Goeie nuus is ook slegte nuus
Goeie nuus is ook slegte nuus

Goeie nuus is ook slegte nuus

[email protected]
Iréne-Mari van der Walt
Irene-Mari van der Walt – Namibië, ek is bang. Hoe meer goeie nuus ek oor Covid-19 hoor, hoe meer en meer angsbevange raak ek.

Sommige van ons verpes tog so vir oom Hage, want hy kerm en kla mos alewig oor maskers en inentings – en laat goeie ou dok Shangula nou nie ’n spreekbeurt kry nie, dan is ons éérs die herrie in.

Ons is tog so verlig dat Omicron nou nie so dodelik soos Delta is nie, want nou kan ons vir oom Hage en dok Shangula sê hulle moet hulle maskers maar los waar hulle dit gekry het.

Waaroor sal ons dan nou bekommerd wees as die toekoms (vir nou) so blink lyk?

Die probleem bly variante. Omicron is wel ’n swakker variant van Covid-19 en ek glo dis te danke aan die reeds bestaande vlak van inenting, maar as ons nou net links en regs vir mekaar Omicron uitdeel, gaan ons opnuut ’n variant kweek – en hierdie keer dalk ’n sterker een. Teoreties en prakties is elke nuwe positiewe geval immers ’n kweekhuis vir ’n nuwe variant om te ontwikkel.

Toe ons spogatleet Christine Mboma by die Olimpiese Spele gejaag het vir glorie het sy nie in die laaste 20 meter ontspan nie. Sy het voluit gehardloop tot sy haar naam in die geskiedenis vasgepen het.

Ons is in die laaste klompie meters van die wedloop en as ons regtig wil, kan ons binnekort met ons sprankelende wen spog. As ons nou net vasbyt en maar nog steeds die ekstra maskertjie in die handsak pak, kan ons vir Covid wys waar Dawid die wortels begrawe het en die siekte stuur na waar masels en ander uitgewiste siektes hulle bevind.

Ons is sterker as Covid-19, maar net as ons nou ons oorlogtaktiek agter mekaar kry.

Hoor my lied, as soveel as een van julle terughang terwyl die res van die vegters voortbeur, kom trek ek jou aan jou oor soos jou ma met jou gemaak het.

Eintlik dink ek ons moet dié wat agter staan maar daar agter los. As jy nie wil saambeweeg na ’n gelukkige en gesonde Namibië nie, dan bly jy maar agter in die sieklike ou Namibië waarin jy skynbaar so gemaklik is.

Niemand gaan soebat nie. As jy nie wil hoor nie, moet jy voel. Ek is moeg. Ons is almal doodmoeg. Gee ons tog net hierdie kans om te wen.

So graag soos ek wil hê ons moet almal ingeënt wees, is dit nie nodig nie. As ons net die moeite kan maak om ons siektes vir onsself te hou, is ons al kilometers verder as wat ons was.

Hulle sê jou uitrusting sê baie oor jou en elke Namibiër wat nou tussen mense ronddwaal sonder ’n masker, sê dan sonder ’n druppel skaamte vir die res van ons dat hulle nie ’n duit omgee vir ons of ons land nie. Elke liewe negatiewe kommentaar op Hage se uitsendings is nou die versinnebeelding van verraad.

Wees net vir hierdie laaste klompie meters nog sterk. Die beloning wag oor die wenstreep.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!