• Tuisblad
  • Sake
  • Goeie nuus vir geduldige Media24-aandeelhouers
Goeie nuus vir geduldige Media24-aandeelhouers
Goeie nuus vir geduldige Media24-aandeelhouers

Goeie nuus vir geduldige Media24-aandeelhouers

Na elf jaar se wag vir positiewe nuus sal aandeelhouers in Media24 se bemagtigingsaandeleskema nou die vrugte begin pluk.
Aandeelhouers in Welkom Yizani, Media24 se bemagtigingsaandeleskema, het Maandag die goeie nuus gekry dat hulle teen einde September 'n spesiale dividend van minstens R14,79 per aandeel sal ontvang.

Die dividend word betaal uit die kontant wat Media24 gaan ontvang uit die verkoop van sy meerderheidsbelang in die genoteerde drukkery Novus Holdings.

Novus gaan met Naspers saamsmelt. Media24 gaan voortaan 'n belang van 19% in Novus hou.

Welkom Yizani-aandeelhouers het in 2006 Media24-aandele teen R50 per aandeel ontvang, waarvan hulle R10 moes betaal.

Die afgelope jare was aandeelhouers teleurgesteld met die dividendopbrengs, wat oor die 11 jaar altesame net R3,71 per aandeel beloop het.

Die netto batewaarde van Media24 se Welkom Yizani-aandele is op die oomblik nagenoeg R27,48 per aandeel, is op die jaarvergadering gesê, maar die aandeel verhandel teen sowat R11,25. Welkom Yizani se nagenoeg 90 000 aandeelhouers besit 'n belang van 15% in Media24.

Cindy Hess, Media24 se finansiële hoof, het Maandag op die maatskappy se jaarvergadering gesê sy besef “verwagtinge was hoër” vir dividende, maar die bestuur “werk hard om waarde te skep”.

Toe die Welkom Yizani-aandele uitgereik is, was Media24 'n maatskappy waarvan die wins nog in dubbelsyfers gegroei het, maar die drukmediabedryf het sedertdien onder enorme druk gekom.

Vir eers bly Media24 die grootste drukmediamaatskappy in die land, terwyl dit ook die grootste digitale-mediamaatskappy en e-handelmaat­skappy is. Die maatskappy se produkte bereik 52% van die Suid-Afrikaanse bevolking; 72% van volwassenes.

“Ons werk ongelooflik hard om 'n volhoubare maatskappy vir die toekoms te skep,” sê Esmaré Weideman, groep- uitvoerende hoof van Media24.

Sy sê Media24 het al 20 jaar gelede in digitale tegnologie begin belê. Dit bly egter nodig om aan te hou belê en Weideman wou in antwoord op 'n vraag nie voorspel wanneer die afdeling vir digitale nuus winsgewend gaan wees nie.

Hess het Welkom Yizani-aandeelhouers gewaarsku om nie ooroptimisties te wees oor dividende nie. Drie faktore gaan die maatskappy se wins onder druk hou: die ontknoping van Novus (wat in die 2017-boekjaar 38% van die maatskappy se inkomste verteenwoordig het); die dalende inkomste uit die drukmedia; en die voortgesette investering in digitale media.

Intussen is dit ook onseker hoe Welkom Yizani-aandele in die toekoms verhandel gaan word.
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!