Goeie aanvraag na Amerikaanse entstof
Goeie aanvraag na Amerikaanse entstof

Goeie aanvraag na Amerikaanse entstof

Vroeë tekens wys beskikbaarheid van Johnson & Johnson se entstof kan meer eerste besoekers na inentingspunte lok, maar teen die afgelope week was die entstof nog net in vier streke beskikbaar.
Dani Booysen
Die besending uit Duitsland van 200 000 dosisse AstraZeneca wat gister in Namibië sou aankom, sal verseker dat mense nie soos tevore weer vir hul tweede inspuitings sal moet wag nie.

Teen ‘n gemiddeld van sowat 8 000 van hierdie entstof wat tans per week gebruik word, sou die voorraad van 75 000 dosisse wat vroeg in Augustus in die land aangekom het teen volgende week uitgeput gewees het.

Terselfdertyd was daar sedert Vrydag veral in die hoofstad ‘n goeie opkoms van mense wat Johnson & Johnson verkies; die eenmalige spuit wat deur die Amerikaanse maatskappy se Nederlandse en Belgiese sustersmaatskappye Janssen ontwikkel is. ‘n Besending van 130 000 dosisse van die entstof het verlede Dinsdag in die land aangekom.

Volgens daaglikse inentingsverslae is Johnson & Johnson vanaf Vrydag beskikbaar gestel in die Khomas-, Erongo-, Otjozondjupa-, Oshana- en Zambezi-streke.

In die Windhoek-distrik is Vrydag 649 eerste inentings gedoen: 240 met Sinopharm, 146 met AstraZeneca, 253 met Johnson & Johnson en tien met Sputnik V.

Die Russiese entstof het op 2 September gearriveer, maar kan nie in gewone yskaste gestoor word nie. Die voorgeskrewe berging teen minus twee tot minus agt grade is as rede vir die vertraging in die uitrol van die entstof aangebied. Volgens daaglikse bulletins is dit net in Windhoek beskikbaar.

Saterdag is in Windhoek nog 288 dosisse van Johnson & Johnson benut teenoor 105 eerste inentings met Sinopharm en 63 met AstraZeneca.

In die Otjozondjupastreek is teen Sondag 144 dosisse van Johnson & Johnson toegedien; 60 in Erongo, nege in Zambezi en vyf in Oshana.

EERSTE SES MAANDE

Namibië se inentingsveldtog teen Covid-19 het op 19 Maart begin.

Teen Sondag het ‘n afgeronde 10% van die bevolking ‘n eerste spuit ontvang en 6% was volledig ingeënt; met ander woorde net ses uit elke 100 inwoners.

In Suid-Afrika en Zimbabwe is meer as 10% van die bevolking reeds volledig ingeënt.

In plaaslike immuniseringsverslae word spuite met Johnson & Johnson gelys as eerste inspuitings, maar nie ingesluit by volledige immunisering nie. Tans is ‘n opvolgspuit met die entstof nie nodig nie, maar dit sal soos sake staan nie die persentasie van volledige inentings verander nie.

Vordering daarmee om 60% van die bevolking in te ent, die doelwit vir kudde-weerstand, staan wat eerste en tweede dosisse betref op onderskeidelik 16% en 10%.

Ons grafika wys opvolgspuite bly meer as eerste inentings, maar vanaf Donderdag lyk dit of die gety dalk begin draai. Alle streke rapporteer egter nie elke dag nuwe data nie.

Verlede week is wel 28 000 inentings in totaal gerapporteer teenoor onderskeidelik 25 000 en 24 000 die twee weke voor dit.

Die rekord is tans die 9 823 inentings wat vir 10 Augustus gerapporteer is; bestaande uit 1 854 eerste en 7 969 tweede spuite. Dit was net nadat die lang verwagte nuwe voorraad van AstraZeneca gearriveer het.

HARDAP LOOP VOOR

Teen Sondag het 16,6% van die Hardapstreek se bevolking ‘n eerste inenting ontvang en 9,8% (een uit tien inwoners) was volledig ingeënt.

Khomas beklee die tweede plek met 13,8% eerste spuite en 9,3% volledige immuniserings.

Wat eerste inentings betref, is Omaheke is in die derde plek met ‘n koers van 13,2%. Erongo is ‘n kortkop agter met 13%.

In die derde posisie met volledige inentings is Erongo met 8,6%. Die syfer vir Kavango-Wes, met die kleinste bevolking in die land, staan op 8,5%.

Van Namibiërs wat ‘n eerste spuit ontvang het, het 64% – byna twee derdes – reeds vir die opvolginenting opgedaag.

Die koers is meer as 66% in sewe streke, insluitende Erongo, ||Kharas, Khomas, Otjozondjupa en Oshana. Die hoogste is Zambezi se 72% (net 3% van die streek se bevolking is egter volledig ingeënt – die minste in die land) en 71% in Kavango-Wes.

In Omusati en Oshikoto maak volledige inentings 65% uit van die aantal mense wat reeds vir immunisering opgedaag het.

Ons grafika wys volledige immuniseringskoerse vir ander streke.

Streekgewys is die meeste positiewe gevalle aangeteken in Khomas (41 510) en Erongo (18 222).

Otjozondjupa se kumulatiewe totaal, 9 381, staan digby 10 000, gevolg deur Oshana met 9 001 totale gevalle.

Kavango-Wes het nog net 637 gevalle van Covid-19 bevestig. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!