Goeie lewe as vuurtoringwagter

Silvia Wepener is gelukkig op Lüderitz met haar blomme, tuin en vyf katte. Soms verlang sy na Oostenryk se berge en woude, maar dié kusdorp is nou haar tuiste.
Tanja Bause
Tanja Bause



Silvia Wepener was een van drie vroue wat op dieselfde tyd die vuurtoringwagters by Diaz Punt op Lüderitz was. Sy het ook vir sewe jaar voëls op twee eilande getel en opgepas.

Silvia is nie 'n Namibiër nie, maar 'n jaar in Afrika was genoeg om haar te oortuig dat sy hier behoort. Sy is in Oostenryk gebore waar sy ná skool 'n kleuterskoolonderwyseres was.

“Ek het nog altyd van reis gehou en so het ek deur 'n vriend in Johannesburg beland. Ek was egter ongelukkig daar omdat ek glad nie armoede geken het nie en dit het my oorweldig.

“Ná 'n jaar in Johannesburg is ek terug Oostenryk toe. Oostenryk was ongelukkig ook nie meer vir my nie en 'n jaar later het ek verskriklike heimwee na Afrika gekry. Ek is in 1981 terug Kaapstad toe en behalwe vir kort vakansies het ek nie weer teruggekyk nie.”

In Kaapstad het sy haar eksman ontmoet wat besig was om 'n ou vissersboot te koop.

“Ek het saam met hom met die boot tot op Port Nolloth gevaar. Hy het vir diamante geduik en ek het hulle gesorteer. Vyf jaar later het die diamantbedryf op Lüderitz begin en ons is soontoe. Dit is aan die einde van die wêreld, maar ek is tot vandag toe nog gelukkig.”



Vuurtoringwagter

Silvia se vriendin, Carla Jooste, was 'n vuurtoringwagter en Silvia wou haar man verlaat. Silvia het toe vir die werk aansoek gedoen en in 1990 het sy Diaz Punt toe getrek.

“Dit was wonderlik. Toe het die goeie lewe begin.”

In 'n stadium was Carla, Silvia en Ortrud Clay die drie vuurtoringwagters.

“Dit was harde werk, veral die skofte. Die skofte was vanaf 06:00 tot 14:00, 14:00 tot 22:00 en vanaf 22:00 tot 06:00. Elke drie weke was een af en jy moes 12 uur aaneen werk vir die hele naweek, maar dit was ook goeie tye. Die vryheid wat ons gehad het, was ongelooflik. Ons almal het honde gehad en het myle ver, amper tot in Lüderitz, met hulle gaan stap. Dit was 'n goeie lewe en ek was nooit eensaam nie.”

Daar was geen toeriste of ander mens in daardie jare op Diaz Punt nie en dikwels was dié drie vroue heeltemal alleen, iets wat hulle nie juis gepla het nie. Silvia het naaldwerk gedoen en Carla het graag gelees. Hulle het hulself besig gehou of met sonopkoms partytjies op die strand gehou nadat hul skof geëindig het.

“Ons het die kreefnette ingegooi, een sigaret gerook en die net weer ingetrek. Dan het jy vir die kreef gekyk en besluit hoeveel jy wil eet en die res teruggegooi. So het ons ook vars mossels gepluk.”

Van die verantwoordelikhede van 'n vuurtoringwagter is om elke maand die vuurtoring se vensters te was, drie keer op 'n dag die data by die weerstasie op te skryf en bote moet per radio by hulle aan- en afmeld omdat daar nog geen hawekontrole was nie.

“Die matrose was altyd opgewonde om die vrouestemme vanuit die toring te hoor, veral as hulle lank op see was.

“Een van hulle wou ons graag ontmoet en ons het 'n prentjie wat by sy stem gepas het, in ons kop gevorm. Toe ons hom ontmoet, was dit so 'n klein ronde mannetjie. Ons het nooit weer beelde by stemme gesit nie.”



Eilandbewoner

Nadat sy vir 'n jaar lank op Diaz Punt gewerk het, het sy 'n ruk lank Windhoek toe getrek en daar as kleremaker gewerk.

“Ek het 'n goeie inkomste verdien, maar ek was ongelukkig in die groot stad. Hulle het my gevra of ek nie weer by die vuurtoring wil uithelp nie, as 'n aflosvuurtoringwagter. Ek het onmiddellik ingestem en vir die volgende 12 jaar het ek op twee van die eilande gewoon en was aflosvuurtoringwagter op Diaz Punt.”

Silvia het vir vier jaar op Ichaboe- en agt jaar op Possession-eiland data ingesamel.

“Ek het die verskillende voëls getel, rekord van walvisse en dolfyne gehou en die eiland opgepas. Ek het ook ma gespeel vir talle voëls wat rehabilitasie benodig het.”

Sy het op Ichaboe-eiland 'n seemeeu se nes ontdek met een eier in. Die dop was al gekraak en die voëltjie wou uitbroei.

“Ek het 'n skouerbroek met 'n sak voor aangehad en die voëltjie daarin gesit. Hy het in dié sak groot geword. Ek het hom Mintch genoem en hy was baie stout. Hy het op my skouer gesit wanneer ek mossels gaan pluk het.

“Een dag toe ek weer by Diaz Punt gaan aflos, hoor ek net 'tweet, tweet, tweet'; Mintch het my vanaf Ichaboe gevolg. Hy het presies geweet waar ek is en saam met my gebly totdat ek weer terug Ichaboe toe is.”

Hulle was gewoonlik drie mense op die eiland – 'n werker, 'n tegniese assistent (Silvia) en 'n tegnikus.

“Jy was baie alleen op die eiland, veral wanneer iemand met vakansie was. Dit was ongelooflik; dit het gevoel asof die hele wêreld aan jou behoort. In daardie jare het die boot elke ses maande gekom om vars water en kos af te laai. Ná onafhanklikheid (1990) het dit elke maand geword.”

Daar was geen krag nie; net 'n kragopwekker.

“Ek het myself bederf en by DStv aangesluit. Ek het vars brood gebak en dit by die diamantduikers vir 'n kannetjie diesel geruil sodat ek weer kon TV kyk.”



Lüderitz

Ná sewe jaar wat sy op die eiland gewoon het, het Silvia terug Lüderitz toe getrek.

“Ek het gedink dit is tyd dat ek weer by mense uitkom en het by die Bay View Hotel as drank- en spyseniersbestuurder begin werk. Dit was egter nie baie lekker nie en ek het net ses maande daar gewerk.”

Sy was 'n jaar lank werkloos voordat sy die bloemistewinkel op die dorp gekoop en tot November laas jaar besit het.

“Ek het die bloemistewinkel vir 13 jaar besit, maar dit was nie meer lonend nie. Ek kry nog steeds vars blomme elke week, maar ek maak die rangskikkings en ruikers by my huis. Ek het ook 'n tuin begin en verkoop my eie selfgekweekte blomme.”

Sy maak ook handsakke en kettings om 'n ekstra inkomste te verdien én om besig te bly.

“Ek is gelukkig met my blomme, tuin en my vyf katte hier in my dorp en ja, soms verlang ek na Oostenryk se berge en woude, maar Lüderitz is nou my tuiste.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!