Goeie nuus met gemengde gevoelens begroet

Die goewerneur van die Erongostreek het die Otweya-gemeenskap op hoogte gebring oor die vordering van die behuisings­projek.
Yandi Du Plessis
Erongo-redaksie op Kuisebmond



Die goewerneur van die Erongostreek, mnr. Neville Andre, het die gemeenskap meegedeel dat die konstruksie van 121 huise vir voormalige inwoners van die informele nedersetting Twalaloka, wie se huise verlede jaar afgebrand het, sal begin nadat die diensproses volgende week afgehandel is.

Hy het verduidelik die Otweya-projek word deur 'n komitee in die kantoor van die eerste minister bestuur en gesê weens beperkte hulpbronne sal geen tenderproses gevolg word nie.



'EFFEKTIEF BEWYS'

“Ons sal van 'n model gebruik maak wat behels dat die begunstigdes as arbeiders 'n aktiewe rol in die konstruksieproses speel. Hulle sal loopgrawe maak en die fisiese bouwerk behartig.”

Dié model word deur die Shack Dwellers Federation of Namibia (SDFN) gebruik, wat binne twee weke reeds 19 huise in die omgewing gebou het.

Andre het gesê die konstruksie van die 121 huise sal so vinnig as moontlik afgehandel word.

“Die SDFN se model is effektief en hulle het binne net drie weke 70 huise in die Kunenestreek gebou. Hulle proses is vinniger en goedkoper en die huise word volgens munisipale standaarde opgerig. Ons wil hê die huise moet binne die volgende twee weke voltooi word.”

Ervare lede van die SDFN sal ook met die bouproses help. Ses lede moet aangewys word om elke gesin te help met die bou van hul huise.



PAD VORENTOE

Die goewerneur het Otweya-inwoners ook gelas om die sertifikate wat verlede jaar vir erwe uitgereik is na die munisipaliteit te neem sodat die registrasie vir watermeterverbindings gedoen kan word.

“Neem die sertifikaat na die kliëntedienssentrum sodat die nommer daarop geneem kan word. 'n Bedrag van N$4 000 sal vir hierdie proses vereis word en die munisipaliteit het ingestem die bedrag kan óf oor 12 maande óf dadelik betaal word. Die volgende twee weke sal gebruik word vir die registrasie van watermeters. Dan sal die bouproses in fases begin.”

Die goewerneur het benadruk die toekomstige inwoners van die huise sal verantwoordelik vir die betaling van tariewe en belasting wees nadat die bouproses voltooi is.



TIPE HUISE

Die huise wat gebou moet word, sal dieselfde wees as die 19 wat deur die SDFN opgerig is.

Dit sal 'n oopplanhuis wees met 'n kamer en 'n badkamer met 'n toilet en stort wat op 'n erf van 300 vierkante meter gebou is. Dit sal een laag verf hê en die inwoners sal hul eiendomme self moet omhein.

Die huise sal toegerus word met lae stroomspanning-elektrisiteit met die kapasiteit vir ligte, kombuisgereedskap en 'n TV. Dit sal voorsiening maak vir 'n klein huishouding en nie vir 'n groot gesin nie.



G'n PLAKKERSHUTTE

Die goewerneur het inwoners ook aangemoedig om geen plakkershutte by hul huise aan te bring nie.

“Laat ons nie ekstra druk op die beskikbare elektrisiteitstoevoer plaas en dit in gedrang stel nie,” het hy gesê en inwoners gevra vir hul samewerking om te verseker dat alle huise teen einde Maart voltooi is.

“Ek vra dringend vir eenheid en samewerking. Kom ons werk saam om te verseker dat die begunstigdes 'n ordentlike blyplek het. Die tente sal deur die munisipaliteit verwyder word as huise voltooi word en mense intrek.”



GEMEENSKAPSPROBLEME

Mnr. Afraim Nanghama, 'n gemeen­skapsaktivis, het gesê lede van die gemeenskap het besluit om die toekenning van die huise te ondersoek.

Hy het ook sy ontevredenheid uitgespreek oor die grootte van die badkamers van die huise wat deur die SDFN gebou word.

“Die badkamers is nie 'n ordentlike grootte nie. 'n Wasmasjien kan nie eens daarin pas nie. Die raad moet onthou ons is nie arm nie en dat hulle ons nie 'n guns bewys nie. Ons betaal.”

Andre het benadruk dat die begroting toelaat vir die bou van 121 huise.

“Dit is 'n noodgeval, nie 'n kwessie van luuksheid nie. Aanvaar asseblief hierdie klein bydrae, want ons kan nie herehuise bou nie.”

'n Lid van die Otweya-inwonerskomitee, me. Jolokeni Johannes, het duidelikheid gevra oor die aantal persone op die toekenningslys.

“Ons was aanvanklik 153 persone en agt persone wat reeds huise ontvang het. Daar is nou 145 mense oor en julle bou net 121 huise?”

Die goewerneur het verduidelik dat die SDFN 32 name van die lys verwyder het, aangesien hierdie persone deel is van die groep wat baat vind by die behuisingsprojek wat deur Standard Bank geborg word.

“Die eerste 19 huise is voltooi en 13 moet nog voltooi word. Die lys van begunstigdes sal nagegaan word. Werklike slagoffers moet hieruit baat. Diegene wat nie aan kriteria voldoen nie, sal van die lys verwyder word.”



RUIMTE VIR UITBREIDING

Mnr. Raymond Pietersen van die ministerie van werke en vervoer het verduidelik wanneer die konstruksie van die 121 huise voltooi is, sal die volledige plan vir huiseienaars by die munisipaliteit beskikbaar wees.

“Dit sal wys dat planne vir 'n drieslaapkamerhuis reeds goedgekeur is. Dit beteken huise kan uitgebrei word en dat eienaars glad nie 'n landmeter nodig het om dit te doen nie.”



TEVREDE BURGEMEESTER

Die burgemeester van Walvisbaai, mnr. Trevino Forbes, het die regering en die span verantwoordelik vir die vordering van die konstruksie, geprys en gesê die projek is 'n uitstekende voorbeeld van dít wat met samewerking bereik kan word.

Kommentaar

Republikein 2025-01-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 25° Rundu: 20° | 28° Eenhana: 22° | 30° Oshakati: 22° | 27° Ruacana: 18° | 30° Tsumeb: 20° | 24° Otjiwarongo: 17° | 27° Omaruru: 19° | 30° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 19° | 29° Henties Bay: 17° | 18° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 21° Rehoboth: 19° | 30° Mariental: 19° | 33° Keetmanshoop: 16° | 32° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 13° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 27° Lubumbashi: 16° | 18° Mbabane: 19° | 21° Maseru: 17° | 26° Antananarivo: 15° | 31° Lilongwe: 18° | 20° Maputo: 24° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 17° | 21° Durban: 21° | 22° Johannesburg: 17° | 20° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 19° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!