Goed of kwaad vir Namibiu00eb?
Goed of kwaad vir Namibiu00eb?

Goed of kwaad vir Namibië?

Augetto Graig
Die stryd tussen goed en kwaad is in Namibië so na aan die oppervlak van die alledaagse lewe dat die nagevolge van ’n verlore stryd almal vinnig vang.

Ons nasie is so klein dat die versluierde gevalle van korrupsie, misbruik en onverantwoordelike onbevoegdheid vinnig kop uitsteek.

Daarmee saam kom die tande ook uit, en mens word van onder af gebyt – reg in die beursie.

Toenemende wanbestuur raak alles van infrastruktuur, geboue, paaie en geriewe tot die omgewing.

Kan jy nou glo die bewoners van ’n woestynland sit stil, terwyl gierige, gulsige geldaanbidders bome afkap en wegry?

So ’n nasie verdien seker wat hy kry.

Dit is tog bloot onnosel, of is dit pure malligheid?

Word die waarde van die bome nie besef nie? Waar wei jou diere in die woestyn? Ek vra maar net.

Tog is daar pogings om die groter stryd te oorwin.

Dié week staan ’n minister voor die hof om oor bewerings van korrupsie rekenskap te gee.

Ek kan nie onthou dat so ’n hoë gesag al ooit in die verlede hier moes pa staan vir haar of sy tekortkominge nie, en daar was baie gevalle waar dit geregverdig sou wees.

Ek hoor die naweek was die hoof van ’n buitelandse smokkelsindikaat ook agter tralies. Blykbaar het hy sedertdien weer borgtog gekry.

Ons sal ook maar moet sien of die minister skuldig bevind gaan word en wat die straf daarvoor sal wees.

My punt is dat die oorlog in Namibië voortduur. Almal worstel met oorlewing in onregverdige omstandighede.

Met die beursies styf toe en nors uitdrukkings op hul gesigte vaar gewone Namibiërs elke dag in met die hoop om vanaand met net ’n klein bietjie meer sekerheid oor die toekoms te kan slaap.

Baie werk by misdadige organisasies en is soms onbewus van hul bydrae tot die plundering van die land en die verspreiding van armoede wat daarmee gepaard gaan.

Op voetsoolvlak is die nood so groot dat min oorweging gegee word aan die langtermyngevolge van vandag se aksies.

Menslikheid is van die eerste eienskappe wat laat vaar word. Later word selfs die vermoë onderdruk om tussen reg en verkeerd te onderskei.

Of jy dit nou sien of nie – jou optrede en jou betrokkenheid is van belang.

Soms is jou blote teenwoordigheid genoeg om dinge om te keer.

Dit is noodsaaklik dat ons almal ons aandeel besef in die gemors waarin ons vandag sit. Ons ingesteldheid moet verander.

Ons moet die verrotting nie langer duld nie.

Ons moet die aftrek van ons Namibië en die verkoop van ons kinders se toekoms stop.

Ons moet nee sê as ’n ompad gevat wil word.

Ons moet weier as iets skelmpies onderdruk word.

As iets verkeerd is, sê so.

Dit is jou reg.

Dit is jou verantwoordelikheid.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer