• Tuisblad
  • Sake
  • G'n verligting vir invoer van elektriese voertuie
G'n verligting vir invoer van elektriese voertuie
G'n verligting vir invoer van elektriese voertuie

G'n verligting vir invoer van elektriese voertuie

Dit blyk die Suid-Afrikaanse regering is lief daarvoor om die wiel van vooraf te probeer uitvind.

Daar is geen planne om die invoer van elektriese voertuie aan te moedig deur die hoë invoertariewe op motors te verlaag nie, het Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, onlangs in antwoord op 'n vraag van die parlementslid Manny de Freitas van die DA gesê.

De Freitas het gevra watter aansporingsprogramme die regering in plek het om elektriese voertuie in te voer.

Patel sê die huidige invoerheffing van 25% op motorvoertuie is om die plaaslike motorbedryf te steun, en belegging en werkskepping in die bedryf aan te moedig.

Volgens Patel gaan die departement van handel en nywerheid binnekort met die motorbedryf in gesprek tree oor vooruitsigte om die montering van elektriese voertuie plaaslik te doen.

Bykans elkeen van die motorvervaardigers in die land se internasionale beheermaatskappye het reeds hul eie elektriese voertuie.

Maar dis die regering self wat 'n paar jaar gelede die geldkraantjie toegedraai het van sy eie projek om 'n plaaslik ontwerpte elek­triese voertuig, die Joule, te bou nadat hy ongeduldig geraak het met die ­vordering om met bouwerk te begin.

Optimal Energy, die private maatskappy wat die Joule ontwikkel het, is gedeeltelik met staatsgeld gefinansier, maar net toe die maatskappy op die punt was om 'n deurbraak te maak om motorvervaardigers te oortuig om die Joule plaaslik te vervaardig, het die regering in 2012 besluit hy het nie meer geld nie.

Die regering wil dus nou van vooraf weer dié perdjie opsaal.



Belowende beleggings­geleentheid

Andrew Dittberner, beleggingshoof van Old Mutual Private Client Securities, sê in 'n verklaring die internasionale skuif na elektriese voertuie bied egter 'n belowende beleggingsgeleentheid.

Hy sê die groeiende lys van lande wat petrol- en dieselmotors stelselmatig in hul middestede gaan verbied, en die groei van elektriese voertuie het tot 'n skerp styging in die prys van kobalt gelei wat 'n belangrike bestanddeel in die ­litiumbatterye van elektriese motors is.

Dittberner noem Samsung en Apple wat nou regstreeks met myne onderhandel om kobaltvoorraad te verseker.

Hy noem Glencore (nikkel, koper en kobalt) en Angloplat (platinum) as maatskappye met beleggingspotensiaal omdat hulle kritieke elemente in die bou van elektriese voertuie lewer.

Glencore het vroeër vandeesmaand ingestem om sowat 'n derde van sy kobaltproduksie oor die volgende drie jaar aan die Chinese ­battery-herwinnaar GEM te verkoop.

Dittberner verwys na die Elektriese­voertuig-inisiatief – 'n liggaam wat in 2009 gestig is om lande en rolspelers te help in die skuif na elektriese voertuie. Suid-Afrika is ook nogal so ewe een van die tien lidlande van die projek, maar het hopelik iets geleer uit sy Joule-oefening om hierdie keer nie weer die wiel van vooraf te wil ontdek nie.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!