Goed as Harley geboikot word, su00ea Trump
Goed as Harley geboikot word, su00ea Trump

Goed as Harley geboikot word, sê Trump

In die jongste sarsie skote oor staaltariewe tussen pres. Donald Trump van Amerika en die motorfietsvervaardiger Harley-Davidson, sê Trump dit is “goed” as verbruikers dalk die motorfietsvervaardiger gaan boikot as die maatskappy van sy vervaardiging weens die tariewe oorsee gaan skuif.

CNN berig Trump het Sondag oor die moontlike boikot getwiet.

“Baie @harleydavidson-eienaars beplan om die maatskappy te boikot as vervaardiging oorsee skuif. Goed so! Die meeste ander maatskappye kom in ons rigting, insluitende Harley se mededingers. Regtig ’n slegte skuif! VSA gaan gou ’n gelyke speelvlak hê of beter,” twiet Trump.

Reuters berig Harley-Davidson het vroeër vanjaar ’n plan aangekondig om, in ’n poging om die tariewe te omseil, die vervaardiging van motorfietse vir die Europese mark na sy oorsese fasiliteite te skuif.

Dit is uit vergelding oor Trump se belasting op staal- en aluminiuminvoer na die VSA.

Trump het in reaksie hierop Harley-Davidson gekritiseer en gevra vir hoër, geteikende belasting en het gedreig om buitelandse vervaardigers na Amerika te lok en die mededinging so te verskerp.

Die president se opmerking kom nadat hy Bikers for Trump-ondersteuners die naweek by sy gholfklub in Bedminster, New Jersey, onthaal het, berig CNN.

Dosyne motorfietsryers het op die luukse klubhuis toegesak waar Trump hande geskud het, vir foto’s geposeer het en ’n toespraak gegee het.

Die Amerikaanse vraag na motorfietse het getaan terwyl buitelandse belangstelling toegeneem het.

Harley sê hy kan soveel as $100 miljoen ’n jaar verloor weens die tariewe en die maatskappy het hom voorgeneem om van sy vervaardigingsprosesse oorsee te skuif om die tariewe op motorfietse wat in die EU verkoop word vry te spring. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer