Goeie beplanning beperk verliese in droogtekrisis
Goeie beplanning beperk verliese in droogtekrisis

Goeie beplanning beperk verliese in droogtekrisis

Boere moet verliese beperk deur betyds van minder produktiewe diere ontslae te raak en te fokus op hul goeie genetiese materiaal.
Ronelle Rademeyer
Dit is noodsaaklik om te onderskei tussen aanvullende voeding en droogtevoeding. Die doelwit met aanvullende voeding is om optimale prestasie te behaal deur die tekorte in weidings aan te vul.

Met aanvullende voeding behoort daar volop weiding beskikbaar te wees, selfs al sou die kwaliteit van die weiding swak wees.

Droogtevoeding tree in wanneer die weiding (ruvoer) beperk is en nie meer in staat om in 30% van die diere se voedingsbehoeftes te voorsien nie. Die doelwit met droogtevoeding is om die diere aan die lewe te hou en daardie produksiepeil te handhaaf wat die optimum opbrengs op belegging sal realiseer.

Tydige bemarking

Omdat beskikbare ruvoer beperk is tydens droogtetoestande, is dit gewoonlik raadsaam om die swakste diere te identifiseer en te bemark. Hier is dit belangrik om vroegtydig die identifikasie te doen, sodat die diere bemark kan word met die minste moontlike insette, dus terwyl daar nog ruvoer beskikbaar is wat as basis van die rantsoen kan dien. Diere met prulfoute behoort eerste bemark te word, gevolg deur ou diere. Daarna kan die aanteelkudde in 'n eerste, tweede en derde kudde verdeel word en indien nodig kan die derde kudde (swakste genetiese materiaal) eerste verkoop word, sodat die beste genetiese materiaal behou word.

Die oorblywende diere moet op die goedkoopste wyse in produksie gehou word om deurlopende inkomste te verseker. Die beste manier om produksie te bestuur is om die kondisie van die diere te manipuleer. Op 'n skaal van 1 tot 5, waar 1 = maer en 5 = oorvet, behoort droë diere 'n kondisiepunt van 1 te handhaaf. 'n Duimreël wat hier gevolg kan word, is dat die diere met 'n aanvangskondisiepunt van 3 'n maksimum van 25% van hul massa mag verloor. Vir volwasse ooie van 55 kg en koeie van 500 kg, is die minimum lewendige liggaamsmasse wat dus gehandhaaf moet word tydens die droë periode onderskeidelik 41 kg en 375 kg.

Indien die diere toegelaat word om meer massa te verloor, sal reproduksie en moontlik ook voerinname totaal staak en kan die diere dus vrek. Die koste om sulke diere weer in produksie te kry is ook so hoog dat dit nie die moeite werd is om dit te doen nie. Droë diere behoort te oorleef deur droogtevoeding een maal per week te voorsien. Dit sal inname van onsmaaklike en beperkte weiding stimuleer. Voorkom egter oorbenutting van die weiding, omdat dit gronderosie sal bevorder.

Diere in produksie

Vir diere wat in 'n produksiestaat verkeer (paartyd, laatdragtigheid en laktasie) behoort 'n kondisiepunt van 2-3 gehandhaaf te word (+/- 48kg vir ooie en 435 kg vir koeie, met volwasse massas van onderskeidelik 55 kg en 500 kg in goeie kondisie). Dit beteken egter nie dat die diere vir 12 maande van die jaar in hierdie kondisie moet wees nie. Maak gebruik van prikkelvoeding vanaf 3 weke voor paring om die diere van 'n kondisietelling van 1 na >2 te verbeter. Dit sal ovulasie stimuleer (hittesiklus = 17 tot 21 dae) en dus besetting verbeter. Manlike diere se kondisie behoort egter vanaf 8 weke voor paring verbeter te word, omdat spermatogenese (spermproduksie) langer neem om voltooi te word. Hou vol met die prikkelrantsoen tydens paring omdat die embrio baie sensitief is vir strestoestande in die vroeë stadium en voedingstres moontlike embrio-resorbsie kan induseer. Voorsien die droogtevoeding twee maal per week aan hierdie diere.

Gedurende vroeë- en middragtigheid ontwikkel die plasenta en behoort die diere se liggaamsmassa normaalweg matig te styg. Tydens droogtes behoort dit egter voldoende te wees om liggaamsmassa en 'n kondisietelling van 2 slegs te handhaaf deur droogtevoeding twee maal per week te voorsien.

In laatdragtigheid (die laaste derde van die dragtigheidperiode, direk voor lam of kalwing) vind ongeveer 80% van fetusgroei plaas. Dit is ook gedurende hierdie stadium dat uierontwikkeling plaasvind en voeding tydens laatdragtigheid het dus 'n direkte invloed op geboortemassa, lam- of kalfoorlewing, en melkproduksie.

Dit blyk ook dat voedingstatus gedurende laatdragtigheid 'n invloed het op die voorkoms van dik en taai bies by ooie, wat die pasgebore lam nie uit die speen gesuig kry nie. Dit sou dus sinneloos wees om geld te spandeer om diere dragtig te kry en dan gedurende laatdragtigheid u potensiële inkomste te verlaag deur die diere aan voedingstres te onderwerp.

Die voedingsbehoeftes van lakterende diere is die hoogste wat dit ooit in die totale produksiesiklus van die dier sal wees. Vroulike diere wat lammers of kalwers soog behoort dus toegang tot voldoende voeding te hê, sodat melkproduksie optimaal kan plaasvind. Dit is tog logies dat die groei van die lam of kalf direk gekoppel is aan die vermoë van die moeder om melk te produseer.

Ooie bereik piek melkproduksie op ongeveer 3 weke na lam en vleisras-koeie op sowat 6 weke na kalwing. Poog om deur middel van goeie voeding na lam of kalwing die piek melkproduksie te verhoog, sodat die nageslag goed groei in die baie jong stadium en vroeër gespeen kan word. Droogtevoeding gedurende laatdragtigheid en vroeë laktasie behoort minstens drie maal per week verskaf te word.

Die voeromsetverhouding (kg voer benodig vir 1 kg lewendige massatoename) van jong diere is aansienlik beter as vir ouer diere. Met geboorte benodig die jong dier ongeveer 1 kg melk vir elke 1 kg liggaamsmassa-toename, terwyl dit by ou diere tot soveel as 10 kg voer vir 1 kg lewendige massatoename kan wees. Dit maak dus sin om die jong diere vroeër te speen en van goeie voeding te voorsien, omdat hulle dit meer doeltreffend benut. Die vroulike diere kan dan vroeër op 'n goedkoper onderhoudsrantsoen geplaas word, en liggaamskondisie kan daarna afwaarts bestuur word tot 'n minimum kondisiepunt van 1, totdat die volgende prikkelperiode voor paring aanbreek.

Lammers kan suksesvol op 8 weke ouderdom met 'n minimum lewende massa van 15 kg gespeen word. Alhoewel dit moontlik is om ligter lammers suksesvol te speen, is die risiko van vrektes in sulke gevalle aansienlik hoër. Kalwers kan onder praktiese toestande teen 5 maande oud gespeen word.

Vroeër eerder as later

Dit is goedkoper om vroeër eerder as later met aanvullende voeding te begin, en dan oor te skakel na droogtevoeding sodra die beskikbare ruvoer baie beperk word. Aanvang van aanvullende voeding kan nie later uitgestel word as wanneer die diere wat in 'n matige kondisie was (kondisietelling 2 - 3), 10% van hulle liggaamsmassa verloor het nie.

'n Droogte bly op sy beste 'n baie onaangename ervaring. Om egter die minste skade te ly is dit nodig dat u van bogemelde riglyne gebruik sal maak en sodoende die droogte te gebruik om van minder produktiewe diere ontslae te raak en goeie genetiese materiaal te behou vir toekomstige teling.

*Bron: www.meadowfeeds.co.za

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!