Goeie nuus vir gay egpaar
Goeie nuus vir gay egpaar

Goeie nuus vir gay egpaar

Ná twee weke se trauma is ’n Namibiese gesin gister herenig.
Denver Kisting
Denver Kisting – Twee weke nadat dr. Eduardo Guillermo Delgado Castañeda uit die land geskop is sonder dat hy sy man, mnr. Phillip Lühl, en hul 10 maande oue seuntjie, Yona, kon groet, is die gesin gistermiddag herenig.

Delgado Castañeda is ’n Mexikaan en Lühl ’n Namibiër.

Die gesin se ontbering het op Woensdag 7 Januarie begin toe Delgado Castañeda en sy suster, me. Maria Delgado Castañeda, wat uit Mexiko op besoek was, ’n dagreis na die Victoriavalle wou onderneem.

’n Immigrasiebeampte by die Ngoma-grens naby Katima Mulilo in die Zambezistreek het hulle volgens hofdokumente meegedeel omdat Maria net oor ’n enkeltoegangvisum beskik het, sou sy nie mag terugkeer Namibië toe indien hulle die grens sou oorsteek nie.

Die sibbes het gevolglik besluit om die voorgenome reis te kanselleer en het dié beampte, mnr. Josef Simataa, versoek om hul reisdokumente aan hulle terug te gee.

Delgado Castañeda sê Simataa het deur sy dokumente gegaan en ontdek hy en Lühl is albei mans en in ’n selfdegeslagverhouding.

Volgens Delgado Castañeda se beëdigde verklaring het Simataa toe gevra dat hulle wag dat hy met hul hoofkantoor skakel om vas te stel of Delgado Castañeda se dokumente geldig is.

Hulle moes toe sowat ’n uur wag waarná Simataa teruggekeer het met die nuus dat die immigrasiehoof, mnr. Nehemia Nghishekwa, gesê het Delgado Castañeda se aansoek om hernuwing van sy domisilie het misluk.

Delgado Castañeda sê hulle het vir bewyse hiervoor gevra, maar Simataa het glo aangevoer sy woord is voldoende.

“Hy het albei paspoorte gestempel en het ons daardeur effektief teen ons sin uit die land geskop.”

Daar het dadels gekom van pogings om Simataa tot ander oortuigings te bring, sê Delgado Castañeda.

Uiteindelik, lui die hofstukke, het Simataa ingestem dat Maria in die land mag bly.

“Hy het geweier om dieselfde vir my te doen. Hy het aangevoer geeneen van die dokumente in my besit was geldig om in die land te mag wees nie en het gedreig dat sou ek terugkeer na die land, inhegtenisneming my in die gesig sou staar, wat selfs erger sou wees.”

Hy het toe via Botswana na Suid-Afrika gereis vanwaar hy die dringende hofsaansoek gebring het.

“Ek wil uitwys dat ek net in staat was om in Suid-Afrika uit te kom, omdat Botswana geen visumvereistes vir Mexikaanse burgers het nie. Sou dit anders gewees het, sou ek in niemandsland gestrand gewees het – nie in staat om ‘terug te keer’ Namibië toe nie of om Botswana binne te gaan nie.”

Delgado Castañeda kon vanweë die voorval nog nie sy werkverpligtinge vir Januarie nakom nie.

Die egpaar woon reeds sedert Julie 2011 in Namibië nadat hulle albei hul meestersgrade in Nederland verwerf het.

In daardie stadium was hulle al ongeveer twee en ’n half jaar ’n paartjie, lui die hofstukke.

Albei is verbonde aan die argitektuurdepartement van die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust).

Hulle is luidens die hofstukke op 19 Desember 2014 op Upington in die Noord-Kaap in Suid-Afrika getroud. Hul seuntjie is op 6 Maart verlede jaar met behulp van ’n surrogaatma in Durban in dieselfde land gebore.

Die egpaar sê by monde van hul prokureur, me. Uno Katjipuka-Sibolile, ’n aanvanklike verwysing op hul volledige huweliksertifikaat na Delgado Castañeda as Phillip se vrou was ’n oorsig van die Suid-Afrikaanse owerhede.

Al hul korrespondensie toon duidelik hulle is albei mans, sê hulle. Hulle ontken dat hulle in enige stadium hieroor gelieg het.

Nghishekwa sê sy in sy antwoordende verklaring Delgado Castañeda se name kan as gemeenslagtig beskou word.

Hy sê voorts die paartjie het hulle voortydig tot die hof gewend voor hul ander regsmiddels ontgin het, byvoorbeeld om aansoek om ’n werkspermit te doen.

Delgado Castañeda en Lühl hou egter vol sy domisilie is in Namibië.

Boonop, sê hulle, het hulle ’n universele vennootskap gesluit wat Namibië se gemenereg behoort te erken.

Die ministerie van binnelandse sake en Nghishekwa is deur me. Wensie Uakuramenua verteenwoordig.

Waarnemende regter Orben Sibeya het gelas Delgado Castañeda mag onmiddellik na Namibië terugkeer.

Hy het die saak tot 6 Februarie vanjaar uitgestel vir die weg vorentoe om bepaal te word.

Delgado Castañeda het gistermiddag omstreeks 15:00 by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako geland.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer