Gobabis-polisieman skakel glo jong teenstander uit
Gobabis-polisieman skakel glo jong teenstander uit

Gobabis-polisieman skakel glo jong teenstander uit

Die hofsaak van die speurder wat daarvan beskuldig word dat hy 'n tiener wat by sy meisie betrokke was in 2016 doodgeskiet het, begin volgende jaar.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - In 'n voorverhoorkonferensie Donderdag in Windhoek se hoërhof het regter Dinnah Usiku gelas dat die moordverhoor van mnr. Lazarus Oscar Awaseb (49), wat spruit uit 'n voorval waarin die 18-jarige Odilo Rathebe Motonane doodgeskiet is, volgende jaar op 23 Julie sal begin.

Awaseb was die misdaadondersoekeenheid by die Epako-polisiekantoor se bevelvoerder op Gobabis toe hy na bewering probeer het om sy meisie, me. Mildred Haoses, te vermoor en vir Motonane dood­geskiet het.

Hy het glo tydens dié voorval ook een skoot op homself afgevuur.

Volgens die klagstaat was Awaseb nie tydens die beweerde skiet­voorval aan diens nie.

Die klagte wat Awaseb in die gesig staar is moord, poging tot moord, alternatiewelik die nalatige afvuur van 'n vuurwapen, die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie, kwaadwillige saakbeskadiging en diefstal.

Dit is die staat se saak dat 'n romantiese verhouding tussen Awaseb en die 23-jarige Haoses gedurende 2015 ontwikkel het.

In daardie stadium was Haoses glo reeds ook in 'n verhouding met die oorledene.

Die staat beweer hierdie verhouding het nie Awaseb se goedkeuring weggedra nie.

Beide verhoudings het na ­bewering voortgeduur totdat Haoses haar ­verhouding met Awaseb in Maart verlede jaar beëindig het.

Volgens die staat het hierdie toedrag van sake vir Awaseb daartoe gedryf om sy voormalige vriendin se eiendom in Epako op Gobabis te be­skadig en in die vroeë oggendure van 22 Maart met 'n gelaaide pistool op die twee minnaars te skiet.

Hy het glo vir Haoses drie keer in haar been geskiet voor sy daarin geslaag het om te vlug. Die ­oorledene is na bewering twee keer in die rug geskiet voor Awaseb homself raakgeskiet het.

Die klag van diefstal teen Awaseb hou verband met 'n onbekende aantal ysterplate, asook 'n yskas en 'n mikrogolfoond wat hy na bewering tussen 18 en 22 Maart 2016 uit Haoses se huis verwyder het.

Hy het glo ook 'n tuisteater beskadig wat hom 'n klag van kwaad­willige saakbeskadiging op die hals gehaal het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!