beland jy in die middel van nêrens, in die gruis langs die baan. Dit was glad nie maklik om dit baas te raak nie.”
Gelukkig, sê Binder, het sy lyf en brein gou onthou dat hy geen vreemdeling vir sulke spoed is nie. Hy was immers net 17 toe hy begin meeding het op die wêreldverhoog, in die Moto3-klas, en 21 toe hy in 2016 as Moto3 se wêreldkampioen gekroon is. Daar lê baie jare van jaag agter hom.
“Die vreemde ding is jou liggaam raak gewoond aan die spoed van so ’n vinnige motorfiets. Ek weet dit lyk verskriklik vir mense wat nooit so jaag nie, maar uiteindelik begin voel selfs 300 km/h, of die reuse-versnellings in die pylvak, so stadig soos om te loop.”
Met Binder se naam wat die afgelope weke die wêreld oor weergalm het, is daar heel verstaanbaar baie belangstelling in wie hy is.
Die goeie nuus is dat ’n dokumentêr wat sy hele paadjie tot sy huidige sukses vertel, aanstaande maand uitgereik sal word.
Binder sê hy is nie heeltemal seker wat om te verwag nie, maar is opgewonde daaroor.
“Dis al meer as ’n dekade sedert ek in 2009 in die Red Bull Rookies Cup-reeks begin jaag het, en van toe af was daar gereeld kameras om my. Die dokkie sal baie agter-die-skerm-materiaal hê, en ook ’n bietjie van my ‘normale lewe’ by die huis.” - Netwerk24/Rapport
FOTO
Brad Binder op die KTM-motorfiets wat hom vroeër die maand tot ’n sege in die Tsjeggiese Grand Prix gedra het. Foto Getty

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie