G’n voorwaardes gekoppel aan IMF-lening
Jo-Maré Duddy – Geen voorwaardes is verbonde aan die miljarde wat die regering by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) moes leen om die impak van die Covid-19-pandemie op die Namibiese ekonomie te versag nie, het die minister van finansies, mnr. Iipumbu Shiimi, gister verseker.
Die IMF het ‘n lening van sowat N$3,9 miljard onder sy Rapid Financing Instrument (RFI) aan die regering toegestaan. Dit moet oor ‘n tydperk van vyf jaar teen ‘n rentekoers van 1,1% terugbetaal word.
In sy verklaring verwerp Shiimi persepsies dat die lening toegestaan is op voorwaardes – veral dat die regering ingestem het om salarisverhogings vir staatsamptenare vir vyf jaar te vries, of dat ‘n vroeë aftreeskema geïmplementeer word sonder dat vakbonde in die saak geken is.
Nadat die meeste van die NBC se werknemers op 22 April met ‘n landswye staking begin het, is gerugte van dié voorwaardes versprei. Die stakers het onder meer op teruggedateerde salarisverhogings van 8% aangedring. Die staking het op 26 Mei geëindig sonder dat die regering aan dié eis voldoen het.
Shiimi het gister gesê die regering het reeds in 2016-’17 begrotingstappe gedoen om besteding te besnoei en die toename in sy skuld te beperk. Die bestuur van die staat se salarisrol was deel van dié beleid. Die vul van vakante poste en salarisverhogings is gevries.
Die maatreëls vir begrotingshervormings is nie weens Covid-19 se impak op die ekonomie nie en is nie die gevolg van die RFI-lening nie, het Shiimi beklemtoon.
“Dié hervormings is in opeenvolgende begrotingstoesprake en -beleidsraamwerke aangekondig. Die geleidelike en geprioritiseerde implementering hiervan geskied reeds die afgelope vier jaar.”
VOORWAARDES
Volgens Shiimi stel die IMF dikwels voorwaardes as ‘n land deel van ‘n bestuurde ekonomiese of finansieringsprogram van dié fonds word. Dit is nie die geval met Namibië se RFI-lening nie.
“’n RFI is nie ‘n finansiële program of ‘n normale leningsoperasie nie. Dit is ‘n ooreenkoms vir noodbefondsing. Dít is hoekom, teen ‘n rentekoers van 1,1%, dit goedkoper is in die konteks van Namibië as ‘n hoër-middelinkomste land,” het Shiimi gesê.
“Die RFI-reëling word op ‘n land se bestaande en moontlike beleidsrigtings teen skokke toegestaan. Dit is voldoende as ‘n land kredietwaardig is en geloofwaardige stelsels en beleidsrigtings het om begrotingsrisiko’s en sy geldsake omsigtig te bestuur,” het hy gesê.
Die RFI-lening is deel van ‘n “kombinasie van finansieringsbronne” om die regering se begrotingstekort van N$15,9 miljard in 2021-’22 te befonds. Dit sal help om begrotingsprogramme en ontwikkelingsprojekte te finansier, “veral die verhoogde behoeftes in die gesondheidsektor, maar ook vir ontwikkelingsprogramme wat die land in staat sal stel om die nadelige impak van Covid-19 op lewens te hanteer,” volgens Shiimi.
DUUR STAATSDIENS
Die IMF het onlangs sy verslag oor Namibië vrygestel ná sy jaarlikse konsultasie met die regering in Februarie. Soos in verskeie vorige IMF-verslae, is die hoë salarisrol uitgelig.
Die regering se totale personeeluitgawes in 2021-‘22 is ongeveer N$28,5 miljard – sowat vyf keer meer as die totale ontwikkelingsbegroting vir vanjaar. Insluitende die regering se bydrae tot die staat se mediese fonds (Psemas), verteenwoordig die salarisrol sowat 46% van totale besteding en bykans 60% van totale inkomste in 2021-’22.
Die jongste IMF-verslag bevat ‘n brief van voorneme (“letter of intent”) van Shiimi en die president van die Bank of Namibia (BoN), Johannes !Gawaxab, wat hulle in Februarie aan die besturende direkteur van die fonds, me. Kristalina Georgieva, gerig het.
Hierin sê hulle die regering gaan die salarisrol in toom hou deur dit nie in 2021-’22 te verhoog nie, buiten in maatskaplike sektore wat ‘n prioriteit is. Shiimi en !Gawaxab sê voorts ‘n “geteikende en ‘n ingefaseerde vroeë aftreeskema” sal geïmplementeer word.
GEEN KONTRAK
Shiimi het gister gesê die brief van voorneme is nie ‘n kontrak met die IMF nie. Dit is bloot ‘n beskrywing van die land se beleidsrigting en maatreëls wat self geïnisieer en geïmplementeer is. “Dit beteken nie ‘n bindende kontrak met die fonds nie,” het hy gesê.
Die IMF sê onder meer in die verslag “die [Namibiese] owerhede is daartoe verbind om die salarisrol in toom te hou deur die vries van nominale salarisverhogings en geen inflasieverwante aanpassing in 2021-’22. ‘n Geteikende vroeë aftreeskema sal tydens 2022-’23 en 2023-’24 geïmplementeer word.
Volgens die IMF kan dié beplande vroeë aftreeskema as ‘n gebeurlikheidsmaatreël bespoedig word indien die regering se inkomste uit die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu) laer as verwag is.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie